Volg reëls en behou weerstand
Weerstand teen Busseola fusca in Bt-mielies is vir die eerste keer in 2006 aangeteken. Dit is noodsaaklik om maatreëls in te stel om toekomstige weerstand uit te skakel.
Mieliestronkboorder, Busseola fusca, word sedert die vroeë 1920’s deur die hele Afrika suid van die Sahara as ’n ekonomies belangrike plaag erken. Dit lei tot groot oesverliese by mielies. ’n Belangrike oplossing was die ontwikkeling van geneties gemodifiseerde mielies met die Bt-geen wat stronkboorders doodmaak. Ongelukkig kan insekte weerstand teen Bt-mielies ontwikkel.
Weerstand is “’n genetiese afname in vatbaarheid van ’n veldbevolking teenoor ’n gifstof terwyl dit daaraan blootgestel word” (Tabashnik, 1994).
BT-MODIFIKASIE
Weerstandbiedende plantbevolkings kom reg oor Suid-Afrika se mielieproduksiegebiede voor, maar veral in besproeiingsgebiede en die koel Oos-Vrystaat. In 2011 is ’n nuwe Bt-modifikasie in Suid-Afrika bekend gestel om larwes te bestry wat weerstand teen MON810 bied. Die nuwe modifikasie, MON89034, gee uitdrukking aan twee Cry-proteïne: Cry1A.105 en Cry2Ab.
MON89034 B. fusca gee doeltreffende bestryding, maar ons moet uit vorige foute leer. Die grootste rede vir die ontwikkeling van weerstand teen Bt-mielies blyk boere se swak nakoming van die vereistes vir toevlugsaanplantings te wees (Kruger et al, 2009).
Die risiko van die teikenspesie se weerstand teen MON89034 sal verhoog as die korrekte toevlugsvereistes nie getrou nagevolg word nie. Sub-toksiese dosisse van die proteïen in mielieplante, tesame met boere wat nie lande monitor en ondersoek vir skade nie, asook die aanname dat die tegnologie werk, is ’n resep vir mislukking (Kruger et al., 2009). Weerstand kan ook die gevolg wees van laat aanplantings, ’n verlengde planttyd en hoë besmettings.
STRONKBOORDER
Om die wisselwerking tussen insek en plant te verstaan, is ’n goeie kennis van die biologie en lewensiklus ’n vereiste. Waarneming van die mot sal toon wanneer die larwestadium (kwesbaarste stadium) sal aanbreek.
Motte lê die eiers in pakkies op jong plante tussen die blaarskede van die eerste blare wat styf om die stam pas, en die stam.
’n Wyfiemot kan ses tot agt eierpakkies per siklus lê. Studies het getoon B. fusca verkies mielieplante bo sorghumplante van dieselfde grootte en ouderdom. Die larwes( neonates) broei ná sewe tot tien dae uit en migreer dadelik na die kelk (sappige nuwe groei) van die mielieplant.
Vanaf die derde instar (stadium tussen twee opeenvolgende vervellings) migreer die larwes na die basis van die plant. Hulle boor daar na binne. In gunstige omgewingstoestande van 25 °C en betreklike humiditeit van 50% tot 60% vorder B.
fusca slegs tot die vyfde instar, en dit duur maar net 35 dae.
Motte verskyn 10 tot 14 dae nadat die papiestadium begin het. Motte kom te voorskyn tussen sonsondergang en middernag en is net in die nag
aktief. Slegs wyfiemotte stel feromone vry. Paring vind in die eerste ses uur van die aand plaas. Manlike motte kan verskeie kere paar, maar slegs een keer per aand. Oviposisie (eierlegging) vind plaas vir drie of vier aande van die vyf tot sewe dae dat die mot lewe.
LOKVALLE
Die gebruik van feromoonlokvalle is noodsaaklik, hoewel dit tyd in beslag neem. Met motlokvalle kan die seisoenale verspreiding van motvlugte duidelik gedokumenteer word. As die lewensiklus van B.fusca hierbyingepasword,kandie stadium van ontwikkeling van larwes op lande met redelike sekerheid voorspel word. Dus sal dit nie nodig wees om elke dag vir skade te gaan soek nie, maar dat lande in die regte stadiums verken sal word vir die skade wat lyk soos haelskade.
Die moontlike opbou van weerstandige larwes kan tydens evolusie waargeneem word.
Pioneer Hi-Bred het van 2013 tot 2016 vier gebiede se motvlugte gemoniteer.
BT-TEGNOLOGIE
Sedert 2015 het verskeie saadmaatskappye in Suid-Afrika toegang tot die gebruik van die MON89034-proteïen verkry. Namate die eienskap deur middel van teling in die verskillende lyne ingebou word, sal meer kultivars met die dubbelgeen beskikbaar gestel word. Dit veroorsaak dat meer hektare van die dubbelgeen aangeplant gaan word, met ander woorde die bron waar weerstand kan opbou, is groter. Volg praktyke om stronkboorder te beveg, maar sonder dat weerstand opbou.
SPUIT KAN WERK
In sekere gevaargebiede waar motvalle gebruik word, word B. fusca goed bestry by selfs nieBt-mielies. Dan word bespuit op grond van die opkomsdatum, die aanvang van die motvlug en as ’n drempelwaarde van gemiddeld twee motte tussen drie valletjies per plek bereik word.
Twee bespuitings word twee weke uitmekaar gedoen, op grond van die larwes se ontwikkeling. Die spuitstof is gewoonlik ’n mengsel van ’n kontak- en sistemiese middel, opgevolg met ’n insekdoder wat nie nadelig is vir voordelige insekte nie.
TOEVLUGSGEBIEDE
Die bekendste van die strategieë is die aanplant van toevlugsgebiede. Die beginsel berus daarop dat die aangeplante gewas ’n hoë dosis van die Bt-proteïen besit om die teikeninsek dood te maak, en dat ’n nie-Bt-toevlugsgebied reg langs die Bt-land aangeplant word.
Die toevlugsgebied dien as bron van nieweerstandige insekte wat moet teel met die weerstandige volwassenes wat oorleef op die Bt-land. Die nie-weerstandige nageslag sal dan bestry word deur die hoë dosis proteïen binne die Bt-lande.
Die geskiedenis het ons geleer dat besproeiingsgebiede die vinnigste weerstand opbou. Weerstand teen MON810 het opgebou omdat daar nie aan die korrekte toevlugsvereistes voldoen is nie.
Aanvanklik is gemeen ’n baan of ’n paar bane in die middel van lande sou genoeg wees om aan die 5%-toevlugsgebied te voldoen, maar intussen het navorsing oor die vlugpatrone van die motte getoon die gebiede moet eerder buite of aan die windkant van die land wees.
Indien chemies opgetree moet word om stronkboorderlarwes te bestry, mag die toevlugsgebiede nie bespuit word nie, sodat meer nie-weerstandige motte oorleef. Boere moet dus seker maak dit is wel prakties uitvoerbaar.
REFUGE IN A BAG (RIB)
’n Ander meganisme vir die bestuur van weerstand by insekte (IWB) wat getoets word, is waar die nie-Bt-saad in dieselfde sak met Bt-mieliesaad gemeng word binne sekere voorafbepaalde verhoudings (refuge in a bag).
Hoewel dit prakties maklik uitvoerbaar is, bestaan kommer oor die doeltreffendheid om weerstand by hoogs migrerende insekte só te beperk. Daar is kommer dat groter larwes van nie-Bt-plante na Bt-plante migreer en sodoende blootgestel word aan nie-dodelike dosisse van die proteïen. Die heterosigotiese individue sal dan oorleef op die Bt-proteïen en sal bydra tot vervroegde weerstandevolusie.
AFNAME IN WEERSTAND
Enige insek kan weerstand opbou, maar alles word bepaal deur ekologiese, biochemiese en genetiese prosesse en of die jong larwes vinnig ontwikkel met meer as een geslag in ’n seisoen. Die strategie van ’n toevlugsgebied berus daarop dat die motte sal paar met weerstandige motte afkomstig van Bt-mielielande.
Die resultaat is ’n afname in weerstandige stronkboorders en ’n volgehoue vatbare bevolking van die insekte (Gould, 1998; Timari and Youngman, 2010).
Ons word genoodsaak om beter bestryding en regulatoriese programme toe te pas, dalk met ernstiger gevolge vir die nie-wetsgehoorsames.
Dit is tot elkeen se voordeel om toevlugvereistes noukeurig na te volg en te onderhou. Motlokvalle is nóg ’n meganisme wat ons moet gebruik om bestuursbesluite en navorsing te vergemaklik en probleemgevalle vroeg te identifiseer. Die gebruik van ’n stapelgeen, soos MON89034, tesame met die nakoming van die toevlugsgebiedsvereistes, is die enigste oplossing vir die bestuur van Bt-weerstandige stamboorderbevolkings in Suid-Afrika.