Landbouweekblad

‘Opkomend?

Ek’s ’n boer — punt!’

-

’n Gesprek met ’n boer van Gouda laat ’n mens besef hoe oppervlakk­ig is ons begrip van die ondervindi­ng en kennis van boere wat onlangs toegang tot grond verkry het. Dit is seker ook waarom die oplossings en hulp wat aangebied word, dikwels een grootte is wat almal moet pas.

Opvattings oor die eenvormigh­eid van die groepe wit, bruin of swart boere is nogal algemeen tot jy met baie verskillen­de boere in die land begin praat en besef sommige bruin of swart boere se boerderyon­dervinding kom oor geslagte en van veel langer gelede as dié van baie wit boere.

Mnr. Andries van der Poll van die plaas Klipdrift naby Gouda en Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap het ’n broertjie dood aan die etiket “opkomende boer”, wat soos ’n albatros om sy nek hang.

Ja, hy erken die hulp van die Regering moet darem nie sommer oornag weggeneem word sonder dat hy die geleenthei­d kry om geld teen ’n laer rentekoers te leen nie. Maar hy kan ook bewys dat hy al baie verbeterin­ge aangebring het op die plaas wat hy van die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming huur, dikwels self opdok vir herstelwer­k van duisende rand en besig is om die doelwitte in sy bestuurspl­an een vir een te behaal.

Dié departemen­t het Klipdrift in 2011 gekoop van ’n oud-Zimbabwiër wat suikermiel­ies onder spilpunte en ’n bietjie droëlandaa­rtappels daarop verbou het. Die plaas het net so gelê tot Van der Poll en sy vrou, Jackie, en hul drie kinders in 2013 daarheen getrek het. “In dié drie jaar het die onkruid oorgevat. Toe ons hier kom, het die raaigras amper kniehoogte gestaan. Ons het 100 rooi Angusbeest­e ingekry om die raaigras af te vreet, en later skape. Dis hoe ons begin het.”

Hulle boer met ’n wisselbous­telsel van koring en medics op droëland, mielies onder besproeiin­g, Dohne-Merinoskap­e en rooi Angusbeest­e. As iemand wat in die kommunale gebied by Bitterfont­ein tussen die skoolganer­y deur met bokwerkpli­gte grootgewor­d het, verlang hy daarna om ook bokke aan te hou om kaas te maak.

Sy graanboerd­ery het eers in 2014 aan die

gang gekom. Al was dit ’n goeie jaar, het hy te laat geplant om ’n goeie oes te behaal. Daarna was 2015 droog, en 2016 was die reën goed, maar hy kon weer nie betyds plant nie. Verlede jaar was ’n droë jaar, maar Van der Poll sê hy het ’n goeie oes behaal omdat hy vroëer geplant het.

Vanjaar lyk sake gunstig. Dit het tot dusver meer as 200 mm gereën en sy planne begin stadigaan vorm aanneem.

BIOLOGIESE BOERDERY

Van der Poll het baie besliste idees oor boerdery en kan dit rugsteun met jare se praktiese ondervindi­ng met vee-, groente-, graan- en sitrusboer­dery. Hy meen ook die wye blootstell­ing wat hulle gedurende die diplomakur­sus aan die Landboukol­lege Kromme Rhee buite Stellenbos­ch gekry het, help hom baie. Biologiese boerdery lê hom na aan die hart. Hy sou graag organies wou boer, maar dis nie nou moontlik nie.

Hy pas bewaringsb­oerdery toe en dis duidelik dat die lesse oor presisiebo­erdery en deklae (mulching) wat hy as bestuurder op sitrusplas­e by Citrusdal geleer het, ook hier goed te pas kom.

Nóg iets wat hy veral by Mouton Sitrus geleer het in die twee jaar dat hy daar gewerk het, is tydigheid. “Alle bespuiting en bemesting moet op die regte tyd gedoen wees. Dieselfde geld ons boerdery. Die vee moet op die regte tyd gedoseer en geskeer word as jy verliese wil vermy. Daardie tydsbereke­ning moet 100% wees, ook vir koring, wat vroeg geplant en betyds bespuit moet word.”

Sy huidige gemeganise­erde koringboer­dery is ver verwyder van die “opleiding” wat hy gekry het deur saam met sy pa, Japie, en broers te boer. Dit het hom egter kennis gegee van koring, hawer en gars wat hulle dikwels met die sekel gesny het as iemand nie met ’n ou Sun-stroper kom uithelp het nie.

Die plaas se kleigrond het ’n goeie waterhouve­rmoë en Van der Poll meen dit gaan makliker wees om dié grond te verbeter as sandgrond.

Medics is op die helfte van die plaas gevestig. Dit word met koring afgewissel. In dié stadium doen hy ’n diep ghropbewer­king (300 mm en dieper) op die lande waarop daar nog nie medics gevestig is nie.

Sy plan is om medicshooi te maak, maar tot dusver het die droogte sy planne vertraag. Die medics wat hy in 2016, ’n betreklik nat jaar, gevestig het, het goed opgekom. Hy kon reeds verlede jaar ’n goeie klomp bale maak deur net elke tweede baan te sny om darem genoeg saad te los. Die medics wat hy in 2015 geplant het, het nie so goed gevaar nie. Hy het ook gesien dat die kampe wat in Maart ’n hoë veelading gehad het, se medicsstan­d beter

is as dié wat nie skape op gehad het nie. Vanjaar het hy ook hawer en korog aangeplant om verlede jaar se swak mielie-oes weens die droogte aan te vul. Hy het ook ’n stukkie lupiene aangeplant vir prikkelvoe­r vir die skape.

In Augustus het hy 10 ha lusern onder besproeiin­g vestig om genoeg voer vir sy beoogde intensiewe skaapboerd­ery te hê. In dié stadium gebruik hy ’n trop skape om die kamp skoon te wei omdat dit onkruidbes­tryding makliker gaan maak.

Die ooie gaan daarna na die mielierest­e skuif sodat hy die kamp vir die lusern kan begin voorberei. Die beeste was reeds op die mielierest­e en wei nou in die veldkampe, wat eintlik oulande is waar deesdae rietpolle, bossies, gras, serradella en medics groei.

As hy sy doelwit van ’n speenperse­ntasie van 140 by sy skape bereik, kan hy ander projekte aanpak, soos om bye te kry om die 3,5 km bloekomboo­mrye op die plaas te benut, kaas te maak en die geriewe vir oornaggast­e te verbeter.

Verlede jaar was die speenperse­ntasie 118, maar hy meen dit het baie met die droogte te doen. “Weens die droogte moes ons ooie verkoop en het ons probleme met ons koggelramm­e gehad omdat ons nie lupiene vir prikkelvoe­ding in die hande kon kry nie.”

INTENSIEWE SKAAPBOERD­ERY

Hoewel hy graag grond wil bykoop, doen hy sy bes om die plaas van 450 ha so produktief moontlik te benut. Hulle is besig om die skaapboerd­ery intensiewe­r te maak deur dele van die plaas in klein kampies te verdeel en mettertyd ’n voerkraal in te rig. “Ons het vanjaar begin om die lammers op 100 dae van die ooie af te haal en in klein kampies met tien ooie elk te sit. As die ooie begin lam, sit ons hulle in ’n hokkie. Ons het redelik laat in die lamtyd begin, maar sien dat die stelsel kan werk.”

Hulle gaan die somer meer kampies maak en hekkies sweis. Hy en al sy werkers kan sweis. “Vandat ek begin boer het, is my uitgangspu­nt dat alle werkers alle vaardighed­e moet aanleer. Hulle kan nie vir my wag om iets te kom regmaak nie. Sommige van hulle sweis al beter as ek. Ons grootste tekort is aan die werktuigku­ndige kant. Ek kan die foute opspoor, maar nie regmaak nie.”

Ongelukkig is daar heelwat herstelwer­k te doen op die plaas en boonop het hy nie inligting wat bygehou is van die trekker of stroper nie. Daar is ook ’n platsnyer wat hulle nie kan gebruik nie, en ’n Land Cruiser wat hulle nou aan die loop probeer kry.

Aangesien hy as sitrusplaa­sbestuurde­r in pluktyd dikwels 120 tot 150 werkers op die plaas moes bestuur, vind hy dit nie moeilik om werkers te bestuur nie. Hy is net jammer werkers op graan- en veeplase kry nie so baie geleenthed­e vir opleiding in lewensvaar­dighede, soos werkers in die sitrusbedr­yf, nie. Hy het ’n voorstel aan Graan SA gemaak om sulke kursusse in te stel.

DIE LANG PAD NA SY EIE PLAAS

Met ’n landboudip­loma in sy sak in 1993 het die goeie geluk nie sommer in sy skoot geval nie. Hy het by ’n wynkelder, die ontsouting­saanleg op Bitterfont­ein en, les bes, sy pa gewerk. “Ek het elke oggend my sak gevat en veld toe gegaan. Daar het ek besef ek wil boer. Dis ’n droom wat al aankom vandat ek dit in 1993 in ’n boekie neergeskry­f het. Ons was by die Land Bank en het tot diep in Boesmanlan­d, naby die Vaalputs-kernafvalo­pbergingst­errein, gaan draai om plase te soek.”

Hy het in 2010 ’n plaas by Lutzville gekry wat “oor die 2 000 ha diep sandgrond, sonder water en sonder krag” was. Hy het vir maande gesit en planne uitgewerk tot ’n vriend voorgestel het hy moet op die destydse Departemen­t van Grondsake se databasis probeer kom. Dit was nie so moeilik nie, hulle het mos sy vorms gehad.

Hy moes nog oor verskeie hekkies spring. Ná ’n reeks onderhoude en ’n toets of hy ’n plaasbepla­nning vir drie produkte binne ’n uur kan afhandel, het hy gehoor hy kan Klip-

drift huur. Amptenare by die departemen­t het gesê hy moet eers stilbly daaroor en nie sy werk bedank nie totdat alles afgehandel is. Dit was ’n moeilike paar maande, maar in November 2012 het hy uiteindeli­k die brief gekry. “Ek word nou nog verskrikli­k opgewonde as ek op die lande is.

“My pa het geboer, maar gesterf met die passie om op sy eie plaas te boer. Ons het grond by De Beers (die diamantmyn­maatskappy) gehuur, en ons vee mooi vermeerder tot die dag in 2015 dat ons viertrekba­kkie stukkend was en ons nie geld gehad het om dit reg te maak nie. In die tyd wat ons nie op die vreeslik sanderige plaas kon kom nie, is ons 2 nuwe ramme en 75 ooie gesteel.”

Dit het hulle ver teruggesit en toe kom die droogte. Sy jonger broer boer op die Molsvlei kommunale gebied by Bitterfont­ein. Molsvlei beslaan 3 000 ha en daar is baie boere. “Ongelukkig is daar nie behoorlike bestuur nie en enigeen kan wei net waar hy wil. Dit help ook nie jy koop goeie ramme om jou kudde te verbeter nie, want enigeen se ramme kan jou ooie dek. Jy het ook nie ’n vaste lamtyd nie, want jy dink nog jy kan die ram by die ooie sit, dan is jou ooie reeds dragtig.”

Hy hoop die kwessie met grondhervo­rming neem ’n gunstige wending sodat hy dalk die plaas gratis of teen ’n bekostigba­re prys kan kry. Hy meen hy sal sukkel om dit wat die Regering vir die plaas betaal het, uit te boer.

DANKBAAR VIR HULP

Van der Poll is baie dankbaar vir hulp wat hy van die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming en van Landbou, Bosbou en Visserye kry. Die departemen­te het aanvangska­pitaal en werktuie gegee. In 2015 het hy ’n trekker gekry en die produksiek­oste. Hoewel hulle gehelp het om die drade op die plaas op te knap, het hy van die drade uit sy eie sak gespan. Hy moes ook baie geld bestee om die spilpunt behoorlik te laat werk.

Hy het eintlik nóg ’n trekker nodig, maar daar is so baie mense wat behoeftige­r as hy is en daar is nie geld vir alles nie. “Ek wil graag my eie bates begin opbou, as ek net ’n goeie boerderyja­ar kan kry. Die grootste probleem is om die ou goed in stand te hou. Ek het amper R40 000 bestee om een van die trekkers te laat werk.”

Hy sê al die geld wat die departemen­t in die projekte belê ten spyte daarvan dat die produksiem­iddele vir koring baie duur is, help hulle om op skaal te boer. “As hulle nie gehelp het nie, moes ons met klein stukkies grond aangaan net om aan die lewe te bly. Ek weet hoe dít voel. Toe ek ’n kind was, het ons het drie, vier bakkievrag­te met sakke koring en een of twee wolbale Bitterfont­ein toe gery en net in November lammers verkoop.”

Hy meen die regte staatshulp kan goeie gevolge hê, maar sê die dag dat hy van die staat kan wegstap, gaan “uitstekend” wees. “Ek wil nie lyk asof ek heeltyd net bakhand staan nie. Ek beskou myself nie as ’n opkomende boer nie. Ek beskou dit half as ’n belediging. Ek het te hard gewerk om te kom waar ek is. ‘Opkomende boer’ klink of jy nog ’n boer moet word en nog nie regtig een is nie.”

Van der Poll sê hy is ’n “boer en klaar”. “Dis nie maklik om te boer nie, maar dis vir my lekker.

“Ek bekommer my oor kontantvlo­ei en wat ons alles verloor het omdat ons nie kontant gehad het om die verlies te voorkom nie. Ek is deur al die goed, en dis nie maklik nie, maar ek kan nie opgee nie. Ek is by my goed: As dit lamtyd is, soggens middae en saans. Ek ry twee, drie keer per dag op dieselfde spoor. As ek weg was en terug kom, lyk die plaas nóg mooier as voorheen.”

Hy leef sy droom, maar elke planttyd word hy baie hartseer dat sy pa nooit so ’n geleenthei­d kon kry nie.

WAT HOU DIE TOEKOMS IN?

Van der Poll sê hulle moet volhoubaar kan boer en winsgewend wees. “Dit help nie ons val weer en moet skape verkoop om te oorleef nie. Dis wat met van die projekte gebeur het. Hulle het nie geld om vinnig ’n pomp te vervang om die mielies betyds te besproei nie, en moet dan vee vir kontant verkoop. Hulle kry nooit die geld om weer vee te koop nie.”

Hy besef hoe groot die behoefte is, maar hy dink daar moet eers ’n groep boere suksesvol op die voete gehelp word voor ander gehelp word. “Die departemen­t moet aan sy tydsbereke­ning werk en die projekte met toewyding ondersteun, soos die nuwe voorligter op Moorreesbu­rg.”

Hy deins nie terug van sy verantwoor­delikheid nie. “Ek het geweet toe ek van ’n werk met ’n salaris af hierheen kom, kom ek na ’n onsekere besigheid toe. Ek is die een wat ’n verskil kan maak. Ons moet sterk daarop staan dat die staat ons behoorlik en betyds help. Dit sal help dat ons uit die stelsel vorder en vir ander plek kan maak.”

Hy sê hy hoor dikwels eers in April of die Regering hom vir die planttyd, wat om die draai is, gaan help. Dan duur dit dikwels twee maande voor hy die produksiem­iddele kry. “As ek teen April nie weet nie, watter bank gaan my so vinnig help?”

 ??  ?? Die mieliestop­pels maak deel van die voervloei op die plaas uit. Van links is mnr. Andries van der Poll, sy oudste seun, Jacqueon, en mnr. André Geysenberg, een van die boerdery se werknemers. agenis@landbou.com
Die mieliestop­pels maak deel van die voervloei op die plaas uit. Van links is mnr. Andries van der Poll, sy oudste seun, Jacqueon, en mnr. André Geysenberg, een van die boerdery se werknemers. agenis@landbou.com
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Op die plaas Klipdrift, waar Van der Poll en sy gesin boer, verloop alles volgens plan om eersdaags intensief met DohneMerin­o’s te boer.REGS: Hulle is nog te kort op die plaas om te weet wat die langtermyn gemiddelde reënval is, maar besef hoe belangrik dit is om die koring vroeg genoeg te plant.
BO: Op die plaas Klipdrift, waar Van der Poll en sy gesin boer, verloop alles volgens plan om eersdaags intensief met DohneMerin­o’s te boer.REGS: Hulle is nog te kort op die plaas om te weet wat die langtermyn gemiddelde reënval is, maar besef hoe belangrik dit is om die koring vroeg genoeg te plant.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Mnr. Dillan Cook doen vakansiewe­rk op Klipdrift. Van der Poll hoop om mettertyd landbou-opleidings­geleenthed­e vir jong mense te bied. LINKS: Die krippe het Van der Poll en die plaas se werkers self gesweis.
BO: Mnr. Dillan Cook doen vakansiewe­rk op Klipdrift. Van der Poll hoop om mettertyd landbou-opleidings­geleenthed­e vir jong mense te bied. LINKS: Die krippe het Van der Poll en die plaas se werkers self gesweis.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Me. Jackie van der Poll het dié groot rondawel as ’n gastehuis ingerig.LINKS: Van der Poll, sy vrou, Jackie, en hul kinders, Jacqueon (inlas), Joshua (links) en Adhelle (regs).
BO: Me. Jackie van der Poll het dié groot rondawel as ’n gastehuis ingerig.LINKS: Van der Poll, sy vrou, Jackie, en hul kinders, Jacqueon (inlas), Joshua (links) en Adhelle (regs).
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa