Boersitmethandeinhare oor flou sonkrag
Vir ’n familieboerdery in Limpopo het ’n sonkragstelsel na die ideale oplossing vir hul voortslepende elektrisiteitsprobleme gelyk, maar nou blyk dit dat die installeerder van die stelsel dalk kortpaaie gevolg het wat hulle duur te staan kom.
Net 20 minute sonder krag kan die Hanfra-boerdery in die warm Waterberggebied van Limpopo ’n hele oes kos.
Mnr. Francois Fouché en sy pa, Hennie, verbou hier soetrissies, tamaties en ander groente in sewe kweekhuise wat saam 3,5 ha beslaan.
In die somer word die temperatuur in die kweekhuise beheer met elektriese waaiers wat vogtige lug deur die huise trek. Die boerdery is dus regdeur die jaar van betroubare kraglewering afhanklik.
Toe beurtkrag die eerste keer in 2008 ingestel is, het Hennie ’n 150 kVA-kragopwekker geïnstalleer om sy boerdery teen onbetroubare kraglewering te beskerm. Daar was toe net vier kweekhuise en die kragonderbrekings was geskeduleer. Die boerdery kon dus daarvoor begroot en die koste bestuur.
Twee belangrike veranderings het egter in die afgelope tien jaar plaasgevind. Die boerdery het in 2010 uitgebrei en in grootte verdubbel. Tweedens het die Mookgophong-munisipaliteit se bestuur in so ’n mate agteruitgegaan dat daar geen manier was waarop die Fouchés kon bereken hoeveel uur en hoe gereeld hulle op bystandskraglewering sou moes staatmaak nie.
Sonkrag was die logiese oplossing. Selfs die bank het ’n belegging in sulke infrastruktuur as die moeite werd beskou en het hulle met ’n lening daarvoor bygestaan.
’n Vriend van die Fouchés wat hoof was van ’n groenkragmaatskappy, is na die boerdery genooi om te kwoteer vir ’n sonkragstelkrag
sel. “Hulle het baie moeite gedoen om ons boerdery se behoeftes en die bestaande stelsel te ontleed en te verstaan,” vertel Francois.
Die kweekhuise se bystandstelsel word as ’n noodsaaklike stelsel beskou, soos by hospitale, en die krag moet altyd aan bly, sê hy.
Kort nadat hulle die maatskappy se kwotasie in 2015 aanvaar het, het die installeerders op die plaas begin werk. Die eerste taak was om ’n sonplaas van 200 sonpanele op te rig. Hierdie panele moes die afhanklikheid van die munisipale kragnetwerk verminder en ’n batterybank laai, wat dan deur omskakelaars aan die stelsel verskaf tydens munisipale kragonderbrekings.
“Ons was baie beïndruk deur die netheid van die installeerders se werk en die professionele manier waarop die tegnici die projek uitgevoer het,” sê Francois.
Nadat die projek afgehandel is, was die
installeerders egter nog nie eens terug in Port Elizabeth nie, toe skop die stelsel die eerste keer uit.
“Ons het soos mal goed rondgehardloop en kweekhuise se deure oopgemaak in ’n poging om ons plante te red,” onthou Francois.
“Dit was April, en gelukkig was dit nie meer so warm soos dit van November tot Februarie hier in die Bosveld is nie.”
’n Plaaslike elektrisiën het volgens telefoniese aanwysings van die installeerders na die fout gesoek en agtergekom dit is ’n sekering tussen die batterye en die omsetters wat te klein is en uitgebrand het. Die elektrisiën het dit tydelik oorbrug. Sowat drie weke later was die installeerders van Port Elizabeth daar om ’n groter sekering te installeer.
Dit was die begin van ’n lang rits probleme wat nou op ’n siviele eis teen die installeerders van die stelsel uitgeloop het.
KYK NA DIÉ ASPEKTE
Francois en Hennie sê boere wat op sonkragstelsels wil staatmaak om op hul kragrekening te bespaar of om dit as bystandsenergie te gebruik, moet seker maak hulle gebruik ’n installeerder met ervaring van landbouinstallerings.
“Kry verwysings, gaan kyk hoe lyk hul werk en praat met boere wat al van hulle gebruik gemaak het,” sê Francois.
