Daar is hoop, sê graanboere
’n Enkele, normale graanoes gaan nie die meeste boere noodwendig uit hul algemene finansiële verknorsing red ná die Wes-Kaapse droogte nie. Dit sal egter die boere laat asemskep deur ’n goeie kontantvloei te verseker.
Graanboere in die Swartland is skeptiesoptimisties. Hulle moet nou besluit oor hoeveel en waaraan hulle geld moet bestee en is bang vir oorbesteding aan kunsmis, swambespuitings en ander produksiekoste. So sê mnr. André Kirsten van Oranjefontein, Darling, en Wes-Kaapse streekverteenwoordiger vir Graan SA.
Kirsten meen die streek het tot dusver genoeg reën gekry sodat normale graanaanplantings gedoen kon word. Vir volskaalse boerderybedrywighede, wat wingerde en vrugte insluit, is die droogte van die laaste drie jaar nog nie heeltemal gebreek nie.
Bogronds is genoeg water, maar ondergrondse vog is nog glad nie daar nie. Hoewel party plaasdamme wél vol is, is daar damme – soos op Kirsten se plaas – wat skaars ’n kwart vol is en nog heelwat reën kort om vol te word. “Die afloop na die meeste damme is nog nie genoeg nie, en ons grondvog is nog nie tot normaal herstel nie.”
Mnr. Francois Eksteen van Piketberg stem saam. “Bo lyk alles groen en nat, maar ondergronds is die droogte nog met ons. Die droogte se regstreekse impak op graanproduksie is gebreek, maar as geheel is dit nog nie.”
Ook mnr. Hein Visagie van Visagie-boerdery, Porterville, meen meer as genoeg reën het geval vir normale graanproduksie en min tot geen bogrondse vogtekorte bestaan nie. Aanplantings is reeds in Mei afgehandel, en die boere het waarskynlik “so na aan normaal koring geplant as wat hul finansiële situasie hulle toelaat en waarvoor hulle finansiering kon kry”. Oorlaatskulde van die vorige droë jare looi egter baie van hulle.