Landbouleiers moet nóú ’n verskil maak
Suid-Afrikaanse boere voel dalk hulle is tans reg in die middel van die storm. Maar agter elke donker wolk skyn die son tog. Boere moet dus hul oë oophou vir talle nuwe geleenthede en uitbreidings wat moontlik is danksy globalisering.
Ondernemers in enige bedryf, ook die landbou, moet in tye van merkbare onsekerheid op hul kernbesigheid toegespits bly om hul onderneming se praktyke teen die beste ter wêreld te meet.
Dit is deesdae nie meer goed genoeg om gemiddeld te wees nie. Verandering is vir die meeste bedrywe die norm. Die vermoë om verandering te kan bestuur en daarby aan te pas, is vir enige organisasie noodsaaklik. As jy jou boerdery só kan bestuur dat jy vinniger en beter by nuwe omstandighede kan aanpas as jou mededingers, hou jy die sleutel in om jou boerdery se mededingende voordeel te ontsluit.
Suid-Afrika kan homself nie van die wêreldwye kommersiële gemeenskap isoleer nie. Inteendeel, die land moet homself daadwerklik posisioneer om in die vraag na en aanbod van goedere en dienste vir die internasionale kommersiële gemeenskap aantrekliker te word.
Barclays (Brittanje), NTT (Japan), Marriot en Walmart (VSA) het die afgelope paar jaar wesenlike beleggings in Suid-Afrika gemaak. Die twee groot vervaardigingsaanlegte vir voertuie buite Port Elizabeth (FAW en BAIC) is getuienis van die vertroue wat dié twee Chinese maatskappye in die toekoms en stabiliteit van Suid-Afrika het.
Gegewe die politieke en sosiaal-ekonomiese probleme wat talle lande (spesifiek Europa en Suid-Amerika) vandag moet trotseer, kan Suid-Afrika hom- self posisioneer as ’n land wat ’n aantreklike beleggingsklimaat aan die internasionale sakegemeenskap bied.
Suid-Afrika is deel van die Brics-groepering (wat Brasilië, Rusland, Indië en China insluit). Die geleenthede wat dié handelsblok bied, word meer waardeer as die “S” gesien word as Afrika suid van die Sahara en nie net as Suid-Afrika nie. Die streek is die mees digbevolkte streek in Afrika en sluit Nigerië in. Suid-Afrika moenie net sy reputasie as die kommersiële brug vir ander lande tot dié streek behou nie, maar ook uit eie reg vir besigheid en beleggings aantreklik bly.
BEDREIGINGS EN GELEENTHEDE
China is een van die belangrikste beleggers wat groot beleggings in die landboubedryf van Zimbabwe en ewe merkbare beleggings in die vervaardingsektor vir voertuie in Suid-Afrika gemaak het.
Suid-Afrikaanse boere moet besef ons landboubedryf word dalk gesien as ’n integrale deel van die wêreldwye Chinese voedselprogram waarvolgens 1,5 miljard mense oor die volgende tien jaar van voedsel voorsien moet word.
Beijing het waarskynlik al ’n lys van ál die goeie melkboerderye in Suid-Afrika. Dit kan ook wees dat agente in ’n stadium in Suid-Afrika ontplooi sal word om ’n groot aantal van dié plase te koop. Boere wat gevra word, hoef natuurlik nie hul plase te verkoop nie, maar vir party van hulle sal dit ’n aantreklike opsie wees. Die produksie op dié pla- se sal sonder twyfel vir China bestem wees en dit sal tot ’n tekort aan melk vir Suid-Afrika lei. Dié tekort sal deur die skep van nuwe melkplase en indiensneming op daardie plase aangevul moet word.
’n Chinese bedreiging kan dus ’n groot geleentheid vir melkboere in Suid-Afrika wees. Dit is dié soort langtermyndenke waaraan die georganiseerde landbou en boere in Suid-Afrika meer tyd en aandag moet wy.
Jou strategie sal jou sukses of mislukking bepaal. Jou strategie moet eenvoudig wees en op die volgende vrae gegrond word: Hoe lyk die mark vir my produkte? Wat het my klante nodig? Hoe voorsien ek in my klante se behoeftes? Hoe maak ek geld? Wie kan my verhinder om geld te maak? Die laaste vraag is die belangrikste. Jou strategie dui aan hoe jy met mededingers sal afreken of saamleef. Die antwoord op dié vraag is belangrik, veral as jy daarna streef dat jou boerdery vinniger moet uitbrei as wat die mark en vraag na jou produkte toeneem. Jy sal daadwerklik besigheid by ander plaaslike of oorsese boere moet afneem met wie jy om dieselfde plaaslike en/of oorsese markte meeding.
Boere wat hul ondernemings of boerderye net goed bestuur, sal waarskynlik die landbou verlaat, want goeie bestuur alleen is nie meer goed genoeg nie. Wêreldklasmaatskappye van alle groottes is heeltyd op soek na bewese leierskap op alle vlakke. Leierskap bring denke op langer termyn na die direksietafel. Leierskap gee ’n haalbare ontleding van die onderneming se sterk en swak punte. Leierskap bevorder ’n skeppende en innoverende atmosfeer en ’n gewilligheid om te verander om kanse wat verandering bring, aan te gryp, pleks van bedreigings die hoof te bied.
Danksy die smeltkroes van sy onstuimige geskiedenis het Suid-Afrika se boere reeds ál die leierskap wat nodig is om van die landbou ’n sukses te maak in ’n veranderende wêreld. Leiers in die landboubedryf moet hulself nóú onderskei.
Onthou, strategie is wat jy doen en nie wat jy sê jy gaan doen nie. Woorde wek, maar voorbeeld trek. Jy moet jou strategie vinnig en doeltreffend in werking kan stel, selfs al beweeg jy teen ’n spoed wat vereis dat jy berekende risiko’s moet neem.
GEVOLGTREKKING
As jou sakeplan soos ’n dieet lees, moet jy dit oorskryf. As jou sakeplan egter soos ’n oorlogsplan lees, kan jy gerus voortgaan! Verloorders en kleingelowiges gaan in dié veranderende wêreld waarin ons onsself bevind, verdwyn, terwyl die nuwe wenners van môre groot hoogtes gaan bereik.
Waarom moet die landbou anders wees? Gaan voer die stryd en maak ’n verskil!
BRON: Voordrag deur prof. John Westwood, Agri SA se Oos-Kaapse kongres, Aug. 2018, Jeffreysbaai.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.