Geniet die reën, maar hou kop!
Die droogte in die Swartland is grootliks verby en dele het al heelwat meer reën gekry as in die hele 2017. Op plekke is die grond deurnat, maar moet boere steeds hul vee voer totdat die weiding sterker en meer benutbaar is teen einde Augustus en September. Die groot kwessie nou is om positief te bly, kop bo water te hou en finansieel te oorleef.
Hoewel die droogte van die afgelope bykans drie jaar in die Swartland grootliks gebreek is en damme oor die algemeen vol is en selfs oorloop, is opvolgreën in die lente noodsaaklik vir graanen veeboere om die effek van die droogte heeltemal te oorkom, sê mnr. AJ Louw van Tweekuil, Malmesbury, en ’n bestuurslid van Agri Wes-Kaap. Landbouweekblad het met Louw gesels oor hoe dit in die Swartland gaan ná die goeie reën tot dusver die winter. Hy sê alles lyk pragtig groen, die damme is redelik vol, en buiten vir die politieke swaard wat bo die kommersiële landbou se kop hang, lyk die toekoms heeltemal goed.
Maar hy waarsku in dieselfde asem: “Doen nou net wat gedoen moet word en belangrik is, maar moet nie nou al dinge aanpak wat vir die oomblik onnodig is en kan wag nie.”
In die landbou kan baie dinge baie gou verander – soos elke boer sekerlik weet, en dit is nou nodig om finansieel versigtig te werk te gaan. “Die belangrikste is nou om finansieel die ernstige verliese en letsels van die droogte te oorkom.”
WEIDING HERSTEL
Veeboere is besig om hul dieregetalle weer te verhoog nadat skaap- en beeskuddes erg uitgedun is vir oorlewing tydens die droogte. Verder is veeboere nog feitlik deur die bank besig om hul diere te voer omdat weidings in dié stadium te nat is. Die kwaai koue wat dele van die Wes-Kaap in Julie onder sneeu gehad het, veroorsaak dat weiding ook stadiger as normaal dié tyd van die jaar groei. “Ek meen so teen September gaan die weidingsplante sterk en robuus genoeg wees vir weiding.”
Veral medics reageer baie goed op die reën en die sonnige weer wat daarna ondervind is, meen hy.
Iets wat egter ’n groot voordeel is, is die gemoedstemming wat onder die Swartlandse, asook die hele Wes-Kaapse boerderygemeenskap, heers.
BOERE BLY HOOPVOL
“Die mense is dankbaar en optimisties en het weer moed vir die toekoms. Dit is net die politiek wat voortdurend ’n skadu gooi, maar dit demp nie geesdrif van die Swartlandse graan- en veeboere nie.
“Boere weet ook die skade en verliese wat die droogte aangerig is, sal nie oornag verdwyn nie. Hulle moet nou voorsiening maak vir ’n redelik lang oorbruggingstydperk voor dinge weer redelik ‘normaal’ is. Dit sal beslis nodig wees om ’n bietjie die ‘gordels’ meer in te trek as gewoonlik.”
NOG REËN NODIG
Die belangrikste is nou dat goeie opvolgreën in September en Oktober val om die droogte finaal agter die rug te kry.
Selfs die wingerd in die streek het lanklaas soveel vog gehad. Plek-plek kan wingerde en weiding versuip as die water nie gou genoeg afloop nie.
“Vanjaar se reën het amper gevoel soos die ‘ou dae’ se siklusse van sewe dae reën aaneen. Tot daar in die Rooi-Karoo het vanjaar al redelik reën geval.
“Ek meen die landbou in die Swartland – en die grootste dele van die Wes-Kaap – is nou in ’n veel beter situasie as ’n jaar gelede. Ons moet nou net kop oplig en kophou,” is Louw se raad aan boere.