Landbouweekblad

Grondontei­ening:

Boere op plaaslys praat

- — CARIEN KRUGER, JOYLENE VAN WYK en FREDALETTE UYS

DIE bekendmaki­ng van ’n lys plase wat volgens die burgerregt­e-organisasi­e AfriForum vir onteiening-toetssake geoormerk is, het tot groot ontstelten­is in landbougel­edere gelei. Terwyl Agri SA gemoedere probeer kalmeer het en die Regering die juistheid van die lys ontken het, het van die boere op die lys hulle daaroor uitgespree­k.

Die lys doen glo die ronde in die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming. Mnr. Kallie Kriel, uitvoerend­e hoof van AfriForum, sê hulle het dit by ’n gesaghebbe­nde bron gekry en dit is outentiek. Die oorspronkl­ike lys bevat glo meer inligting. AfriForum het die formaat verander en van die inligting uitgehaal om eienaars te beskerm.

Kort ná die bekendmaki­ng het die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming gesê die lys is oneg. “Die lys is eerstens fiktief. En wanneer die departemen­t onteien, is dit met vergoeding – soos die huidige wetgewing dit verlang,” sê me. Linda Page, woordvoerd­er van die departemen­t.

Die ANC het wel bekend gemaak dat hy die Regering sy goedkeurin­g gegee het om 139 plase te onteien. Nie die ANC óf die departemen­t wou vroeër duidelikhe­id gee oor of die plase sonder vergoeding onteien sal word nie. Die lys wat deur AfriForum versprei is, bevat egter die name van nagenoeg 195 plase.

EIENAARS

Van die eienaars van die plase het intussen na vore gekom. ’n Anonieme boer in die Oos-Kaap wie se plaas op die lys is, sê dit was die eerste keer dat hy gehoor het dat sy plaas moontlik op die lys is vir onteiening. Hy sê hy glo die lys bestaan, “aangesien hulle die plaas se naam reg gespel het”.

Hy het wel vier jaar gelede sy plaas aan die destydse Departemen­t van Grondsake te koop aangebied, maar die prys was

te laag om te oorweeg. Sy plaas is produktief en word vir stoetboerd­ery aangewend.

Hy sê die plaas is hoogs ontwikkel met goeie infrastruk­tuur. Die plaas is ook reeds afbetaal en hy het geen lenings op die plaas uitgeneem nie.

Nog ’n boer, ook van die OosKaap wie se plaas op die lys is, het sy plaas onlangs gekoop. Daar was wel bespiegeli­ng dat die plaas deur die Regering geoormerk is vir onteiening, maar hy kan dit nie bevestig nie. Sy plaas het hoe reënval en is baie vrugbaar.

’n Plaas buite Magaliesbu­rg, Golden Valley, wat onderverde­el is en aan verskillen­de eienaars behoort, is volgens ’n omgewingsw­ebwerf al 17 jaar lank in die oog van mynmaatska­ppye en die Regering. Die grondeiena­ars en ander boere in die omgewing veg al jare teen die aansoeke om prospekter­ing. Op die webwerf is amptelike dokumentas­ie van 2001 waarin die Departemen­t van Minerale Hulpbronne die plaas as potensiële myngrond aandui.

Volgens Netwerk24 is daar by Belfast in Mpumalanga ook drie plase wat grens aan ’n beoogde reusesteen­koolmyn van die myngroep Umsimbithi. Verskeie ander plaaseiena­ars het gesê daar is geen eise op hul plase waarvan hulle weet nie en hulle is in geen dispuut met die Regering betrokke nie.

TOETSSAKE

Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, het op ’n gesamentli­ke nuuskonfer­ensie van TLU SA, AfriForum en Sakeliga (voorheen AfriSake) gesê hy verwag dat die Regering in aanvanklik­e toetssake minder as markwaarde vir plase gaan bied, maar dit later sal opvolg met toetssake waar hy geen vergoeding sal aanbied nie. TLU SA meen die Regering gaan eers 40% tot 60% minder as markwaarde aanbied.

Die drie organisasi­es gaan saam ’n regstrateg­ie vir teenkantin­g van die Regering se beoogde onteiening sonder vergoeding ontwikkel en het ander organisasi­es genooi om by hulle aan te sluit.

Mnr. Piet le Roux, uitvoerend­e hoof van Sakeliga, het gesê daar is by hom geen twyfel dat daar ’n lys is nie. “Daar is waarskynli­k selfs meer as een lys.”

Die lnstituut vir Rasseverho­udinge (IRV) het ook in ’n verklaring gesê sy ontleders het die lys gesien en meen dit is geloofwaar­dig.

BESTUDEER LYS

Volgens Meintjes werk TLU SA deur die lys om meer inligting oor die plase te kry en hoop om die proses binnekort af te handel.

Tot dusver wys die inligting volgens hom dat die lys outentiek is. Dit bevat onder meer ook plase met grondeise waaroor die eienaar en Regering nie tot ’n vergelyk oor die prys kan kom nie. Hy weet ook van ’n plaas waar die boer ’n uitsetting­sbevel ontvang het en waar die Regering klaarblykl­ik die plaas vir die minerale regte wil bekom.

Kriel het by navraag gesê die meeste eiendomme op die lys voldoen aan kategorieë soos wat die departemen­t dit onlangs aan

Landbou.com (bit.ly/2Mr3p7V) verduideli­k het, naamlik grond wat die departemen­t ingevolge verskeie programme wil koop, maar die eienaars wil nie die grondwaard­eerdergene­raal se waardasie aanvaar nie.

Op ’n vraag of daar verbande op die plase is, het Meintjes gesê tans lyk dit wel in die meeste gevalle só. “Daar is nie vandag boere wat nié verbande op hul plase het nie.”

Hy het later aan Landbou.com gesê tot dusver klop die soort plase op die lys glad nie met beloftes deur die ANC en Regering dat onteiening sonder vergoeding vir onprodukti­ewe grond gebruik sal word, of grond waar die eienaar afwesig is nie. “Op die oog af lyk dit almal na plase wat in produksie is.”

Die IRV sê die lys, asook uitlatings deur amptenare en ANClede, dui daarop dat produktiew­e eiendomme en eiendomme met hoë waarde voorrang sal kry.

“Dit verskil – soos die IRV lank reeds waarsku – van versekerin­gs deur die regerende party en regeringsl­eiers dat net onprodukti­ewe grond onteien sal word.”

Meintjes sê wanneer die drie organisasi­es regstappe doen, “sal ons wil weet hoekom ’n betrokke plaas gekies is”. Hy sê as die Regering onteiening sonder vergoeding wil toepas, moet hy kan sê hoekom hy die grond gekies het.

‘Daar is nie vandag boere wat nié verbande op hul plase het nie.’

 ?? FOTO: CARIEN KRUGER ?? Van links is mnre. Ernst Roets en Kallie Kriel van AfriForum, Louis Meintjes van TLU SA, en Piet le Roux van Sakeliga.
FOTO: CARIEN KRUGER Van links is mnre. Ernst Roets en Kallie Kriel van AfriForum, Louis Meintjes van TLU SA, en Piet le Roux van Sakeliga.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa