NUWE GRONDEISE SKEP GROOT ONSEKERHEID
DIE voorstel dat restitusie-eise heropen word, is in die Parlement bespreek toe belanghebbendes bydraes oor dié kwessie voorgelê het. Dit volg nadat die Grondwethof die Parlement gelas het om teen Julie vanjaar ’n gewysigde wetsontwerp op die herstel van grondregte te verorden.
Ondanks die onafhanklike hoëvlakpaneel, onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe, se aanbeveling dat ’n alternatief so spoedig moontlik vir die ingediende private ledevoorstel van mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, rakende die wysigingswetsontwerp op die herstel van grondregte geformuleer word, stoom die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming voort om aan die ledevoorstel te werk. Die paneel het bevind dat die ingediende wetsontwerp nie kwessies ten opsigte van begroting en die vermoë om restitusie te laat geskied, takel nie.
Die paneel het gewaarsku dit versterk eerder die gevare waaroor die Grondwethof gewaarsku het rakende nuwe eise wat ou eise kan troef. Dié wysigingswetsontwerp, wat die eisproses in 2014 vir ’n tydperk van vyf jaar tot 30 Junie 2019 heroopgestel het, is op 28 Julie 2016 deur die Grondwethof ongeldig verklaar. Die hof se beslissing is gegrond op die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se versuim om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing voor die 2014-verkiesing afgehandel te kry. Altesaam 24 maande is toegestaan sodat die proses reggestel kan word.
GROOT ONSEKERHEID
Die heropening van restitusie-
eise sal tot onsekerheid lei wat belegging en ekonomiese groei sal benadeel. Dit sal ook onsekerheid oor eienaars se regte en verblyfreg veroorsaak terwyl eise ondersoek en afgehandel word, sê me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake. Die organisasie het sy kommentaar aan die portefeuljekomitee voorgelê.
Crosby het aangedui dat die heropening van die eiseproses tot nadeel sal wees van eisers wat reeds suksesvol hul grond teruggekry het, aangesien geen voorsiening in die private ledevoorstel gemaak word vir wanneer eise ingestel word op ’n stuk grond wat reeds aan ’n eiser oorhandig is nie.
Die voorstel kan ook meebring dat die staat dubbele vergoeding sal moet betaal waar grond wat in die vorige eisproses aan ’n eiser gegee is, afgevat moet word om op grond van die nuwe eisproses aan nuwe eisers te gee.
Die Alliance for Rural Democracy het op sy beurt gesê restitusie alleen kan nie die grond-
kwessie oplos nie en dat artikel 25 van die Grondwet as oplossing ingespan moet word.
“Die Parlement moet artikel 25 (1-9) toepas om die grondprobleme te takel, want die mense kan nie meer wag vir inligting uit argiewe nie. Ons het die grond nou nodig!”
Dié organisasie stel ook voor dat billike en regverdige vergoeding aan huidige plaaseienaars betaal word wanneer hul grond vir restitusie bekom word.
TIKKENDE TYDBOM
Die vakverbond Cosatu, wat die wetsontwerp ten sterkste ondersteun, sê die heropening van eise word verlang, aangesien baie Suid-Afrikaners hulle in ’n grondlose krisis bevind. Die vakbond het sy ontevredenheid met die sloering van die proses laat blyk.
Mnr. Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, sê die vakverbond is ook ontevrede omdat die Regering nie met die nodige dringendheid
beweeg om ander progressiewe wetsontwerpe deur te voer wat grondhervorming sal versnel nie. Die wetsontwerpe waarna verwys word, is die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta), die Wetsontwerp op Onteiening, die Wetsontwerp op die Beskerming en Ontwikkeling van die Landbou, die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit en die Wetsontwerp op Kommunale Grondregte.
Parks sê die Regering en die Parlement moet die miljoene mense wat van hul grond ontneem is, met erns bejeën. Verder moet plaaswerkers en -bewoners, asook mense wat in kommunale gebiede en informele nedersettings woon, sekerheid van verblyfreg kry. Genoeg ondersteuning en beskerming moet aan opkomende boere en die sektor as ’n geheel gegee word. “Ons prestasie tot nou toe is somber en eintlik ’n tikkende tydbom.”