Kospryse kan verdubbel as onteieningsplan slaag
GROEPE wat die landbou verteenwoordig, het verlede week op die grondwetlike hersieningskomitee se parlementêre verhore oor onteiening sonder vergoeding droewige vooruitsigte gestel as die ANCseplanomdiébeleidsbesluit deur te voer, sou slaag. Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz, het gewaarsku kospryse kan met 100% styg indien onteiening sonder vergoeding toegelaat sou word.
Boshoff het verduidelik dat ’n afname in belegging en finansies in die landbousektor uiteindelik sal lei tot verminderde produksie.
Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van kos, wat dit vir die landbousektor moontlik maak om kos teen uitvoerpariteitsprys te voorsien. “Maar as ons dié status verloor, sal ons kos moet invoer teen die invoerpariteitsprys, wat ’n kettingreaksie op die prys van basiese kos vir die verbruiker het.”
Agbiz glo die Grondwet maak voorsiening vir onteiening in die openbare belang. Daarom is dit nie nodig dat ’n grondwetlike wysiging gemaak moet word nie.
Hy skryf die staat se probleme met grondhervormingsprogramme toe aan die staat se slegte finansiële bestuur. Mnr. Jannie de Villiers , uitvoerende hoof van Graan SA, het dit pertinent aan die komitee gestel dat daar verkeerd om met grondhervorming te werk gegaan word. Grondhervorming moet voorkeur bo agriparke geniet en die grondhervormingsbegroting moet dus nie daarheen herlei word nie.
“Jy moet eers jou produksie aan die gang kry en dan kan jy spesifieke waardekettings ontwikkel.”
Met die aankondiging van die oprig van die parke is ’n totale begroting van R2 miljard opsy gesit.
In die boekjaar 2015-’16 is R5,2 miljoen bestee, en in die twee daaropvolgende boekjare onderskeidelik R26,9 miljoen en R85,5 miljoen.
De Villiers het ook gewaarsku dat indien landbougrond wat deur mynboubedrywighede oorgeneem word, nie vervang word nie, Suid-Afrika se kos binne vyf jaarkanopraak.
De Villiers het ook gesê die grootste struikelblok vir swart boere om kommersiële status te bereik, is probleme met finansiering. Van die sowat 10 000 swart boere op die organisasie se stelsel kon slegs 30% op hul grond plant weens ’n tekort aan finansiering. Prof. Ruth Hall, senior navorser by die instituut vir armoede, grond en landboustudies (Plaas), het vier moontlike scenario’s uiteengesit oor hoe die eiendomsklousule in die Grondwet verander kan word om die gronddebakel op te los. Sy meen ’n Grondwetverandering sal niks verander nie; die vraag is hoe die staat daardie magte sal gebruik. Plaas se vier scenario’s is soos volg: Die staat word die voog van alle grond, sonder dat die Grondwet gewysig word. Onteiening sonder vergoeding word in alle omstandighede toegepas. Rykes en armes word oor dieselfde kam geskeer wanneer grond bekom moet word. Dié voorstel is egter strydig met artikel 1 en artikel 36 van die Grondwet en sal ’n 75% meerderheid in die Parlement verg om wet te kan word. Grond word slegs in sekere omstandighede sonder vergoeding onteien. Dit sal ’n gewysigde onteieningswetsontwerp verg met duidelike beleid en regulasies, asook toetssake oor die vergoedingsregime. Onteiening sonder vergoeding word in sommige gevalle gewettig, en die Grondwet word net gewysig om die spesifieke omstandighede duidelik te maak waarin só ’n onteiening mag plaasvind. Dit sal ’n politieke probleem oplos en ’n politieke sein uitstuur dat die regerende party en die staat in sy pogings om grondhervorming te laat geskied, hom nie sal laat terughou deur die vereiste dat vergoeding betaal moet word nie.
‘LOS LANDBOUGROND’
Die Afrikanerbond het gevra dat daar geensins met landbougrond gepeuter word nie. Die organisasie meen ’n wysiging van artikel 25 van die Grondwet sal geensins die behoefte aan grond, eiendomsreg en titelaktes verlig nie. Dit sal vrugteloos wees om dit te verander terwyl politieke partye agter die skerms hang aan verouderde ideologieë, ’n tekort aan politieke wil en die onvermoë om beleid toe te pas. Die National African Farmers’ Union of South Africa (NAFU) meen ’n duidelike onderskeid tussen grond en geboue moet in die eiendomsklousule van die Grondwet aangebring word en nét grond moet genasionaliseer word. Agri SA het dit duidelik gemaak dat daar genoeg beleid en wette is om effek aan die grondwetlike mandaat te gee om grondhervorming te vermag. Die probleem is eerder ’n tekort aan die toepassing daarvan en nie ’n grondwetlike of wetgewende struikelblok nie.
* Lees ons volledige beriggewing van dié verhore by bit.ly/2CiQNPU