Beesboer ontwikkel briljante ID-stelsel D
Die akkurate byhou van aantekeninge is noodsaaklik in enige boerdery, des te meer in ’n beesboerdery waar geboortes en verkope op ’n gereelde grondslag plaasvind. Die grootste Brahmanboer in Namibië vertel meer van sy doeltreffende stelsel danksy moderne tegnologie.
ie stelsel vir die byhou van aantekeninge wat mnr. Mecki Schneider gebruik, is moontlik die eerste in sy soort op boerderyvlak in Suider-Afrika. Dit vervang die handgeskrewe stelsel wat talle boere steeds gebruik.
Namibië het baie streng vereistes vir die identifisering van beeste. Ter wille van naspeurbaarheid word beesboere byvoorbeeld verplig om twee oorplaatjies aan elke bees se oor te sit; een met visuele inligting aan die dier se regteroor en die ander een met ingeboude toerusting vir radiofrekwensie-identifikasie aan die linkeroor.
Die byhou van aantekeninge kan ’n probleem wees as ’n boer met groot getalle vee werk, soos Mecki wat met ’n Brahman- en Simmentaler-stoetery en ’n kommersiële beeskudde by Grootfontein in Namibië boer. Daarom het hy elektroniese toerusting gekoop en saam met sy seun, Reimo, en mnr. Alex de Koning, sy plaasbestuurder, ’n stelsel ontwikkel. Dit haal baie moeite uit die byhou van aantekeninge, veral danksy nuwe elektronika wat die volledige stel data van elke bees in ’n oogwink lees en op ’n skootrekenaar bêre.
SÓ WERK DIT
Mecki skryf die identifikasiedata van ’n bees met ’n onuitwisbare inkpen op die visuele oorplaatjie. Dit bestaan uit die jaartal toe die dier gebore is, saam met die volgnommer van die dier, asook ’n letter vir die pa en die ma se identifikasienommer.
Dan kan Mecki met ’n oogopslag sien watter kalf dit is en wie sy ma en pa is.
Die elektroniese oorplaatjie het ’n transpondeerder waarop elektroniese identifikasiebesonderhede aangebring is. Dit vorm deel van die amptelike Namibiese naspeurbaarheidstelsel. Aangesien dit nie ’n battery het nie, word ’n radiofrekwensiesein van die elektroniese leestoestel (skandeerder) af gestuur en die oorplaatjie stuur die unieke identifikasie van die dier terug.
Die leestoestel stuur die identifikasie van die spesifieke dier dan via Bluetooth (dus sonder kabels) oor etlike meter dadelik na die skootrekenaar langs die drukgang. Alle gegewens en data van die spesifieke dier verskyn onmiddellik op die skerm met behulp van die HerdMASTER™-rekenaarprogram van Agri-BSA (’n internasionale Breedplan-produk) wat spesiaal ontwikkel is om as kuddebestuurprogram vir veeboerdery te dien.
Radiofrekwensie-identifikasie is veral ook belangrik by saamtrekke waar baie beeste is, soos veeveilings. Aantekeninge kan daar met die aankoms en vertrek van diere elektronies gekontroleer word. Dit verg min moeite en maak dit akkuraat en vaartbelyn.
WERK LANGS DRUKGANG
Voorheen was die enigste moderne apparaat ’n skaal aan die eindpunt van die drukgang waarmee die beeste geweeg is. Dan moes Mecki die gewig- lesing op die skaal met die hand op sy dierelyste aanbring. Terug by die kantoor is dit dan op die rekenaar ingetik.
“Op die ou end het dit egter stapels lyste van kontemporêre groepe beeste behels wat ek en my vrou, Brigitte, dan op die kantoorrekenaar moes intik. Dit het baie tyd geverg en frustrasie veroorsaak,” sê hy.
Met die koms van elektroniese skale, radiofrekwensie-identifikasie-oorplaatjies, elektroniese skandeerders en kuddebestuursprogramme (soos HerdMASTER) op skootrekenaars, kon Mecki sy stelsel moderniseer.
Hy het ’n elektroniese skaal met twee weegselle onderaan die skaalraam wat met kabels aan die elektroniese skaal gekoppel is, asook ’n skandeerder aangeskaf. Die skaal en skandeerder is albei via Bluetooth aan ’n skootrekenaar gekoppel, en die gewig van die spesifieke diere word outomaties na die rekenaar gestuur.
Benewens liggaamsgewig kan alle
aspekte, van punte vir eienskappe tot inligting oor inentings en behandelings ook dadelik elektronies na die bestuursprogram oorgedra word.
Met dié mobiele meettoestel langs ’n drukgang (crush side recording) word alle vee by verskillende veeposte of plase geweeg en punte aan hulle toegeken. Dit geskied meestal ook dadelik in kontemporêre groepe sodat die data as sodanig in die kuddebestuursprogram gebêre kan word.
As ’n internetverbinding beskikbaar is, kan die nuwe data dadelik na die diensverskaffer gestuur word, vanwaar dit dan met alle relevante rekenaars in die boerdery gesinchroniseer kan word. Andersins kan die data ook van die drukgang af regstreeks na die telersgenootskap se databasis gestuur word, onder meer vir die verdere verwerking van teelwaardes. By afgeleë weegpunte sonder internetverbinding word die data op die skootrekenaar dan eers later deur die diensverskaffer met die ander rekenaartoestelle op die plaas gesinchroniseer. Alle nuwe data en gegewens is dus te alle tye op alle rekenaartoestelle van die plaasbestuur beskikbaar. ’n Jaarlikse tarief vir die data-sinchronisasiegerief en rugsteunstelsel is van toepassing.
VAARTBELYN
Die nuwe geslag op sy familieplaas het rekenaars ook baie beter onder die knie as die ouer garde, sê Mecki. Reimo, en sy vrou, Sonja, wat onlangs by die boerdery betrokke geraak het, het juis voorgestel hulle kry toerusting om die byhou van aantekeninge te vergemaklik en meer vaartbelyn te maak.
Hulle het verder met me. Jeanine Labuschagne van HerdMASTER by Agri-BSA in Centurion saamgewerk om die data-aantekeningstelsel in werking te stel. Die netwerkweergawe, wat toelaat dat ’n paar plase (verwerkingspunte) aan een databasis gekoppel kan word, is moontlik die eerste in sy soort in Suider-Afrika.
Die eerste keer as Mecki ’n bees se elektroniese oorplaatjie skandeer, vra die rekenaar hom om die dier se kudde-identifikasie in te tik. As dieselfde bees later weer geskandeer word, verskyn die regte bees se inligting op die rekenaarskerm. Dit sluit byvoorbeeld ’n kalf se geboortedatum, wanneer hy ingeënt is, al die weegdata oor jare heen, gewigstoenames, in watter kamp hy is en wie sy pa en ma is, in.
“Dit is ’n baie nuttige bestuurshulpmiddel as ’n mens langs die drukgang staan en is beslis een van die belangrikste inligtingsbronne wat ’n boer kan hê. Jy hoef nie tussen papiere rond te krap nie. Jy het dadelik alles op die skerm voor jou,” sê Mecki.
Hierdie stelsel, wat die boerdery sowat R10 000 per jaar aan bestuursgeld kos (vir ’n netwerkweergawe), bêre die inligting ook op die diensverskaffer se stelsel. Die normale program kos slegs R6 330 en sluit een jaar se gratis ondersteuning in. Die data hoef dus nie meer elke keer per hand ingesleutel te word nie. Boonop is al die data ook nie slegs op die boerdery se rekenaarstelsel nie, maar ook in ’n rugsteunstelsel vir veilige bewaring.
Mecki en sy swaer en vennoot, mnr. Ebbi Fischer, gebruik ’n soortgelyke stelsel by hul GenTecSol-voertoetsstasie op Fischer se plaas by Hochfeld, waar bulle vir voerdoeltreffendheid geëvalueer word. Daar is skandeerders by die voerbakke geïnstalleer om die bulle se elektroniese oorplaatjies te lees as die beeste hul koppe by die voerbak insteek. Dit weeg ook die hoeveelheid voer in die bak om netto voerinname te meet.
BENODIGDHEDE
Hierdie moderne stelsel is moontlik met die regte toerusting. Dit sluit in: ■ Gallagher se elektroniese skaal met weegselle wat vinnig en doeltreffend is.
DATA-ONTLEDING
Die boerdery is ook saam met verskeie lede van die Suider-Afrikaanse Brahman-telersgenootskap betrokke by die vleisbeesgenomikaprojek van die Lewendehawe Registrerende Federasie. Daarom moet Mecki gereeld data van sy beeste instuur vir ontleding.
Dus moet die data en kontemporêre groepe korrek wees, wat ’n bestuursproses vir gehaltebeheer verg. Die boerdery se nuwe stelsel maak hierdie proses nou baie akkurater en makliker om toe te pas.
Die Schneiders stuur hul data na die Namibiese Brahman-telersgenootskap se databasis by die Namibiese Stoettelersvereniging in Windhoek, waar dit dan vir verwerking deur Breedplan beskikbaar is.