BROODBAK MOONTLIK OORSPRONG VAN LANDBOU
Ons voorgeslagte het al begin brood bak voor daar vir die eerste keer geboer is, en die broodmaakproses het moontlik tot die ontstaan van boerdery gelei. Navorsers op ’n argeologiese terrein in die noordooste van Jordanië het in Julie aangekondig dat hulle die verkoolde oorblyfsels van platbrode, wat ongeveer 14 400 jaar gelede deur jagter-versamelaars gebak is, ontdek het.
Dit is die oudste bewyse van brood wat tot dusver gevind is en is sowat 4 000 jaar voor die begin van landbou. Dié bevinding stel voor dat die maak van brood met wildegrane as aansporing vir jagterversamelaars gedien het om grane te verbou, en het dus bygedra tot die landbourevolusie in die Neolitiese tydperk.
Navorsers aan die Universiteit van Kopenhagen, die Universiteitkollege van Londen en die Universiteit van Cambridge het die verkoolde voedseloorblyfsels van ’n 14 400 jaar oue Natufiaanse jagter-versamelaarterrein, bekend as Shubayqa 1 in die Swart Woestyn in die noordooste van Jordanië, ontleed. Die resultate wat in die vaktydskrif Proceedings of the National Academy of Science verskyn, verskaf die vroegste wetenskaplike bewyse vir broodproduksie.
“Die teenwoordigheid van honderde verbrande voedselreste in die vuurmaakplekke van Shubayqa 1 is ’n uitsonderlike vonds, en gee ons die kans om die 14 000 jaar oue voedselpraktyk te beskryf. Die oorblyfsels wat in die studie ontleed is, toon dat die wilde voorlopers van gekweekte graan, soos gars, einkorn en hawer, fyn gemaal, gesif en geknie is voor die bakproses. Die oorblyfsels is soortgelyk aan ongesuurde platbrode wat op verskeie Neolitiese en Romeinse terreine in Europa en Turkye gekry is. Ons weet dus dat broodagtige produkte lank voor die ontwikkeling van boerdery geproduseer is,” sê me. Amaia Arranz Otaegui, argeologiese plantkundige by die Universiteit van Kopenhagen en die hoofnavorser in die studie.
Prof. Tobias Richter, ’n argeoloog by die Universiteit van Kopenhagen, wat die opgrawings by Shubayqa 1 gelei het, sê die Natufiaanse jagterversamelaars is veral interessant omdat hulle in ’n oorgangstydperk geleef het waar mense ’n meer sedentêre leefstyl gelei en hul diëte verander het.
Vuurklip, sekellemme en maalsteenwerktuie wat op die Natufiaanse terrein in die Levant gevind is, het argeoloë laat vermoed dat mense plante anders en doeltreffender begin benut het. Die platbrode by Shubayqa 1 is die vroegste bewyse van broodmaak tot dusver en dit toon dat broodbak al ontwikkel het voor met die kweek van plante begin is. Dit kan beteken dat die vroeë en ongelooflik tydrowende produksie van brood gegrond op wildegrane, een van die hoofdryfkragte was vir die landbou-revolusie wat daartoe gelei het dat wildegrane gekweek is om geriefliker kosbronne te verskaf.
Me. Lara Gonzalez Carratero, ’n doktorsgraadkandidaat en prehistoriese broodkenner by die Universiteitkollege van Londen, het die verbrande voedselreste met elektroniese mikroskope ontleed.
“Die identifisering van ‘brood’ of ander graangebaseerde voedsel in argeologie is ingewikkeld. Daar is ’n neiging om klassifikasie te vereenvoudig, sonder om dit aan die regte identifiseringsnorme te toets. Ons het ’n nuwe stel reëls ingestel om platbrood, deeg en papagtige produkte in die argeologiese rekords te identifiseer. Ons kon elektroniese mikroskopie gebruik om die strukture van elke kosdeel te identifiseer.”
Volgens die navorsers sluit broodmaak arbeidsintensiewe prosesse in, soos die uitdop en fyn maal van die grane, asook knie en bak. Omdat dit reeds voor boerderymetodes ontwikkel is, dui dit daarop dat die behoefte om meer van dié spesiale kos te produseer, dalk tot die verbouing van grane vir kos gelei het.”
Die volgende stap in die navorsing is om te bepaal of die produksie en verbruik van brood enigsins die ontstaan van die kweek van plante en die veredeling daarvan beïnvloed het.