SA BOERE DIE BESTE, MAAR . . .
SUID-AFRIKA se kommersiële boere is steeds van die bestes ter wêreld as in ag geneem word dat plaaslike boere die tweede minste regereringsteun ter wêreld geniet, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie (WFO), wat gereeld te doen kry met boere op al die vastelande.
De Jager was in Centurion ’n spreker in ’n gespreksessie by AgriHelp, ’n hulporganisasie vir ontwikkelende boere, oor die mededingendheid van Suid-Afrikaanse boere wêreldwyd. Hy het gesê Suid-Afrikaanse boere is die voorlopers in die ontwikkelende wêreld, maar dit gaan nie altyd so bly nie. “Elke Suid-Afrikaanse boer voed gemiddeld 1 500 mense drie keer per dag. Ons is egter besig om ons posisie as voorste boere te verloor weens navorsing wat agteruitgaan. Ons sal aan die voorpunt van tegnologie moet bly, by nuwe omstandighede moet aanpas en dinge anders moet doen.”
Hy sê ongelukkig is daar in meer as 20 jaar se demokrasie ook nie daarin geslaag om grondhervorming en boere-ontwikkeling met mekaar te versoen nie. “Dus bly dit ongelukkig nog ’n wit bedryf en kan jy die werklike groot, kommersiële swart boere op twee hande se vingers tel.”
De Jager sê mededingendheid gaan daaroor om die produk van keuse aan die regte mark te voorsien. Daar is drie verskillende markte: Een vir mense wat wonder of hulle vanaand iets gaan hê om te eet, een vir mense wat wonder wat hulle gaan eet en die derde mark, een vir mense wat wonder waar die kos vandaan kom wat hulle vanaand gaan eet.
Die eerste mark is vir die armstes in afgeleë gebiede wat van bestaansboerdery en hoofsaaklik stysel afhanklik is.
Die tweede mark is vir stedelike gebiede waar na voedingswaarde en waarde vir geld gekyk word, kommersiële boere die produkte lewer en huisvroue in supermarkte oor hul aankope besluit. Die derde mark is vir orkommersiële ganiese en ander produkte waar die rykes nie omgee om meer te betaal vir produkte van diere wat vrylopend is, produkte wat nie met chemiese middels behandel is nie, en produkte waarvan die oorsprong nagespeur kan word.
“Om mededingend te wees, moet ’n land in al drie markte suksesvol wees. As hy nie mededingend in die derde mark is nie, vloei daar nie die geld in die land in om die ander markte te versterk nie. Die groot kwessie is om soveel produsente moontlik so vinnig moontlik van die eerste mark na die tweede te laat vorder. Grondhervorming moet dit moontlik maak, anders misluk ons.”
De Jager het ook kritiek gehad teenoor bewaringsbewustes wat boere die bewaarders van die natuur wil maak sonder om self ook ’n groter bydrae te lewer.
“Die moderne landbou is nie natuurvriendelik nie. Die natuur verskaf nie surplusse nie. Dit is nodig dat boere skadelike insekte en roofdiere moet uitwis om ’n groeiende bevolking te kan voed.”
Hy sê niemand word meer deur klimaatsverandering geraak as boere nie en niemand kan meer doen om dit teen te werk nie. Dan moet almal buite die landbou egter ook ’n bydrae daartoe lewer.