‘POLITIEKE GERAAS’ IS TOT 2019 SA SE VOORLAND
‘Lê klem op die geheel en op produksie, ondanks die politieke onsekerhede.’
ONSEKERHEID sal in SuidAfrika heers en baie politieke geraas sal plaasvind tot die verkiesing volgende jaar – en dit beïnvloed die ekonomiese wisselvalligheid van die land. Geen beleidsekerheid en min ekonomiese groei kan verwag word tot met die verkiesing.
Dié waarskuwing kom van mnr. Dawie Maree, hoofekonoom van Eerste Nasionale Bank (FNB), op ’n tegniese inligtingsdag naby Robertson. Die inligtingsdag is deur Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD) en die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV) aangebied.
Maree sê die wêreldekonomie lyk op papier gunstiger as wat dit werklik is, en daar is heelwat onsekerheid. “Ramaforia”, die euforie ná pres. Cyril Ramapho- sa se beëdiging, het Suid-Afrika aanvanklik beter laat voel ná die Zuma-era, maar neerdrukkende ekonomiese werklikhede bestaan steeds. Hoewel die Amerikaanse ekonomie goed groei, is talle ander ontwikkelde ekonomieë besig om af te plat.
Die olieprys klim, wat risiko’s vir die landbou inhou.
“Dit is ’n eksterne faktor waarvoor die Suid-Afrikaanse Regering nie verantwoordelik is nie. Ons verwag dat die olieprys die res van die jaar tussen $72 en $78 per vat sal bly.” Ook die brandstofprys sal na verwagting met 20c/l tot25c/ l oor die volgende vier maande styg. Sowat 60% van dié styging is weens buitelandse faktore waaraan Suid-Afrika min kan doen.
EKONOMIESE GROEI
Die Suid-Afrikaanse ekonomie het verlede jaar met 1,3% gegroei, maar in die eerste kwartaal vanjaar met 2,2% gekrimp.
“Die landbou speel ’n groot rol in hierdie groei en ons verwag uiteindelik ’n gemiddelde groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van 1% tot 2% vir vanjaar,” het Maree gesê. Die verbruikersvertroue-indeks is aan die daal, grootliks weens onsekerheid oor grondbesit.
Voedselpryse sal na verwag- ting steeds in die volgende 12 maande styg weens die nadraai van die droogte, en kerninflasie is besig om te styg as gevolg daarvan, asook weens energiekoste en die wisselkoers.
Die wisselkoers word baie beinvloed deur internasionale handelsoorloë, Brexit, asook Turkye en Argentinië se verswakkende ekonomieë. “Die verwagting is dat die rand-dollarverhouding tot 2020 gemiddeld R14,50 sal wees,” sê Maree.
Dit alles plaas die verbruiker onder druk en onsekerhede word meer. “Die wisselkoers bevoordeel uitvoer, maar knel invoer.”
Maree het gevra dat die landbou nie fokus moet verloor nie – “lê klem op die geheel en op produksie, ondanks die politieke onsekerhede”.
“FNB glo steeds in die landbou en bly optimisties, en werk nou saam met Agri SA om oplossings te soek.”
—