Hy sê boere moet ook aanvaar dat hulle Eskom nog nodig gaan hê en dat dit lank gaan duur voor dit ekonomies sin sal maak om heeltemal sonder ’n netwerkaansluiting van die een of ander aard klaar te kom.
Francois beveel aan dat mens goeie batterye koop. “Alle batterye word in China vervaardig. Jy moet sorg dat jy dié van die beste gehalte, maar wat bekostigbaar is, koop as jy batterybystand gaan nodig hê.”
Hy verduidelik dat hul stelsel nooit mag afskakel nie en dat die batterybank ’n minuut of twee ál die motors aan die gang moet hou terwyl die omskakeling van Eskomkrag na sonkrag plaasvind tydens ’n kragonderbreking.
Hy wys ook daarop dat batterye en selfs sonpanele doeltreffender is wanneer dit koeler is. Daarom moes hulle ’n lugverkoelingstelsel in die skeepshouer aanbring waar die batterybank gehuisves word. Koeler temperature verleng die batterye se leeftyd met etlike jare. Francois noem dat die behoefte aan verkoeling in die kweekhuise egter ook minder is in die winter. Daarom wek die stelsel ekstra elektrisiteit op.
’n Batterybank met diepsiklusbatterye kan lank en egalig krag lewer, maar elektriese motors het gewoonlik ’n spitslewering nodig om aan die gang te kom. As die batterye nie daarvoor gemaak is nie, veroorsaak dit dat die motors met tye uitskop of afskakel. Francois sê dit sal beter wees om wisselspoedmotors te gebruik, maar sulke motors is baie duurder as gewone elektriese motors.
Hy het ook geleer dat Europese
‘Ons het soos mal goed rondgehardloop en kweekhuise se deure oopgemaak in ’n poging om ons plante te red.’
omskakelaars vir Eerstewêreld-kraglewering gemaak is. Die oneweredige voltladings van munisipale kragnetwerke op die platteland maak dat die omskakelaars eenvoudig afskakel. Hulle is ontwerp om met 210 V tot 260 V te werk en skakel af wanneer lewering buite hierdie drempelvlakke daal of styg.
PAP BATTERYE
Francois sê die installeerder het hulle verseker die batterystelsel kan die hele boerdery se waaiers tot agt uur lank dra as daar ’n kragonderbreking is en die sonkragstelsel om die een of ander rede nie krag opwek nie. Dit was egter geensins die geval nie.
Soms skakel die stelsel ná ’n paar minute af, dan lewer die batterye omtrent 46 V pleks van 48 V. Die stelsel is egter só opgestel dat die dieselkragopwekker aanskakel sodra die batterybank se voltlading benede 46 V daal.
“Pleks van agt uur hou die batterystelsel net ’n paar minute – soms drie minute, partykeer 15 minute,” sê Francois.
Die oplossing – ’n groter batterybank – is weer eens voor die hand liggend, maar, soos met wisselspoedmotors, klop die som nie meer as jy dit doen nie. Dan bevind die boer homself in ’n winsgewendheidsknyptang. “Ons vertrekpunt was bekostigbare doeltreffendheid en ons berekenings was gegrond op ’n stelsel wat oor sewe jaar terugbetaalbaar is.”
Francois beveel ook aan dat boere eerder installeerders gebruik wat naby aan hul boerderye geleë is. “Hoewel baie deesdae met die internet bestuur kan word, wil jy steeds tegnici hê wat binne ’n dag kan uitkom.”
Boere moet ook aandring op ’n sertifikaat van voldoening voordat die installeerders betaal word. “Onthou, selfs sonkrag is ’n elektriese installasie en moet aan die wetlike vereistes van munisipaliteite voldoen.”
Francois sê hulle het byvoorbeeld agtergekom dat van die kabels wat gelê is, dunner is as wat dit moes wees. Dit het dus só warm geword dat ’n mens nie daaraan kon raak nie.
Hy sê ’n mens kan by organisasies, soos die Suider-Afrikaanse vereniging vir alternatiewe energie (www.saaea.org) en die Suid-Afrikaanse raad vir hernubare energie
(www.sarec.org.za), aanklop vir ekstra inligting en hulp.
Hoewel hulle baie probleme het, meen hy sonkrag kan ’n goeie bystandstelsel wees en boere op hul kragrekening help bespaar, mits die installasie reg gedoen word.