Onteiening: Wie moet die lening betaal?
AS boere se grond onteien word, sal hulle ingevolge huidige wetgewing en regulasies steeds aanspreeklik wees vir skuld wat hulle aangegaan het, sê mnr. Dawie Maree, hoof van bemarking en inligting by FNB se landbou-afdeling.
Maree was ’n spreker op die Wagyu-beestelersgenootskap se jaarvergadering en het onder meer oor dié tema, asook die sogenoemde Ramaforie en Ramarealiteit gepraat.
Volgens Maree het die aanvanklike optimisme, oftewel Ramaforie, oor pres. Cyril Ramaphosa afgeneem.
Hy meen dat Ramarealiteit heel anders lyk en dat die wisselkoers, brandstofpryse en ekonomiese data baie plofbaar gaan wees.
Maree verwag ’n lae ekonomiese groeikoers en baie politieke lawaai in die komende jare, maar hy is steeds optimisties oor verwagtinge vir die landbou.
Hy het konferensiegangers verseker dat FNB soos normaalweg sake sal doen en sal aanhou om in ondernemings en boerderye te belê.
DUIDELIKHEID NODIG
In ’n onderhoud met Landbou. com het Maree gesê banke wil ook duidelikheid van die staat hê ten opsigte van die gronddebat en onteiening sonder vergoeding.
“Die Bankvereniging van Suid-Afrika handhaaf die siening dat grondhervorming moet plaasvind, maar op ’n verantwoordelike en ekonomies volhoubare grondslag.”
Volgens Maree wil banke, soos baie ander belanghebbendes, ook duidelikheid hê oor hoe die staat beoog om onteiening sonder vergoeding toe te pas.
“Die huidige kredietwetgewing en regulasies bepaal dat as jy vir ’n lening teken, bly jy verantwoordelik vir daardie lening. In baie gevalle gaan boere in hul persoonlike hoedanigheid lenings aan, wat beteken boere sal steeds vir daardie skuld verantwoordelik wees.”
As onteiening sonder vergoeding plaasvind, sal daar ook toetssake daaroor in Suid-Afrika se howe gaan draai, sê Maree.
–