Fenotipiese data stééds belangrik
Die era van genomika beteken nie die einde van die versameling van fenotipiese data nie. Inteendeel, die akkuraatheid van genomiese teelwaardes hang steeds af van die insameling van akkurate fenotipiese data.
Genomika is nie ’n wonderkuur wat ’n oplossing vir alle probleme bied nie.
Telers moet steeds fenotipiese data insamel, veral van die moeilik meetbare eienskappe, soos vrugbaarheid (akkurate dae tot kalftyd en die duur van dragtigheid), vleisgehalte (skandering en laboratoriumtoetse op vleismonsters), doeltreffendheid van voerverbruik (netto voerinname) en eienskappe wat nog nie gemeet word nie, soos gehardheid en aanpasbaarheid, sê mnr. Jacque Els, bestuurder van die Namibiese Stoettelersvereniging (NSV). Els is ook die tegniese raadgewer van die Namibiese Brahman-beestelersgenootskap wat aan die Suider-Afrikaanse vleisbeesgenomikaprojek (VGP) deelneem.
Die telers stuur al hul geboorteregistrasies na hom, asook prestasiedata, soos diere se gewig, skanderings
vir vleis- en karkaseienskappe, metings van heuphoogte en skrotumomtrek, en aan die einde van die kalftyd die koeie se besonderhede van dae tot kalftyd.
Els laai dit in die Breedplan-stelsel en een keer per week word die data na die Landbounavorsingsraad (LNR) in Suid-Afrika gestuur. Hy is sedert die stigting van die VGP in 2012 betrokke en werk sedert Maart 2010 by die NSV. Voorheen was hy 23 jaar lank ’n grootvee-navorser by die Namibiese ministerie van landbou en later die hoofnavorser.
UITSTEKENDE EIENSKAPPE
Els sê dit skemer reeds deur dat sommige Namibiese Brahmanbulle nageslag met puik vleiseienskappe teel.
“Die VGP wys dus reeds sy waarde vir telers deur die wetenskaplike identifikasie van bulle wat nageslag met besonderse vleisgehalte sal teel.”
Die afgelope dekade is vinnig vordering gemaak, nie net met hoeveel data versamel word nie, maar ook die aantal eienskappe waarvoor data versamel word en waarvoor vandag beraamde teelwaardes beskikbaar is.
“Die dae is verby dat slegs ouerskap en gewig met geboorte, met speentyd, op 400 dae, op 600 dae en van volwasse koeie gemeet is. Vandag word ultrasoniese skandering by lewende diere tussen 300 dae en 700 dae gedoen om karkaseienskappe te bepaal. Skrotumomtrek, dae tot kalftyd, die duur van dragtigheid en temperament word ook gemeet,” sê Els.
Die Namibiese Brahman-beestelersgenootskap (NBBS) streef reeds die afgelope dekade daarna om die aantal telers wat aan prestasie-aantekeninge deelneem, jaarliks te verhoog. Sowat 83% van die telers wat saam 95% van die geregistreerde Brahmane besit,
neem reeds deel. Die meeste van hulle het al toekennings van 1,5 tot 2 sterre (uit 5) in Breedplan se projek vir die volledigheid van aantekeninge gekry. Die genootskap mik egter na ’n minimum van gemiddelde stertoekennings van 3 tot 3,5. Ses telers het al toekennings van 4 sterre, drie het 4,5 sterre en vier het 5 sterre ontvang.
EKONOMIESE INDEKSE
Die NBBS het ’n leidende rol gespeel in die daarstelling van ekonomiese seleksie-indekse vir die Brahmanras. Die ekstensiewe weidingindekse is in 2013 bekend gestel en in 2014 het die speen- en voerkraalindeks gevolg.
Die NBBS het in 2015 ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Suider-Afrikaanse Brahman-rasverbeteringsforum en die Internasionale Brahman-rasverbeteringsforum.
Verlede jaar is die eerste internasionale Brahman-teelwaarde-evaluasie, waarby Suid-Afrika en Namibië onder meer betrokke was, beskikbaar gestel.
Die Brahman-ras is nou byna in die stadium waar genomiese beraamde teelwaardes bekend gestel kan word en ’n enkelstap-ontleding kan volg waar ’n dier se stamboom-, prestasieen genomiese inligting in een stap gebruik sal word om ’n genomiese beraamde teelwaarde te bereken.
In Julie verlede jaar is die eerste beraamde teelwaardes vir dae tot kalftyd en temperament bekend gestel. Hierdie vordering was net moontlik danksy die volgehoue, akkurate insameling van data.
VGP SE ONTSTAAN
Die VGP het in 2012 op ’n vergadering by die Landbounavorsingsraad in Pretoria ontstaan. Die Namibiese Brahmangenootskap het van die begin af besluit om met die samewerking van die Suid-Afrikaanse genootskap ook aan die projek deel te neem.
Fase 1 van die projek het in April 2015 begin en op 31 Maart vanjaar geëindig. Daartydens is 512 bulle van lede van die Namibiese Brahmangenootskap aan genotipering onderwerp, 472 bulle is vir netto voerinname geëvalueer en 66 monsters is ingedien vir die meet van vleisgehalte.
Els sê dit is nog moeilik om die projek se impak te meet. Daar is egter ’n groot verbetering in die akkuraatheid van die teelwaardes van bulle wat as koppelbulle (Namibiese bulle wat uitgeruil, verkoop en gebruik word tussen die VGP-kuddes) in die projek gebruik word.
“Die belangrikheid van vleiseienskappe het beslis veroorsaak dat stoettelers ernstiger na teelwaardes van karkaseienskappe by die koop van nuwe teelbulle kyk. Bulle met goeie teelwaardes én goeie karkaseienskapteelwaardes uit kuddes waar groot klem op seleksie vir karkaseienskappe gelê word, het die afgelope jare goeie pryse behaal,” sê Els.