4 000 PLASE IN STAATSBESIT
Waarom het grond so ’n emosionele saak geword? Die Regering skep telkens voor ’n verkiesing groot verwagtinge oor grond, en ná die verkiesing gebeur daar niks. Die skuld vir die stadige vordering met grondherverdeling word dan telkens op wit boere en die Grondwet gepak.
Die fout lê nie by die Grondwet of by die boere nie. Die meeste boere, TLU SA en Agri SA het al talle voorstelle gemaak oor hoe om die probleem op te los. Die Regering ignoreer hierdie voorstelle.
Mnr. Gugile Nkwinti, voormalige Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het erken dat nege uit elke tien grondoordragte misluk het en dat die plase tans nie produktief is nie.
Elke jaar is ongeveer 5% van alle grond op die ope mark te koop. Daar is sedert 1994 genoeg geld vir grondhervorming begroot om jaarliks van hierdie grond te koop. Só kon meer as 40% van grond reeds in swart hande gewees het.
Deur die Regering se lomp werkswyse word dubbeld die gewone prys vir grond betaal. Ná ’n suksesvolle grondeis koop die staat die plaas vir byvoorbeeld R5 miljoen. Tot 92% van die grondeisers verkies eerder kontant as die grond. Dan moet die staat ’n verdere R5 miljoen kontant aan die grondeisers betaal. Die hele transaksie kos die staat nou R10 miljoen. Die duur grond bly egter in die besit van die staat. Daar is tans meer as 4 000 plase in staatsbesit.
In die ANC se Nasionale Ontwikkelingsplan, wat in 2012 op
sy Mangaung-kongres aanvaar is, word voorgestel dat grondherverdeling op distriksvlak gedoen word. Boere en ander belanghebbendes van die distrik kom bymekaar en identifiseer 20% grond waar swart boere in die distrik gevestig kan word. In meeste distrikte is daar 20% grond te koop of boere wat wil ophou boer. Die staat betaal 50% van die koste vir die 20% grond, die wit boere lewer ’n bydrae en tree as mentors vir die nuwe swart boere op. Daardeur kry die 80% wit boere swartbemagtigingstatus, wat beteken dat hul eie grond daarna veilig is.
Hoe ver hierdie voorstelle kan werk, weet ons nie, want dit is nog nooit in werking gestel nie.
Die blaam rus dus vierkant op die Regering en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se skouers wat 24 jaar lank geld gemors en talle voorstelle oor hoe om die probleem op te los, geïgnoreer het.
Die ANC se eie paneel van kundiges, onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe, bevestig dat die fout hoofsaaklik by die Regering en die departement lê. In hul verslag wys hulle daarop dat korrupsie, ondoeltreffende amptenare, die gebrek aan oordrag van eiendomsreg en die bevoordeling van regeringslede die belangrikste probleme is.
Suid-Afrika kort baie meer suksesvolle swart kommersiële boere met titelaktes vir hul grond. Om daarin te slaag, moet ons die ontwikkelde lande se patroon volg en nie dieselfde foute as baie Afrika-state maak nie.