Pikantrissies groei fluks in Oos-Kaap
Pikantrissies uit die Oos-Kaap word reg oor die wêreld versprei en geniet. Dié klokvormige rissies is die voedselverwerker Carara se vlagskipproduk en skep honderde werkgeleenthede in die provinsie.
In die somermaande lyk dit in die Belmontvallei buite Grahamstad asof boere klein kersboompies met versierings en al kweek. Dis egter pikantrissieplantjies – donkergroen met helderrooi vruggies – wat so welig groei.
Pikantrissies (cherry peppers in Engels) is ook bekend as Peppadews, ’n geregistreerde handelsnaam vir dieselfde plant.
Mnr. Dave Duncan, groenteboer van die plaas Varnam, het by die bedryf betrokke geraak toe hy vier Zimbabwiërs, mnre. Shane Moran, Mike Einhorn, Mike Duxbury en Gary Booth, ontmoet het. Hulle het 14 jaar gelede na Suid-Afrika gekom met die oogmerk om pikantrissies hier te verbou. Hulle het saad saamgebring en boere gesoek wat dit vir hulle sou plant. Die volgende stap was om die maatskappy Carara te stig, wat die vruggies verwerk en verpak.
WERKSKEPPERS
Hoewel seisoenaal, is Carara deesdae een van die grootste werkgewers in die Grahamstad-distrik. Naas die pikantrissiebedryf in Limpopo is Carara die grootste pikantrissieverskaffer ter wêreld. Sowat 15 boere van sover as Stutterheim en George lewer op kontrak aan Carara. Pikantrissies word op ongeveer 85 ha in die distrik Albany verbou en op 50 ha naby Stutterheim en George.
Dave verbou sowat 13 verskillende groentesoorte, soos vlapampoentjies, aspersies, spinasie, broccoli en jalapeñorissies. Hy het ook onlangs begin om vars knoffel te verbou, wat hy na Nederland uitvoer. Verder staan daar 300 pekanneutbome op die plaas wat sy pa, Jimmy, al in 1990 aangeplant het.
Maar hy sê die beste ding wat hy nóg gedoen het, was om ’n aandeel in die Carara-verwerkingsaanleg te bekom. In 2004 het hulle met 400 ton begin en vandag word meer as 2 000 ton verwerkte pikantrissies deur die fabriek gelewer.
In spitstyd werk daar sowat 1 000 mense by die aanleg, wat net agt maande van die jaar in gebruik is, maar dan teen twee skofte van nege uur elk per dag werk.
Sommige boere lewer die vars pikantrissies af en ander piekel self die vruggies, verpak dit in groot maat en lewer dit dan aan die fabriek.
95% UITGEVOER
“Dit het lank geduur om ’n mark te vestig en die vraag na produkte te ontwikkel, maar dit is nou van so ’n aard dat ons nog ’n fabriek, genaamd The Natal Pepper Company, naby Ladysmith kon open,” vertel Einhorn, besturende direkteur van Carara.
Hulle woon elke jaar die groot kosskoue in Parys, Frankryk, en Keulen, Duitsland, by om hul produkte ten toon te stel. Dit word gedoen met die ondersteuning van die Departement van Handel en Nywerheid, wat vir die stalletjie by die skoue betaal.
“Dit het baie gehelp om die produk bekend te stel, te bemark en om nuwe produkte te toets. Ons het nou gevestigde agente en bemarkers in die Europese Unie en Australië en het ook markte in Rusland en Israel gevestig.”
Amerika het ook al klein volumes geneem, maar hulle meen daar lê nog heelwat potensiaal in dié mark.
Die twee fabrieke verwerk die pikant- rissies en ander produkte en verpak dit meestal in groot maat. Sowat 95% daarvan word uitgevoer.
“Ons het nou ’n pasteurisasiestelsel aangeskaf sodat ons die pikantrissies sonder preserveermiddels in 5,5 kg-blikke kan verpak. Dit word dan in Europa verder verwerk, met gegeurde roomkaas gevul en in kleiner bottels en bakkies verpak en deur groot kettingwinkelgroepe versprei.”
Tans word net ’n klein volume vir die plaaslike mark verwerk en in die omgewing versprei. Dit is veral Carara se sout-soet blatjang, saam met ’n stukkie kaas en ’n soutbeskuitjie, wat die Oos-Kaapenaars al jare lank gaande het.
PLOEG TERUG IN GEMEENSKAP
Dis vir die maatskappy belangrik om in die gemeenskap terug te ploeg. Hy finansier baie kleuterskole, sopkombuise en ander projekte in die omgewing.
“Ons het tans 23 mense wat heeltyds werk. Die res is seisoenswerkers. Ons probeer innoveer met idees en produkte wat die fabriek deur die res van die jaar aan die gang kan hou. Dit kan net goed wees vir indiensneming, die omliggende gemeenskap en die besigheid om beter waarde vir ons oorhoofse koste te kry,” sê Einhorn.
Die heeltydse werkers het vaardighede aangeleer en hulle het gehelp om ’n pakhuis in die nywerheidsgebied op te rig. Van daar
word die produkte deur die jaar versprei. Hy sê hul hoofbestuurder, mnr. Danie Jansen van Rensburg, ’n opgeleide voedseltegnoloog, is nou betrokke by resepontwikkeling en nuwe produkte om die fabriek heeljaar te kan benut.
Naspeurbaarheid is ook ’n belangrike aspek van die bedryf. Dié verantwoordelikheid lê by mnr. Rudi Williams, ’n fabrieksbestuurder wat sedert 2004 by Carara werk. Dit is sy werk om toe te sien dat elke lotnommer van elke produk nagespeur kan word en om toesig te hou oor die werkers wat die pitjies uit die kern van die vruggies haal.