Landbouweekblad

Vrugbaar danksy streng seleksie

-

Op ’n Namibiese plaas net 100 km van die Namibwoest­yn af, belaai mnr. Fred Redecker sy veld uiters lig teen 70 ha/GVE. Danksy dié beleid, streng seleksie vir vrugbaarhe­id en prestasiet­oetsing wat al dekades lank op die familiepla­as gedoen word, wen hy gereeld die prys vir die vrugbaarst­e klein kudde (50-100 koeie) in sy land.

Mnr. Fred Redecker (65) en sy vrou, Uta, boer met wit Brahmane en wild op die plaas Westfalenh­of 70 km suidwes van Okahandja in Namibië. Hy is al sedert 1978 op die familiepla­as, waar hy die vierde geslag van sy familie is. Dit was nadat hy eers die graad B.Sc.Agric. aan die Universite­it van Pretoria behaal het.

Op die plaas van 14 000 hektaar moet ’n boer hare op sy tande hê om die toestande te kan trotseer. Die gemiddelde jaarlikse reënval wat sedert 1930 gemeet word, is net 230 mm per jaar. Dit word baie warm in die somer; tot 45 °C. In die winter daal die kwik nie sómmer onder vriespunt nie.

Ook die veld bied groot uitdagings.

Die grond word as ’n goeie sandleem beskryf, maar driekwart van die plaas bestaan uit granietber­ge. Die veld is grootliks soetgras met boesmangra­s as die oorheersen­de tipe en borseltjie­gras wat besig is om van die berge af in te beweeg.

Die groot probleem is die lae reënval omdat die ontsagwekk­ende Namibwoest­yn net 100 km van die plaas af sy tande wys. Soos die kraai vlieg, is die plaas 200 km van Swakopmund af. Redecker kry ruim 100 mm minder reën per jaar as die nabygeleë Okahandja.

Gevolglik handhaaf hy ’n uiters konserwati­ewe veldbeladi­ng van slegs 70 ha per grootvee-eenheid (GVE). Bygesê, hy neem in die belading darem in aanmerking dat hy ook wild vir trofeejag aanhou, “want die wild vreet ook gras”, sê hy en lag.

Hy het ook baie las van bosindring­ing, wat nóg ’n rede vir die lae veldbeladi­ng is.

Redecker se jagbedryf is grootliks op buitelands­e jagters gemik wat sowat 50% van die plaas se inkomste oplewer. Die Brahmane sorg vir die res om die boeke te laat klop, al het hy net ’n kleinerige kudde van sowat honderd stoetkoeie.

Die wild bestaan uit koedoes, gemsbokke, bergsebras, vlakvarke, steenbokke, duikers, klipspring­ers en Damara-dik-dik. Natuurlik is daar ook die immerteenw­oordigende luiperds, strandwolw­e en bobbejane. Die luiperds is ’n groot las, want hulle vang die kalwers.

“Ek het 40 jaar gelede ’n ooreenkoms met die luiperds aangegaan. Die koeie en kalwers slaap snags in die krale by die huis of die veeposte, anders word hulle gevang. Skynbaar verstaan hulle die ooreenkoms, want ek ly nie eintlik meer verliese nie. Hulle vang nou eerder ander diere,” skerts Redecker.

SWAARDER SPEENKALWE­RS

’n Belangrike bonus is dat sy speenkalwe­rs deesdae 20 kg-30 kg swaarder is as vroeër. Ander boere met probleme met luiperds hou die kalwers bedags op kraal terwyl die koeie gaan wei. Dan kry die kalwers nie genoeg melk nie.

“Ek het op Tukkies by prof. Jan Bonsma geleer ’n kalf moet minstens 13 keer per dag melk suip om voluit te kan groei. As die kalwers nie by die koeie loop nie, kry hulle te min melk en groei nie so vinnig nie. My koeie en kalwers is 24 uur van die dag by mekaar en die kalwers kan suip net wanneer hulle wil,” verduideli­k hy.

Hy volg somer- en winterkalf­tye met sy Porta-stoetery. Die grootste voordeel is dat hy minder bulle per getal koeie nodig het omdat die bulle twee dektye per jaar werk.

Die Brahmane is regdeur die jaar op die veld met ’n somer- of winterlek. Danksy die lae veebeladin­g het hy in die meeste jare genoeg weiding om ook gras te sny en te baal. Redecker baal egter net suurgras, ’n goeie gras om te baal. Hy voer dit aan siek diere en gebruik dit om bulle voor veilings af te rond.

Hy verkoop gekeurde, geregistre­erde bulle vir kruistelin­g op die Central Select-veiling, wat elke September in Windhoek gehou word.

SELEKTEER VIR VRUGBAARHE­ID

Vanweë die beleid om die Brahmane regdeur die jaar op natuurlike weiding te hou, selekteer Redecker streng vir vrugbaarhe­id. ’n Koei wat nie kalf nie, word na die slagplaasg­roep Meatco gestuur om geslag te word; reguit van die veld af. Selfs die verse, wat op 24 maande vir die eerste keer saam met die koeie by die bulle kom, word geslag as hulle nie dragtig word nie.

“Dis die beste seleksiekr­iteria vir vrugbaarhe­id. Hoe vroeër ’n onvrugbare, vroulike dier uitgeskot word, hoe beter,” sê hy.

Elke boer moet volgens sy omgewingst­oestande die regte grootte koei kies. Op dié plaas weeg die ideale koeie 480 kg. Elders waar dit méér reën en die veld beter is, is dit dalk 100 kg meer, “maar hier kan ’n swaar koei nie maksimaal voortplant nie.”

PRESTASIET­OETSING

Redecker glo vas aan die waarde van prestasiet­oetsing. Sy pa, Armin, het dit al sedert die vroeë 1970’s gedoen.

Hy neem ook deel aan die genomikapr­ojek. Hy doen prestasiet­oetsing om sy diere met mekaar te vergelyk. Baie ligte en baie swaar diere word uitgeskot. Hy verkoop net ’n derde van die bulle wat hy grootmaak, meestal aan kommersiël­e boere. Hy verkoop feitlik geen koeie nie en behou die verse om die oudste koeie te vervang.

Redecker keur die verse 70% fenotipies en 30% op prestasie. Die verse wat die eerste keer bul vat, word behou en gaan aan met produksie, behalwe as daar dalk ander strukturel­e probleme na vore kom, soos te dik spene.

VRUGBAARST­E KUDDE

Danksy hierdie streng seleksiebe­leid en ondanks die harde toestande kry die stoetery byna jaarliks ’n prys van die Namibiese Brahmanbee­stelersgen­ootskap vir die vrugbaarst­e kudde vir kuddes met 50-100 koeie.

“Die telers in ander dele met baie meer reën en beter veld kan my nie klop nie. My koeie is vrugbaar omdat hulle by die omgewing aangepas is. Vrugbaarhe­id is net 7% oorerflik.

“Dus kan jy nie juis vir vrugbaarhe­id selekteer nie, maar eerder vir aangepaste diere. Dán styg die vrugbaarhe­idskoers,” sê hy.

Redecker se Porta Brahman-stoetery was in 2011 die eerste stoetery wat Breedplan se vyfstertoe­kenning vir die volledige aanmelding van data ontvang het en het dit sedertdien nog elke jaar verower.

 ??  ?? ’n Mooi troppie wit Brahmane op mnr. Fred Redecker se plaas. Voor stap sy “skaapwagte­r”, die donkie Jakob wat al 25 jaar oud is. Die donkie help om die luiperds weg te hou.
’n Mooi troppie wit Brahmane op mnr. Fred Redecker se plaas. Voor stap sy “skaapwagte­r”, die donkie Jakob wat al 25 jaar oud is. Die donkie help om die luiperds weg te hou.
 ?? FOTO’S: CHARL VAN ROOYEN ?? Mnr. Fred Redecker.
FOTO’S: CHARL VAN ROOYEN Mnr. Fred Redecker.
 ??  ?? Brahmane in die veld. Die veld is gewoonlik skraps en die gebied is baie bergagtig.
Brahmane in die veld. Die veld is gewoonlik skraps en die gebied is baie bergagtig.
 ??  ?? In goeie jare kan Redecker suurgras afsny en baal om vir siek beeste en veilingsbu­lle te voer. Hierdie deel is reeds gesny en gebaal.
In goeie jare kan Redecker suurgras afsny en baal om vir siek beeste en veilingsbu­lle te voer. Hierdie deel is reeds gesny en gebaal.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa