Veilingsukses ná byna dekade se belegging
Om swart kommersiële boere te vestig kan ’n uitmergelende proses wees. Mnr. Aggrey Mahanjana van Queenstown, ook ’n opgeleide landboukundige, het onlangs sy eerste produksieveiling gehou, bykans ’n dekade nadat hy die plaas by die staat begin huur het.
Om ’n kommersiële boer te word en skaalekonomie te benut, val nie uit die lug nie. Toegang tot finansiering en ’n mate van begrip vir die realiteit van die proses is deurslaggewend vir die visie van ontwikkelende boere.
“Sonder toegang tot geld of krediet kan jy vergeet van boer,” sê mnr. Aggrey Mahanjana van die plaas Carnarvon Estates noord van Queenstown in die Oos-Kaap beslis en hoof van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo).
Hy’t onlangs sy eerste produksieveiling gehou, waar pryse hoër as die gemiddelde in sy omgewing behaal is.
Carnarvon Estates is enige veeboer se droom. Die plaas is midde-in ’n uitgestrekte landskap van golwende grasvelde en die hoë, rotsagtige rûe van die Stormberg. Fonteine, wat hul water in die somer van reën en in die winter van die sneeu kry, ontspring in die heuwels en voorsien deurlopend water
aan die vlaktes wat onder dit lê. In 2006 het die staat die plaas van 5 500 ha gekoop as deel van die Regering se strategie vir die verkryging van grond (Plas), ’n grondhervormingsinisiatief wat daarop klem lê om hoëpotensiaal-landbougrond te koop om plaaswerkers te bevoordeel. Die staat het die grond by die Halse-familie gekoop, wat 153 jaar lank daarop geboer het.
In 2009 het die streeksdepartement van grondhervorming in die Chris Hani-munisipaliteit vir Aggrey gevra of hy bereid sou
wees om die boerdery oor te neem.
“Hulle het my gevra omdat hulle gedink het ek het toegang tot finansiering en as gevolg van my landbou-agtergrond,” sê Aggrey.
“As ’n opgeleide landboukundige het ek geweet wat nodig is en ek was taamlik versigtig daarvoor om ‘ ’n plaas te kry’. Baie swart mense raak heel verstaanbaar opgewonde by die gedagte dat hulle grond kan besit en kan boer, maar hulle weet nie wat dit behels nie of onderskat die omvang daarvan.”
Voor hy in Oktober 2009 oorgeneem het, het Aggrey ’n onderhoud met elkeen van
die 23 plaaswerkers op die plaas gevoer. “Ek het elkeen van hulle gevra of hulle die plaas wou bestuur.”
Amper almal het benadruk dat ’n vaste maandelikse inkomste vir hulle die belangrikste was, pleks van die verantwoordelikheid om toesig te hou. Aggrey beskou dit as ’n uiters belangrike vertrekpunt.
AANVANKLIKE BELEGGING
Die losgoed en die meeste van die diere is vroeg in 2009 op ’n veiling verkoop. Aggrey het die oorblywende masjinerie en werktuie, 60 melkkoeie en 60 Shorthornbeeste gekoop wat nie verkoop is nie weens hul swak kondisie. Hy het geweier om die R2 miljoen te betaal wat die eienaars vir die wild wou hê omdat hy dit “nie kon tel nie”.
Tot hy op die plaas aangekom het, het die Sterkstroom-munisipaliteit elke jaar R1,2 miljoen aan Carnarvon Estates betaal vir water wat uit ’n plaasdam onttrek is. “Die dag toe ek daar aangekom het, is aan my gesê water is ’n nasionale bate en dat die munisipaliteit nie langer sou betaal om dit te onttrek nie.”
In die enkele weke voor hy die plaas begin huur het, het ’n brand 75% van die weiding en drade verwoes. Dit was, uit alle oogpunte beskou, ’n moeilike begin vir Aggrey.
KAPITAAL OM WEER TE BEGIN
’n Verwaarloosde plaas het altyd ’n kontantinspuiting nodig om weer aan die gang te kom. Aggrey het begin deur ’n waghokkie by die ingang van die plaas op te rig om die deurgang van mense en voertuie te beheer.
Hy het ’n gebou wat oorspronklik in 1855 uit wattel en modder gebou is, gerestoureer om as kantoor te gebruik. “Ek dink dit is belangrik om jou werk en huis te skei. As jy ’n boer is, is dit maklik om nooit op te hou werk nie. ’n Behoorlike kantoor maak dit ook makliker om bestuurstelsels in te stel,” verduidelik hy.
Die plaashuis se dak moes reggemaak word en nuwe drade moes gespan word om dié te vervang wat in die brand verwoes is. Aggrey het werkershuise reggemaak, paaie geskraap en sommige ’n nuwe oppervlak gegee, ’n opleidingsentrum vir plaaslike boere en ’n skuur vir werktuie gebou, ’n nuwe pomp gekoop, ou pompe reggemaak en permanente waterpunte in droë kampe aangelê.
Nog kontant was nodig om die jaglosie, ’n plek met ’n verstommende uitsig en die effe vreemde naam van The Stagger Inn te restoureer. (’n Mens kan maar net hoop die gaste het nie daar ingestrompel weens die hoeveelheid alkohol wat hulle gedrink het terwyl hulle gejag het nie.)
Al hierdie projekte het ’n aansienlike bedrag geld gekos. “Sedert ek hier gekom het, het ek meer as R18 miljoen in infrastruktuur belê en ek het leningsrekenings by verskeie finansiële instellings. Daar is geen aanduiding van wanneer die staat my gaan terugbetaal of die plaas gaan herkapitaliseer nie,” sê hy.
Maar om vir die staat te wag om met die geld vorendag te kom, is nie ’n opsie vir hom nie. “As ek vir die staat sou wag, sou Carnarvon Estates deel van die mislukte hervormingsplase gewees het. As ’n leier van kleinboere in Suid-Afrika was ek vasbeslote om ’n goeie voorbeeld te stel en dit nie toe te laat nie.”
Terselfdertyd word van Aggrey verwag om jaarliks huurgeld aan die staat te betaal, bereken as ’n persentasie van die verkoopprys van die plaas.
Sy vrou, Angel, ’n rekenmeester, het eers sy wysheid en later sy geestesgesondheid bevraagteken terwyl sy gesien het hoe geld in ’n onderneming ingevloei het wat baie met ’n bodemlose put gemeen het.
Aggrey Mahanjana is egter ’n vasbeslote en geduldige man. Hy het vasgebyt.
Ekonomiese beginsels werk nie volgens ‘aantal hektaar toegeken aan aantal mense’ nie, maar volgens gunstige en winsgewende produktiwiteit of verlies aan produktiwiteit per hektaar.
Ná ’n reeks onsuksesvolle plaasbestuurders het hy sy suster, me. Zoliswa Mahanjana, oorreed om haar werk en gemaklike stadslewe in die noorde van Johannesburg vir die plaaslewe op Carnarvon te verruil.
Zoliswa het geen ondervinding van boerdery gehad nie, maar het wel ’n diploma aan die Fort Cox-landboukollege verwerf. “Nou kan sy net ’n kort tydjie in die stad verduur voor sy rusteloos raak en terug op die plaas wil wees,” sê Aggrey.
AANWAS VAN VEE
Aggrey het so gou moontlik die melkkoeie verkoop. “Ek het geweet ek wou nie met melkbeeste boer nie, want dit is ’n moeilike werk en tegnies veeleisend. Ek kon nie bekostig om heeltyds op die plaas te wees nie en dit was dus ’n maklike besluit.”
Deur te werk met wat hy gehad het, het hy sy kudde vermeerder deur Beefmasterbulle by Shorthornkoeie te sit.
Hy het Nguni’s gekoop, maar het die meeste van hulle weer verkoop weens druk van kopers op die ras, wat die reputasie het dat diere nie vinnig genoeg vet word in voerkrale nie.
In Februarie 2010 het Aggrey 180 tweetand-Dohne-Merino-ooie en vyf ramme gekoop. Daardie diere het die grondslag gelê vir sy huidige kudde van 3 000 skape, wat as hy ’n gereelde en betroubare inkomstebron sien.
PRODUKSIEVEILING
’n Helder herfsdag laat in Maart was ’n belangrike mylpaal vir Aggrey, want hy het sy eerste produksieveiling gehou. Dit is waargeneem deur Elliot Brothers, ’n Oos-Kaapse veilingsgroep.
Die veiling het goed verloop en diere is vir meer as die gemiddelde markprys verkoop. Dragtige verse het die hoogste prys behaal teen gemiddeld R10 000, koeie met kalwers R9 206 en Ngunikoeie is teen gemiddeld R8 685 verkoop. Ongeskeerde ooie het bykans R2 000 gehaal en ramme R1 100.
Die meeste kopers was van voerkrale, maar daar was ook belangstelling van ontwikkelende boere – selfs uit KwaZulu-Natal – wat baie bemoedigend was.
Goeie reëlings en behoorlike, goed onderhoude hanteringsgeriewe en krale is dinge wat dit ’n plesier maak om ’n produksieveiling by te woon. Aggrey gee die eer aan sy voorganger by wie hy die infrastruktuur vir die hantering van die vee “geërf” het. “Hy was ’n goeie boer, ’n Shorthornspesialis, wat geweet het wat hy doen.”
Mnr. Celvin Burger, Elliot Brothers se afslaer, het gesorg dat alles glad verloop en het die onvermydelike koper-verkoper-weerstand by party groepe uitgesorteer.
“Jy kan sien hier is ’n paar gehawende diere op my veiling,” sê Aggrey. “Dit is omdat ek nog aan ’t ontwikkel is. Volgende jaar sal daar minder wees. My doel is om oor vyf jaar die beste kommersiële produksieveiling in die distrik te hou.”
SAKEVERNUF EN RAAD
Finansiële opvoeding begin met wat Aggrey “die vyf soorte geld” noem: geld om die grond te koop of te huur; geld om vee te koop en gewasse te plant; geld om maandelikse bedryfskoste, soos salarisse en lone, voerrekeninge, krag en brandstof, te betaal; ekstra geld vir die ontwikkeling van die plaas; en geld om jouself te betaal.
“Sonder onderhoud kan ’n plaas vinnig agteruitgaan. As iets breek, moet dit onmiddellik reggemaak word, of dit gaan duurder én moeiliker raak om dit reg te maak.”
Aggrey se ingesteldheid oor onderhoud is duidelik sigbaar. Sy plaas is in orde; geboue, damme, paaie en heinings is netjies en heel.
GEDAGTES OOR GRONDHERVORMING
Aggrey sê hy het voordeel getrek uit grondhervorming en het persoonlike ondervinding van die grondhervormingsproses. “Uit eie ondervinding kan ek sê grondhervorming het baie swakhede. Ek dink dit is hoofsaaklik omdat dit polities pleks van ekonomies of sakegedrewe is.”
Terwyl ’n mens moet besef dat die ANC as die regerende party moet hou by sy belofte om mense wie se grond onteien is, te vergoed, is die manier waarop dit gedoen word, strydig met ekonomiese beginsels.
Ekonomiese beginsels werk nie volgens “aantal hektaar toegeken aan aantal mense” nie, maar volgens gunstige en winsgewende produktiwiteit of verlies aan produktiwiteit per hektaar, verduidelik hy.
“Die Regering kan sê hy het soveel hektaar aan soveel mense gegee, maar wat is die produktiwiteit van daardie hektare? Volgens die aantal mense wat grond ontvang het, kan die Regering ’n regmerkie kry, hoewel dit nie so ’n groot regmerkie is nie, maar wat produktiwiteit betref kry hulle ’n groot kruis.”
Grondhervorming was ’n klaaglike mislukking ten opsigte van die landelike ekonomie, sê Aggrey.
MENTORSKAP
As raadgewer en adviseur vir die lede van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo) wat op kleinhoewes boer, het Aggrey ’n goeie idee van wat dit beteken om ’n mentor te wees.
Hy beskou homself as ’n geseënde en gelukkige man wat die beste moontlike mentor in mnr. Marthinus Jordaan, sy buurman, het. “As ek dink wat die man al vir my gedoen het, skiet my oë sommer vol trane. Hy het sy ramme na my toe gestuur om my kudde te verbeter, hy leen my sy masjinerie, hy praat probleme met my deur, hy is vrygewig met die tyd wat hy aan my afstaan. Hy het nog nooit verwag dat ek hom een sent moet betaal nie. Dit is ware mentorskap,” sê Aggrey.
Hoewel hy al meer as een keer aangebied het om die plaas by die staat te koop, is die staat nie gewillig om te verkoop nie. Desnieteenstaande beskou Aggrey homself as een van die gelukkiges en hunker na die dag dat hy meer tyd op Carnarvon Estates kan deurbring. “Dit is een van die beste plase in die Oos-Kaap en ek wil dit so hou.”
Kom hoor Aggrey praat op Landbouweekblad se grondberaad op 23 en 24 Augustus op Bela-Bela in Limpopo.