DIE ANDER SÊ
GRONDONTEIENING sonder vergoeding is ’n oortreding van internasionale regsbeginsels en kan Suid-Afrika baie meer kos as die markwaarde van die onteiende beleggings, sê mnr. Peter Leon, medevoorsitter van die Afrika-groep by die regsfirma Herbert Smith Freehills.
Hy sê in beginsel het ’n soewereine staat die absolute reg om onteiening as ’n manier te gebruik om geregtigheid en gelykheid te bevorder. Maar al is daar wêreldwyd geen konsensus oor wat toereikende vergoeding moet wees nie, is daar geen twyfel nie dat die internasionale gemenereg ’n stokkie voor onteiening sonder vergoeding steek.
Boonop is daar bilaterale beleggingsooreenkomste met talle ander state. Ingevolge daardie ooreenkomste het burgers van daardie lande die reg tot “onmiddellike en voldoende” vergoeding vir onteiening, asook om internasionale regshulp van Suid-Afrika te verhaal. Teen 2012 was 22 van die ooreenkomste bindend. Al is meer as die helfte intussen gekanselleer, is daar oorlewingsklousules wat beleggings nog jare lank daarna aanhou beskerm.
Suid-Afrika se ooreenkoms met China vereis byvoorbeeld dat die Chinese of Suid-Afrikaanse Regering vergoeding ten minste gelykstaande aan die markwaarde van die belegging moet betaal.
Leon sê hierdie eise kan uiters duur wees. ’n Eis van ’n Nederlandse groep beleggers het pres. Robert Mugabe byvoorbeeld $25 miljoen (R325 miljoen) gekos. Omdat hy nie betaal het nie, is beslag gelê op Zimbabwiese eiendom in New York en dit is op ’n veiling verkoop.
Suid-Afrika kan nie verwag om anders behandel te word nie. Uit Zimbabwe se ervaring kan ons leer onteiening sonder vergoeding beteken nie onteiening sonder koste nie.