Sówerk inhegtenisnemings
In Suid-Afrika word onderskei tussen publiek- en privaatreg. Publiekreg gaan oor die verhouding tussen die staat en burgers, waar die staat mense aankla en die bewyslas dra. Die privaatreg reël die verhouding tussen burgers.
As iemand weens ’n oortreding aangekla, aangehou of in hegtenis geneem word, moet dit vir ’n geldige misdryf wees.
Vir strafsake word ’n mens amptelik by ’n polisiekantoor aangekla. Die ondersoekbeampte (speurder) ondersoek die klagte en die aangeklaagde word soms gearresteer nadat die staatsaanklaer ’n lasbrief vir inhegtenisname uitgereik het.
Waar ’n persoon op heterdaad betrap is, kan die misdadiger op die plek, sonder ’n lasbrief, gearresteer en later formeel aangekla word. Die misdryf moet gedefinieer wees en in die wetboeke verskyn. Die aangekeerde moet binne 48 uur formeel aangekla word, anders word hy/sy vrygelaat. Hier volg ’n paar misdade en hul definisies:
Moord. Die staat moet bo redelike twyfel bewys ’n mens is doodgemaak en dat dit wederregtelik en opsetlik (nie nalatig nie) was en dat die beweerde moordenaar nie ’n goeie rede, soos noodweer, kan opper nie. Noodweer word aangevoer as jou eie lewe bedreig was. Strafbare manslag. Die beskuldigde het nie die opset gehad om ’n persoon dood te maak nie. Hy kon beskonke gewees het of uitgelok (provokasie) gewees het. Aanranding. Opsetlike toevoeging van geweld aan ’n ander of ’n dreigement om geweld toe te voeg. Dit kan net ’n vingerwys wees of ’n ligte stampie of om aan die ander iets te sê wat ’n dreigement inhou. Crimen injuria. Opsetlike aantasting van ’n ander se waardigheid of privaatheid.
Strafregtelike laster. Wederregtelike en opsetlike publikasie van aantygings teen ’n ander om sy/haar goeie naam skade aan te doen. Dit is dus voor ander gedoen of ander kon dit sien op foto’s of kon daaroor lees.
Diefstal. Wederregtelike en opsetlike toeeiening van ’n ander se roerende eiendom. (’n Mens kan nie onroerende goed, soos ’n huis, steel nie.)
Roof. Opsetlike, gewelddadige toeëiening van ’n ander se roerende goed.
Bedrog. Die opsetlike maak van ’n wanvoorstelling tot nadeel van ’n ander.
Vervalsing en uitgifte. Wederregtelike opstel van ’n valse dokument om daarmee te bedrieg tot nadeel van ander.
Saakbeskadiging. Wederregtelike en opsetlike skade aanrig aan ’n ander se goed of aan jou eie, om byvoorbeeld by ’n versekeraar te eis.
Brandstigting. Opsetlike aan die brand steek van ’n ander se goed of jou eie, om byvoorbeeld van ’n versekeraar te eis. Huisbraak met die opset om ’n misdaad te pleeg. Wederregtelike en opsetlike oopbreek en binnegaan van ’n gebou of struktuur om daarbinne ’n misdryf te pleeg.
Afpersing. Wederregtelike en opsetlike verkryging van ’n voordeel deur druk te plaas op ander om hom/haar te beweeg om die voordeel te gee.
Openbare geweld. Wederregtelike en opsetlike handelinge van persone om die openbare rus en vrede te versteur of om inbreuk te maak op ander se regte.
Intimidasie. Wederregtelike en opsetlike doen of late van ’n persoon sodat ’n ander bedreig is en gedwing word daardeur om iets te doen of nie te doen nie, uit vrees vir sy/haar veiligheid. Meineed. ’n Valse verklaring onder eed.
Omkopery. Wederregtelike en opsetlike gee en ontvang van ’n voordeel aan ’n staatsamptenaar in ruil vir sekere gedragswyses in die toekoms of verlede, in die amptenaar se amptelike hoedanigheid. Strafsaak-misdrywe vorm deel van die nasionale wette wat deur die hoogste wetgewer (Parlement) in statute (wetboeke) gepubliseer is. Ander oortredings is vervat in munisipale verordeninge, soos misdrywe oor bouregulasies, geraas- en lugbesoedeling, openbare vervoer en straathandel.
Indien ’n mens aangehou word, moet dié inligting so gou moontlik bekom word: Wie die ondersoekbeampte is. Sy kontaknommer. Of jy amptelik aangekla is. Watter misdryf en watter artikel van watter wet jy oortree het; en Waar jy aangehou word. Inligting moet jou prokureur bereik sodat hy weet waarvoor hy hom inlaat en jy moet toegelaat word om iemand te bel.