Wie erf die plaas as die testament nie reg is nie?
Boere kan ’n ongemaklike familietwis voorkom deur seker te maak hul testament is in orde. Indien hulle sonder ’n testament sterf, kan dit baie lastige gevolge inhou vir die eienaarskap van die plaas en verhoudings tussen die oorlewende kinders.
Vandeesweek wil ek klem lê op die belangrikheid van ’n testament nadat ek gelees het die Amerikaanse soulsanger Aretha Franklin is oorlede sonder om ’n testament agter te laat. Sy het bates van R1,2 miljard gehad.
Ek ken nie boere in hierdie welvaartsklas nie, maar ek dink tog ons kan in die algemeen kyk na die belangrikheid van ’n testament in die Suid-Afrikaanse konteks.
As jy sterf en nie ’n testament nalaat nie, sterf jy “intestaat”. Daar word dan met jou bates gehandel ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987). Hierdie wet, en dus nie jyself nie, bepaal dan wie erf. Kom ons kyk na van die gevolge.
Indien jy nie ’n testament nalaat nie, sê die wet, moet daar op ’n bepaalde manier te werk gegaan word. Iemand moet jou bates oorneem. ’n Oorlewende gade en kinders staan eerste in die ry. Indien daar ’n gade en kinders is, kry elkeen ’n gelyke deel. As daar onderskeidelik nie ’n gade of kinders is nie, kry die gade of die kinders wat daar wel is, alles. Buite-egtelike kinders en aangenome kinders tel ook as kinders.
Indien daar nie ’n gade óf kinders is nie, kry die oorlewende ouers van die oorledene ál die bates in gelyke dele. As een ouer reeds oorlede is, kry die oorlewende ouer een helfte en die afstammelinge van die oorlede ouer die ander helfte. As daar geen sulke afstammelinge is nie, kry die oorlewende ouer alles.
Ek wil nie die hele wet hier aanhaal nie, want dit is beskikbaar vir diegene wat meer daarin belang stel. Die punt wat ek egter hier wil maak, is dat mense wat jy dalk nie in gedagte gehad het nie, goed van jou gaan erf, of dat spesifieke mense gaan erf wat jy dalk glad nie wou laat erf nie. As daar nie afstammelinge was nie, kan alles oor 30 jaar na die staat oorgaan.
Maar kom ons hou dinge by die gewone familiesituasie soos ons dit ken, naamlik ’n pa, ma en kinders. As jou bates uit kontant of beleggings bestaan en dalk ’n strandhuis en ’n motor of twee, kan alles mooi gelykop tussen hulle verdeel word. Elkeen kry ’n deel (die motor en strandhuis kan verkoop word as hulle nie kan ooreenkom nie).
Maar boere het plase. Hoe nou? Landbougrond kan nie onderverdeel word sonder die toestemming van die Minister van Landbou nie. Die plaas sal waarskynlik verkoop moet word as daar nie deur iemand afstand gedoen word van sy of haar intestate erfenis nie. Dit is net daar waar jou geliefdes in mekaar se hare is. En moet asseblief tog nie glo hulle sal dit nooit aan mekaar doen nie! Geld, en veral ’n plaas, haal soms die lelikste uit sibbe, soos wat ek gesien het tussen twee broers in die Noord-Kaap. Kleinlikheid sonder grense.
Die ander probleem is lewenspolisse wat begunstig is. Dit betaal regstreeks aan die begunstigde uit en val nie in die intestate boedel vir gelyke verdeling ingevolge dié wet nie.
Kom ons sê die boer het ’n polis gekoop wat aan sy dogter uitbetaal met die gedagte dat die seun die plaas moet erf, maar hy het nagelaat om ’n testament op te stel. Die dogter sal die opbrengs kry (gewoonlik ’n paar miljoen rand), asook haar kindsdeel van die intestate boedel. Boonop word die boedelbelasting wat deur die polis getrek word, gedeeltelik betaal uit die restant wat gelykop tussen die afstammelinge verdeel moet word.
Gevaarliker nog is dat ’n boer dalk wel ’n testament het, maar ’n deel daarvan is met sy afsterwe nie uitvoerbaar nie. Daardie deel kan dan intestaat vererf as outomatiese plaasvervulling nie ter sprake is nie.
Maak seker jou testament is in orde. Dit is een van die belangrikste dokumente van jou lewe. Kry kundiges om jou te help. Testamente wat afgeskeep word, bring valse gemoedsrus. Dit is net jou naasbestaandes en geliefdes wat daaronder gaan ly.
Mnr. Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy.