Behaal só sukses danksy tegnologie B
Genomika laat stoettelers toe om winsgewendheid en die opbrengs van hul kudde optimaal te maak deur middel van die beste diereseleksie en strategiese teelbesluite. Drie Brahmantelers gee hier raad gegrond op eie ervaring in die praktyk.
rahmantelers behaal goeie sukses deur moderne tegnologie te gebruik. Drie telers vertel hoe hulle dit in hul stoeterye toepas. Hulle is mnre. Llewellyn Labuschagne van R10 Brahmane (Letsitele, Limpopo), Burnie Staal van B.E. Staal (Edms.) Bpk, Bos Blanco Brahmane (Kroonstad, Vrystaat) en Riaan Theron van RAT Brahmane (Parys/Koppies/Vredefort, Vrystaat).
LLEWELLYN LABUSCHAGNE
“As ’n stoetteler sukses wil behaal, moet hy sy teelprogram op drie pilare vestig. Twee bene is genotipies, naamlik die wetenskap en stambome, terwyl die derde been fenotipies is, naamlik wat die boer se oog waarneem.”
Die wetenskap vereis dat die boer moet meet om te kan weet. Dit verg dat hy die volle wetenskap in al sy vorme moet gebruik, soos Breedplan, genomika én indekse. Daarvan is inligting oor speengewigte baie belangrik.
“Dit sê vir my iets van die moeder se melk- en moedereienskappe, want sy moet ’n kalf langs haar kan grootmaak en ook ’n kalf binne-in haar kan versorg. Sy moet dus die konstitusie hê om dit te kan doen,” sê hy.
Stambome is ook uiters belangrik. ’n Stoetteler moet sy stoetery se stambome baie goed ken. Dus moet hy van die goeie én swak punte van die koei se
voorgeslagte weet en dit reg in korrektiewe paring kan aanwend.
“Daarom glo ons sterk in beplande lynteling om óns tipe Brahman te teel. Ons gebruik nooit halfbroers by halfsusters, pa’s by dogters of seuns by ma’s nie. Ons behaal reusesukses met neefs by niggies en kleinneefs by kleinniggies. Wanneer jy korrektiewe paring doen, gebruik jy dus ’n spesifieke bul vir ’n spesifieke doel, byvoorbeeld om uiers of spene te verbeter. Die voorafgaande is alles genotipes.”
Die boer se oog gaan oor fenotipe. ’n Stoetteler kan nie vorder deur sy seleksie net op genetiese eienskappe of prestasiedata te skoei nie. Hy het ook fenotipe nodig om gestalte aan sy visie te gee, naamlik hoe sy Brahmane moet lyk.
BEHAAL DOELWITTE SÓ
Die teler moet sy bestuur opknap om sy doelwitte te bereik. Die belangrikste dag in sy lewe is wanneer hy die koei laat dek of kunsmatig insemineer (KI). As hy op daardie dag die verkeerde bul gebruik, verloor hy drie jaar. Die koei gaan ’n jaar neem om weer te kalf en nóg twee jaar voor die teler van sy foute ontslae geraak het.
Om sy doelwit te kan bereik en dus visie by sy missie te voeg, moet die boer sy vroulike diere KI en in die proses bepaalde paringsbesluite neem om sekere eienskappe te verbeter. Sommige eienskappe is laag oorerflik, soos struktuur en rasegtheid, waarmee die teler stadige vordering sal maak.
Ander is hoogs oorerflik, soos spene en uiers, en die teler kan dus vinnige vordering met die verbetering van dié eienskappe maak.
Daarom gebruik die R10 Brahmanstoetery spesifieke bulle wat geneties by hul doelstellings inpas om bepaalde diere te verbeter, soos ’n spesifieke bul om beter bene en bespiering aan sy nageslag te gee. Dit is ook belangrik om groeikrag daardeur te verbeter.
Om ’n spesifieke tipe vroulike dier te teel, gebruik Labuschagne nooit ’n bul wie se ma hy nie self gesien en goedgekeur het nie. Dit geld ook semen wat hy invoer. Hy besoek Amerika elke twee jaar om na bulle in twee kuddes te kyk wat al 120 jaar lank Brahmane teel. Daar selekteer hy die tipe teelmateriaal wat inpas by die tipe Brahman wat hy self teel.
“Daardie gene kan ’n mens nie van ’n foto af koop nie. Die sukses wat ons al behaal het, is op moederlyne geskoei. Ons gebruik geen bul wat nie uit ’n goeie ma en ouma aan die bul én koei se kant af kom nie. Hy moet koeikrag agter hom hê, anders verswak dit die voorspelbaarheid van sy nageslag.
“Agter elke suksesvolle kuddebul is daar’ngoeie,voorspelbarekoeifamilie,” sê Labuschagne.
NUWE TEGNOLOGIE
Labuschagne pas al 43 jaar lank wetenskaplike beginsels toe. Hoewel genomika toe nog nie die naam gehad het nie, is R10 eintlik al jare lank daarmee besig deur korrektiewe paring toe te pas. Met die verskyning van genomika en meetbaarheid op die toneel kan ’n stoetteler nou nóg vinniger vorder.
Labuschagne pas KI by 90% van sy kudde toe. Indien ’n koei twee siklusse ná mekaar nie dragtig raak nie, gaan sy bul toe. Die voordeel om só baie koeie te KI is dat korrektiewe paring dan baie doeltreffend benut word.
R10 was in die 1980’s ook een van die eerste stoeterye wat embrio’s begin spoel het. Met hedendaagse in vitrobevrugting is daar nóg meer suksesse. Die tegnologie en wetenskap het baie verbeter. Die voorbereiding van die
koeie is byvoorbeeld nou baie beter as destyds en daarmee saam ook die suksessyfer.
“Met embrio’s vorder ’n stoetery vinniger as met natuurlike dekking, maar dit is duur en daar is nie plek vir eksperimentering met korrektiewe paring nie. Daarom herhaal ons slegs beproefde parings,” sê Labuschagne.
BURNIE STAAL
Die Brahmanstoetery Bos Blanco van mnr. Burnie Staal pas al 28 jaar KI en embriospoelings toe in sy rooi en wit Brahmankuddes.
“Ons het al 1 800 Brahman-embrio’s na Australië uitgevoer, terwyl ons die bul NCC Zambezi vir AU$145 000 (sowat R1,45 miljoen) in Australië verkoop het. Dit was ’n rekordprys vir die ras. Tans doen ons méér in vitro-bevrugtings by Brahmane, Borane, Beefmasters en Wagyu’s,” sê Staal. Hulle doen in vitro-bevrugting net by beproefde teelkoeie met voorspelbare genetiese waardes. Die doelwit is om vir Bos Blanco voortdurend nuwe lyne te skep deur koeifamilies te ontwikkel.
NUWE GENEPOEL
Net die beste teelmateriaal word gebruik om ’n nuwe genepoel te vestig. Bos Blanco doen die afgelope drie jaar eenmalig KI met beproefde bulle by ál sy vroulike Brahmane voor die dektyd begin. Staal gebruik ook ingevoerde semen selektief. Bos Blanco het die afgelope 28 jaar reeds sowat 7 000 embrio’s gelewer en méér as 10 000 kunsmatige inseminasies in sy verskillende kuddes voltooi.
“Die vermeerdering van jou beste teelmateriaal het ’n groot impak op jou kudde en die ras se vordering. Die metode wat gebruik word om geneties voortreflike diere te identifiseer, is deurslaggewend,” sê Staal. Genetiese voorspelbaarheid en erfdwang, gekoppel aan beraamde teelwaardes, is die primêre seleksiekriteria.
Dié stoetery het al sowat 80 Brahmanbulle wat in die nuutste Brahmanbulverslag van Breedplan se geraamde teelwaardes opgeneem is. Dit is méér as enige ander kudde in die geskiedenis van die Brahmanras in Suid-Afrika.
“Bos Blanco het beslis die teelmateriaal wat die kudde ekonomies na nuwe genomiese doelwitte kan dryf,” sê Staal.
RIAAN THERON
Breedplan-syfers, KI en in vitro-bevrugting is vir mnr. Riaan Theron van RAT Brahmane baie belangrik.
“Breedplan-syfers is van absolute belang vir die keuse van diere wat gebruik word. Benewens die feit dat ons geen diere sonder betroubare, beraamde teelwaardes oorweeg nie, neem ons ook aktief aan die Breedplan-proses deel. Ons meet en weeg wat ons kan en skandeer elke dier. Goeie teelwaardes is van onskatbare waarde in voorspelbaarheid en gaan in die toekoms nóg belangriker word,” sê hy.
Wat in vitro-bevrugting betref, identifiseer Theron besonderse vroulike diere met spesifieke vereistes waarna hy in ’n dier soek. Die plan met in vitro-bevrugting is om ’n grondslag van soortgelyke, vroulike diere te skep waarby hy in die toekoms verskillende lyne met verskillende bulle kan skep. Hoe méér soortgelyk sy vertrekpunt is, hoe makliker is die proses om foute te korrigeer en vinniger te vorder. Die stoetery plant verkieslik lewende embrio’s oor, maar het ook ’n goeie versameling bevrore embrio’s om in te plant as die lewende embrio’s te min vir die voorbereide draers is.
Theron sê die groot voordeel is dat die maatskappy Invitro Africa op sy voorstoep is, wat eksperimente baie maklik maak.
BESONDERSE DIERE
Theron is ook voortdurend besig om plaaslik en internasionaal semen van besonderse diere te soek om vroulike diere kunsmatig te insemineer.
“Behalwe om van die semen vir embrio’s te gebruik, word elke vroulike dier ge-KI. Vroulike diere word eerstens kunsmatig op hitte gebring en op hitte ge-KI. Diere wat nie dragtig raak nie, word ’n tweede keer op normale staande hitte ge-KI en daarna geklas om by spesifieke bulle te loop,” verduidelik hy.
RAT Brahmane het vier jaar gelede op klein skaal begin om embrio’s in vitro te lewer, maar vanjaar het hulle dit versnel. Teen die helfte van vanjaar het die stoetery al méér as 100 embrio’s oorgeplant, met die vooruitsig op nóg meer voor die einde van die jaar.
“’n Groot probleem met embrio’s is dat jy draers nodig het. Vir dié doel het ek my kommersiële kudde beskikbaar gestel. Ons lewer en plant ook embrio’s oor vir klante.”
Theron glo tegnologie is onlosmaaklik deel van vordering. Geen ras kan vorder sonder doelgerigte, akademiese en navorsingsbydraes wat wetenskaplik ondersteun word nie. In dié geval is Breedplan en genomika van onskatbare waarde.
“Ons gebruik syfers om keuses te maak oor diere wat in ons proses gebruik word. Die syfers is belangrik om voorspelbaarheid in te teel. ’n Ras kan dus met embrio’s en inplantingsprosesse wat deur syfers ondersteun word, fenotipies en genotipies met rasse skrede vooruitgaan. Dis dié manier om vinnig te vorder.”
LEIER MET BREEDPLAN
Theron beskou RAT Brahmane as ’n leier met Breedplan en verwerf elke jaar ’n hoër stertoekenning. Dit het tans 3,5 sterre.
“Genomika is die pad om te stap. Dit maak die onbekende en die onsigbare bekend. Genomika help met voorspelbaarheid van toekomstige winspotensiaal. Dit laat jou toe om winsgewendheid en die opbrengs van jou kudde optimaal te maak deur middel van die beste dierseleksie en strategiese teelbesluite,” sê Theron.