Om te eet of nie te eet nie
Daar is seker min dinge waaroor daar meer geredeneer word as oor die reg of verkeerd van wat geëet of gedrink mag word. Ek onthou vandag hoe ek geluister het wanneer my pa en oom Herman oor dié dinge gepraat het. Oom Herman was ’n smous wat op sy rondes, so ongeveer maandeliks, by ons oorgestaan het. My ouers het met kenmerkende boeregasvryheid almal ontvang wat ’n stukkie kos of “onderdak” gesoek het. In die buitekamer op ’n ysterkatel in ’n tuisgemaakte matrassloop van dik kakiemateriaal wat jaarliks met vars garsstrooi gestop is, kon hy homself tuismaak.
Oom Herman het by ons gesin aan tafel geëet wat ook al te ete was, al was dit nie altyd sonder gewetenswroeging nie. Sy geloof het hom nie toegelaat om varkvleis te eet nie, maar daar was min gewetes wat sterk genoeg was om Ma se onoortreflike varkwors te weerstaan. In die begin het hy en my pa daaroor geredeneer, maar ek het altyd die indruk gekry dat hy die onderwerp liefs wou vermy – natuurlik te bang dat hy dalk die varkwors sou moes prysgee.
Namate ek ouer geword het, het die onderwerp van eet en drink my belangstelling al hoe meer geprikkel. Die apostel Paulus en Jesus self het riglyne verskaf wat as ’n goeie aanknopingspunt vir ’n gesprek kan dien. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Dis nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein” (Matt.15:11-20).
In sy brief aan die Romeine het Paulus daarop gewys dat eet en drink nie net vir jouself ’n waarde en betekenis het nie, maar dat jy ook jou medemens en sy siening in ag moet neem (Rom. 14:13-23). Met selfrespek en respek vir ander kan ’n mens dalk later ’n varktjoppie met mekaar deel sonder onherroeplike skade. Onthou net die danksegging daarna!
‘Dis nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein.’