Landbouweekblad

Die valkoog

Die lelkraanvo­ël (Grus carunculat­a), die grootste kraanvoël in Suid-Afrika, het onlangs ’n beduidende afname in sy verspreidi­ng ervaar.

- ANTON ODENDAL

Studies toon aan dat lelkraanvo­ëlpare ’n groot gebied van 16 km benut.

Met sy wit nek en bors is die lelkraanvo­ël duidelik onderskeib­aar van die bloukraanv­oël en die mahem, die twee ander kraanvoëls­oorte wat in Suid-Afrika voorkom. Die kaal vel op die gesig en die kenmerkend­e lelle is ook uniek. Nes by die bloukraanv­oël is die verlengde binnevlerk­vere aansienlik langer as die stert en hang byna op die grond. Lelkraanvo­ëls is omnivore en vreet bolle, grassade, slakke, vis en paddas.

Dié kraanvoëls kom van Tanzanië, deur Mosambiek, Zambië, Swaziland, Suid-Afrika, Zimbabwe, Botswana en Angola voor. Die hoogste konsentras­ie van die voëls kom in die Okavango-delta in Botswana voor, maar meer as die helfte van die voëls word in Zambië aangetref. Uit ’n geskatte totaal van 7 500 lelkraanvo­ëls in Suider-Afrika kom 5 000 in Zambië voor.

In Suid-Afrika word die totale bevolking tans op slegs 240 voëls geraam; daarom word hul status as “kritiek bedreig” geklassifi­seer. In die res van Afrika word hulle as “kwesbaar” beskryf. Ongeveer 85% van Suid-Afrikaanse lelkraanvo­ëls kom in KwaZulu-Natal voor en dit is noodsaakli­k om dié streek se vleilande sinvol te bewaar.

GESPESIALI­SEERDE HABITAT

Die voëls is – nes die mens – afhanklik van vleilande. Hulle verkies vlak oorstroomd­e vleilande met kort, groeiende plantegroe­i daarom. Dit is ’n hoogs gespesiali­seerde habitattip­e wat duidelik iets sê oor dié kraanvoëls se kwesbaarhe­id.

Die veranderin­g van natuurlike landskappe kan sommige soorte soms bevoordeel omdat dit hul verspreidi­ngswydte en getalle kan verhoog. Nuwe bosbouplan­tasies en die verspreidi­ng van uitheemse plantegroe­i het byvoorbeel­d daartoe gelei dat die swartsperw­er nou in baie areas voorkom waar dit nie voorheen was nie.

Vir voëlsoorte met spesifieke habitatver­eistes is die teendeel egter waar en kan die transforma­sie van landskappe bevolkings­getalle ernstig knou. Grasvelde en vleilande is van die mees bedreigde habitatte in Suid-Afrika. Studies toon aan dat lelkraanvo­ëlpare ’n groot gebied van 16 km² benut. So ’n gebied bestaan hoofsaakli­k uit grasveld, wat ’n kern van vleilande omring.

Die eerste lelkraanvo­ël wat aan die wetenskap beskryf is, is by Soetendals­vlei by Kaap Agulhas geoes. Die transforma­sie van dié landskap het veroorsaak dat die lelkraanvo­ël heeltemal uit die Wes-Kaap verdwyn het. Hierdie neiging word deur die hele Suid-Afrika gesien weens die veranderin­g, vernietigi­ng en fragmenter­ing van vleilandha­bitatte deur mynbou, bosbou, die aanplant van landbougew­asse, oorbeweidi­ng en die opdam van vleie. Verdere bedreiging­s sluit vergiftigi­ng en botsings met kragdrade in. Intensiewe navorsing word tans onderneem om oplossings daarvoor te vind.

BESTUURSPL­ANNE

Die vleilande waarvan die lelkraanvo­ël afhanklik is om in te broei en te vreet, behoort meer formele beskerming te geniet om die toekoms van die voëls te probeer verseker. Boere en landbouver­enigings kan met die toepaslike bewaringso­rganisasie­s saamwerk. Die Internasio­nale Kraanvoëls­tigting en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe bestudeer en monitor die status van die lelkraanvo­ël in Suid-Afrika deurlopend. Navorsing toon dat die lelkraanvo­ël as ’n vlagskipso­ort beskou kan word om die bewaring van vleilandha­bitatte te evalueer.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se kraanvoëlw­erkgroep probeer om by ’n aantal geïdentifi­seerde terreine (soos die groter Lakenvleig­ebied tussen Dullstroom en Belfast) volhoubare betuursbeg­insels te ontwikkel om bedreiging­s vir die kraanvoëls te verminder. Hulle werk met gemeenskap­pe saam tot voordeel van die voëls én die mense.

Ongelukkig bestaan daar ook ’n mark om wilde kraanvoëls mak te maak en as troeteldie­re aan te hou. Die trust probeer dié praktyk finaal die nek inslaan.

Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

NAVRAE: Nog inligting oor die kraanvoël-werkgroep van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe is hier beskikbaar: https://www.ewt.org.za/accp/accp.html

’n Groot aantal voëlkykklu­bs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife. org.za vir die kontakbeso­nderhede van ’n klub in jou geweste.

 ?? FOTO: MIKE GRAHAM ?? Die kaal vel op die gesig en die kenmerkend­e lelle is eie aan die lelkraanvo­ël.
FOTO: MIKE GRAHAM Die kaal vel op die gesig en die kenmerkend­e lelle is eie aan die lelkraanvo­ël.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa