Neigings:
Trek nóú sokkies op vir aanlyn inkopies
Aanlyn verkope van vrugte en groente sal na verwagting met 7% styg tot 2030.
“Hoewel dit tans effens dom kan wees om dié mark te ignoreer, sal dit teen 2030 noodlottig wees, want al die aanduidings is daar dat aanlyn se aandeel in die groente-en-vrugtemark aansienlik gaan groei oor die volgende tien tot vyftien jaar,” meen ’n verslag getiteld “Disruption in fruit and vegetable distribution”. Dis deur die bestuurskonsultasiefirma Oliver Wyman opgestel en tydens Fruit Logistica in Berlyn bekend gestel.
Namate verbruikers meer vertroud raak die diens, afleweringskeuses meer gerieflik raak, struikelblokke met voorsiening uit die weg geruim word en die aanlyn aanbod verbreed, sal ál meer vars produkte deur ’n toepassing of webwerf gekoop en verkoop word.
In Asië en dele van die Weste is die markaandeel reeds hoër as die gemiddelde. In Londen, byvoorbeeld, maak aanlyn kruideniersaankope al 20% van die mark uit.
MEER AS EEN MANIER
Verskeie e-handelreuse het reeds die wêreld van aanlyn kruideniersaankope betree. Dink maar aan Amazon wat Whole Foods bekom het en dus nou regstreeks meeding met win- kels, soos Walmart. Die teenoorgestelde gebeur ook, soos die e-handelaar Alibaba wat in regte winkels belê.
E-handel kom in verskeie gedaantes. Die meeste vrugte en groente wat deur aanlyn transaksies versprei word, sal waarskynlik deur kleinhandel-gedrewe multikanaal-benaderings plaasvind (soos winkels wat ook tuisaflewerings of klik-en-kom-haal-dienste bied). Daar is egter ook direk-by-die-verbruiker-opsies, wat die tradisionale middelman uit die verskaffingsketting sny.
WINKELS, MAAK GEREED . . .
Gevestigde kleinhandelaars, met honderde winkels wat gebou is van bakstene en semet
ment pleks van in-mandjies en bladlesers, kan ’n finansiële vuishou vanaf die virtuele wêreld verwag.
“In Brittanje het die aanlyn kruideniersmark al ’n 6%-markaandeel. Dit kry reeds ’n vastrapplek in Frankryk en in Amerika en Duitsland is dit in die vroeë groeistadiums.”
Die verslag voer aan dat as ’n tradisionele kruidenierswinkel 10% van sy mark weens die aanlyn verskynsel verloor, sal al sy wins daarmee heen wees (’n winkel met ’n 2% e-bit of verdienste voor rente en belasting, en ’n volume veranderlike marge van 20%).
Aanlyn bring dus ’n onvermydelike verlies aan verkope vir tradisionele verkoopskanale en die implikasie is dat sommige – moontlik sommer ’n klomp – individuele winkels onwinsgewend sal raak. As die aanlyn sektor markaandeel van 8% by kleinhandelaars gaps, kan sowat 30% se fisieke winkelruimte in die meeste gebiede verdwyn.
Maar dis darem nie heeltemal die einde van winkels soos ons dit ken nie. “Die winkels wat kan oorleef, sal moontlik selfs winsgewender wees as ’n gemiddelde winkel vandag. Ter wille van oorlewing sal kruidenierswinkels egter moet sorg vir ’n mededingende voordeel aan die plaaslike front, sodat dit die laaste een in ’n gegewe gebied is wat staande bly. Met ander woorde, jy hoef nie vir die beer weg te hardloop nie, jy moet net vir die ou langs jou weghol.”
Winkels het drie opsies om hulle te beskerm teen die Amazons of Googles van die wêreld: lei met prys deur koste verder te besnoei en gee die besparings aan klante deur, lei met gehalte en onderskei jouself van die aanlyn en tradisionele kruidenierswinkels of wen klante, deur mededingend te wees ten opsigte van prys, inkopie-ervaring, klanteverhoudings, gehalte, diens en promosies.
BOERE MOET OOK SOKKIES OPTREK
Dis egter nie net die kleinhandel wat die aanlyn verskynsel in hul nek voel blaas nie. Verskaffers en produsente sal ook hul sokkies moet optrek om te voldoen aan die vereistes wat die nuwe aanlyn kanale aan hulle stel.
Enigiemand wat al iets aanlyn bestel het, ken die frustrasie en teleurstelling as die produk by jou voordeur opdaag en dit lyk nie soos die prentjie wat jy op jou rekenaarskerm gesien het nie. Aanlyn verkope vereis dus ’n hoë vlak van standaardisering – elke tamatie sal aan die verbruiker se verwagtinge moet voldoen sonder dat hy of sy dit vooraf gesien of daaraan gevat het. Produkspesifikasies sal dus noodgedwonge strenger raak en meer nougeset toegepas moet word as vrugte- en groente-ondernemings hul aanlyn klante se vertroue wil wen (en behou).
Dit beteken darem nie dat net die heel beste gehalte goed genoeg is vir aanlyn verspreiding nie. Ook nie dat kosvermorsing gaan toeneem nie. Daar sal waarskynlik ’n mark vir elke vlak van gehalte wees. Elke klas sal baie goed gedefinieer wees, sodat verbruikers hul verwagtinge oor die gehalte en oorsprong daarby kan aanpas.
GEREELDER BESTELLINGS, KLEINER EENHEDE
Daar word verwag dat mense in die toekoms ál minder op ’n slag sal bestel. Produsente sal dus moet begin dink aan “eenhede van een” – en bereid wees om byvoorbeeld eerder
Aanlyn verkope vereis dus ’n hoë vlak van standaardisering – elke tamatie sal aan die verbruiker se verwagtinge moet voldoen sonder dat hy of sy dit vooraf gesien of daaraan gevat het.
drie keer per week ’n enkele piesang by iemand te laat aflewer as om drie piesangs op een slag te voorsien.
Dit bring koste-implikasies en ondoeltreffendhede mee; aanlyn kanale sal dus vervoerruimtes goed moet inspan om koste laag te hou. Die produkte sal ook in lekbestande verpakkings geplaas moet word, waar een produk nie ’n ander kan beskadig nie, en dit sal etikette moet hê wat met masjiene gelees kan word. Verpakking sal volhoubaar moet wees; dink aan omgewingsvriendelike materiaal wat boonop ’n produk se rakleeftyd kan verleng.
“Produsente sal óf hul eie verpakkingsgeriewe moet uitbrei óf met diensverskaffers ooreenkomste aangaan,” doen die verslag aan die hand.
“Volumes in die aanlyn kanaal is geneig om meer veranderlik te wees as in die baksteen-en-sement-kleinhandel, weens produkte se rangorde, groter prysdeursigtighed en die korttermynaard van promosiebeplanning en -uitvoering. Dit sal volumebeplanning in elke kanaal ingewikkelder maak en as dit nie goed bestuur word nie, sal dit tot ondoeltreffende opberging en vervoer lei.”
Aanlyn klante is ook glad nie so vergewensgesind oor voorraadtekorte soos dié wat in tradisionele winkels koop nie. Verskaffers móét dus voorspellingsontledings onder die knie hê.
Die groei in aanlyn verkope sal gepaard gaan met ’n groter behoefte aan inligting oor alle stappe in die verskaffingsketting. Dit sal van verbruikerskant af kom, maar kleinhandelaars sal sekerlik die verantwoordelikheid aan boere oorlaat. Boere sal data in werklike tyd moet kan verskaf, maar dit sal ook konvensionele winkels geld.
“Dit sal klante in staat stel om doeltreffender te sif. Stel jou voor jy kan jou vrugte en groente uitsoek volgens die bemestingstowwe wat tydens produksie toegedien is”
Boere kan ook hierdie inligting gebruik om verbruikers op te voed en om hul produkaanbiedings te onderskei van iemand ander s’n.
STERK HANDELSMERKE NODIG
Handelsmerke is nie ’n algemene gesig in die varsproduktebedryf nie, maar namate aanlyn platforms ál meer op direkte verkryging gaan staatmaak, is dit ’n goeie manier vir boere om hulself in die mark te posisioneer – en dit boesem vertroue in by verbruikers.
“Sulke handelsmerke kom egter met ’n mate van risiko, want die gehalte van die vars produkte moet strook met die handelsmerkbelofte. Goeie handelsmerke hou egter voordele in en kan help met winsgewendheid.”
Vrugte- en groenteverskaffers moet hulle derhalwe goed voorberei op al die uitdagings wat voorlê in ’n nuwe era van handel.
“Nou is die beste tyd om jou varsprodukte-besigheid te posisioneer vir die beste resultate. E-handelaars sal ál meer met gesofistikeerde verskaffers wil werk. Data-ontleding in die boerdery sal eerder die norm as die uitsondering word. Boere en verskaffers moet seker maak hulle het die vermoëns, tegnologie en prosesse wat iets soos AmazonFresh sal vereis, maar uiteindelik sal jy soos Amazon moet dink, en dis om die klant die hart van jou besigheid te maak.”