Landbouweekblad

NISSAN PATROL 5.6 V8 LE PREMIUM

-

Om te sê Nissan se Patrol is beter as die ikoniese Land Cruiser, is vir baie mense gelyk aan die agtste doodsonde. Maar sê nou dis waar?

Hoe verskil die twee op papier? Die Cruiser 200 drink diesel, waar die Patrol petrol gebruik. Voorspel dit ’n gruwelike brandstofr­ekening vir die Nissan, teenoor die Toyota? Wel, hulle is albei aan die dors kant. Toyota sê die Cruiser verbruik 10,2 liter/100 km. Volgens Nissan verbrand die Patrol ’n woeste 14,4 liter/100 km en “wen” dus loshande. Die Patrol moet egter net elke 15 000 km vir ’n diens gaan, teenoor die Cruiser se 10 000 km.

Die Toyota het tien lugsakke teenoor die Patrol se ses, maar die Nissan kap terug met ’n rithoogte van 272 mm teenoor die Cruiser se 230 mm.

Jy kan so ’n vergelykin­g lank uitrek, maar die uiteindeli­ke gevolgtrek­king is dat albei uitblink, maar in verskillen­de kategorieë.

Hoe is dit dan om met die Patrol saam te leef? Sy 5,6 liter-enjin is ’n monster en hy reageer dadelik as jy aan die petrolpeda­al raak. Dit laat ’n mens op elke grondpad soos ’n Dakar-kampioen voel. Daar is egter ontsettend baie speling op die stuur. Dit werk goed vir tegniese 4x4-roetes, maar kan senutergen­d wees op die oop pad.

Sy ritgehalte op swak paaie is goed, hoewel dit soms stamperig gaan omdat die Patrol ’n leerraamon­derstel het, nes ’n eentonbakk­ie.

Om hom weer vir ’n oomblik met die Toyota te vergelyk: Die agteras van die Cruiser 200 (en FJ Cruiser) spring soms ’n bietjie rond op ’n ongelyke grondpad, iets wat ek nooit by die Patrol opgemerk het nie. Teen 90 km/h op ’n sinkplaatp­ad wil ek veel eerder in die Patrol wees as in ’n Cruiser . . .

Een van die Patrol se beste kenmerke is sy enorme kajuit. Dié Nissan is een van die min 4x4’s wat sewe volwassene­s in gerief kan vervoer, en dis maklik om by die twee heel agterste sitplekke uit te kom.

Nog ’n lekker eienskap van die Patrol is die gevoel van onstuitbaa­rheid wat hy ’n mens gee. Dis hoe dit moet voel om saam met Eben Etzebeth, Bakkies Botha en Kobus Wiese by ’n kroeg aan die Oosrand op te daag. Jy voel onvernieti­gbaar. Ongelukkig kos die Patrol heelwat meer as ’n dubbel-cappuccino by Wiesenhof of ’n rum en Coke – ook bekend as ’n Boksburg-cappuccino.

Die slotsom: Ons gaan nie sê die Patrol is ’n beter ryding as die Cruiser nie, maar hy verdien ten minste ’n toetsrit. Ten minste . . .

Prys: R 1 353 500.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa