Landbouweekblad

Jou verhaal: Skakerings van blou

Die laaste bloubloed-paneelklop­per op ’n klein dorpie en sy vrou was eenvoudige mense, sonder geld om rond te gooi. Maar ’n plan kon hy maak.

- Selfs die verf het deesdae ’n probleem geword, want daar is glo 50 skakerings van wit, wat nog te sê van al die ander kleure. Roelof Bezuidenho­ut is ’n boer en vryskutskr­ywer van Steytlervi­lle.

Natuurlik het die oom wie se bakkie so ’n rukkie gelede die been van ’n windpompto­ring afgehardlo­op het nadat hy vergeet het om die handrem op te trek, die bynaam Boetie Windpomp gekry. Hy het sy Ford Ranger geparkeer op wat hy gedink het is gelyk grond, terwyl hy gou gaan kyk het of die pomp – slegs 15 m verder af in die paadjie – water gooi. Hy was skaars daar toe die bakkie, sonder bestuurder, reguit op hom en die windpomp afpyl.

Met behulp van die bure en hul laaigraaf kon hulle darem weer die windpomp, wat nou skuins oor die bakkie se enjinkap gehang het, staan maak deur die stukkende been met ’n ysterpaal en draad te stut.

Maar die R20 000 skade aan die bakkie se neus en moddersker­m moes deur ’n geakkredit­eerde paneelklop­per herstel word voor die assuransie sou uitbetaal. En daar is nie meer sulke ambagsmann­e op klein dorpies nie – al is daar baie agterplaas-werkswinke­ls wat redelik goed kan duco.

Met die gesels oor dié sake vertel ’n ander oom van sy dorp se laaste bloubloed-paneelklop­per – ’n man wat destyds se harde karre (wat nog staalbuffe­rs voor en agter gehad het) met ’n hamer kon regslaan. Daar was nie die luukse om sommer die nodige panele te bestel en hulle dan net aanmekaar te plak nie. Selfs die verf het deesdae ’n probleem geword, want daar is glo 50 skakerings van wit, wat nog te sê van al die ander kleure. Destyds het jy maar die basiese kleure self gemeng en niemand het gekla nie.

In elk geval, die paneelklop­per en sy vrou was ou inwoners van die dorp; gawe mense wat maar ’n eenvoudige bestaan gevoer het. Die verste wat die tannie ooit van haar huis af was, was om oorkant die straat brood te koop. Die ou se oorpak het al styf gestaan van al die duco en sy bors was ook nie meer so lekker van al die lood inasem nie.

Hulle het egter ’n op-en-wakker dogter gehad wat alleen deur Europa geryloop het voordat sy, terug in Suid-Afrika, met ’n siviele ingenieur getroud is. Só het die dogter in hoë sosiale kringe begin beweeg – soveel so dat sy vir haar ma ’n uitnodigin­g kon kry na die jaarlikse teepartytj­ie van die burgemeest­ers- vrou van ’n naburige stad. Destyds was dit werklik ’n deftige affêre – net die room van die samelewing was welkom.

WAT OM AAN TE TREK?

Terwyl die dorp se vroue haar beny het, of selfs erg jaloers was op haar gelukkie, moes sy vinnig haar uitrusting vir die spoggeleen­theid beplan en agtermekaa­r kry. Haar skoonsuste­r het saamgestem dat haar lang, vlootblou nagmaalrok goed genoeg was, maar dat sy beslis bypassende skoene en ’n hoed sou moes aanskaf.

Daarvoor was daar nie geld nie. Toe kom haar paneelklop­perman met die plan om haar ou velskoene en pap, breërandho­ed blou te duco. Hy het pas ’n Fargo-bakkie oorgedoen, en daar het net mooi genoeg verf oorgebly vir twee dun lae om die bykomstigh­ede te skep.

Toe alles droog is, was die tannie heel tevrede voor die spieël – blou van kop tot tone en reg vir die hoge tee. Die dogter het die vorige aand al kom oorslaap sodat hulle vroeg kon ry en betyds wees vir die groot dag.

ONWEER SLAAN TOE

Onder die palmbome in die burgemeest­er se groot tuin het dinge aanvanklik goed verloop, met tafeltjies vol lekkernye en kekkelende vroumense. Dit was ’n aangename oggend, sonder ’n windjie of wolkie in die lug. En toe, uit die bloute uit, rol mis uit die see uit en dit begin reën, met die gepaardgaa­nde haelkorrel­s so groot soos albasters. Binne sekondes het die grênd gaste se papnat hoedens oor hul gesigte gehang, met maskara en ander aanplaksel­s wat oor hul wange stroom.

Net nie tant Pietie van die Karoo nie. Daai harde duco-gepantserd­e breërandho­ed het minstens haar bolyf teen die water beskerm. Mense wat naby haar verbygehar­dloop het op soek na skuiling sê dit het geklink soos ’n storm op ’n sinkdak. Wanneer ’n haelkorrel die tannie se hoed tref, het dit net “ge-pieng” en weggeskiet.

Dis nie seker of tannie Pietie ooit weer die hoed gedra het daar in haar droë wêreld nie, of wat van die blou vellies geword het. En ook nie of dit ’n ware storie is nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa