Strawwe Walvis-uithourit: Son, salpeter en duinuitdagings
Die internasionale perde-uithourit by Walvisbaai lyk elke jaar anders. Die kronkelpaadjies skuif saam met die duine. Die wind is een jaar ’n seebries en die volgende jaar ’n sandstorm. Om hier 122 km in een dag te ry, moet ruiters hul kop gebruik.
Altesame 164 ruiters en hul ondersteuners het verlede maand by die Walvisbaai-skouterrein bymekaargekom vir die Internasionale Federasie vir Ruiterkuns (FEI) en die Namibiese Uithouritvereniging (Nera) se Afrika-uithouritkampioenskap.
Party Suid-Afrikaners het die lang tog na Namibië oor drie dae aangepak en ’n hand vol internasionale deelnemers uit onder meer Slowakye se reis was nóg langer.
Dié uithourit van 122 km word op een dag in vier skofte gery. Mnr. Mike Bredenkamp, die FEI se tegniese afgevaardigde, het die dag voor die wegspring die roete, struikelblokke en weervoorspelling met deelnemers bespreek. Ruiters vaar die woestyn met bakkies in om die duine van naby te bekyk, want om hierdie rit veilig te voltooi, verg beplanning.
“Vanjaar gaan een van daai op-die-voete-ritte wees,” het die voormalige Walvisbaai-wenner Pierre de Wit gesê.
In die diep sand van die grootste duine kan die perde tot by hul knieë wegsak, en hoewel ligte kinderruiters dalk kan bly sit, klim swaarder ruiters eerder af om hul perde se tendons te beskerm, verduidelik Suné Wessels van Gobabis, wat al sedert 2006 deelneem. “As jy ’n ent langs jou perd draf om hom te spaar, skep hy sommer moed.”
DAGBREEK OP DIE SOUTPANNE
Die eerste bondel ruiters – die swaargewigte – spring al voor sonsop weg, met die standaarden liggewigte, asook die kinder- en junior ruiters, kort op hul hakke. Daar is net ’n hand vol “Afrikaanse” perde, soos Langpad, Yster en Parmant. Verder is dit net name soos El Shakir Ashmarr, Shareekah Mahir, en Shaik Sham Rajah El Tuwai.
Die eerste skof is deur die Nauklift-park. Teen dagbreek was ruiters tussen die Namibiese soutfabriek se helder pienk soutpanne.
Langs die treinspoor wat van Walvisbaai na Swakopmund en Windhoek loop, is die sand vanjaar dik en sag. Dit is belangrik om nie hier jou perd se krag te mors nie, het Hendri van Wyk van Rouxville gesê, want hy gaan dit vanmiddag nodig hê. Die meeste ruiters het hierdie eerste klein duine rustig uitgedraf.
Ná elke skof keer die ruiters terug na Walvisbaai, waar hulle ingewag word deur hul ondersteuningspan en paneel van nege plaaslike veeartse, onder leiding van dr. Marc Walton, voorsitter van die Suid-Afrikaanse veeartseny-kommissie, en dr. Hamid Ghalamsia van Iran.
Veeartse meet die perd se hartklop, ondersoek sy slymvliese, luister vir gesonde maagklanke, toets vir ontwatering, kyk vir
tekens van mankheid en besluit of die perd verder mag ry. Sewe perde is ná die eerste 40 km uitgeskakel. Ná ’n verpligte rustydperk vaar die perde weer die woestyn in.
DUIN SEWE
Eers ná 72 km deur diep sand, harde soutpaadjies en ’n ent langs die kus, doem die berugte Duin Sewe voor ruiters op. Die meeste klim hier af en stap self.
“As jy weer onder kom, is die helfte van die duin in jou tekkies,” het Reni van der Merwe, ’n Namibiese ruiter wat verlede jaar die rit op dieselfde perd, Naghgaliet, voltooi het, skertsend gesê. “Hy weet beslis
wat kom. Gewoonlik is hy oorywerig en warm, maar hier brand hy nie homself uit nie. Hy is ’n fantastiese perd, so gemaklik soos ’n limousine.”
Die laaste skof is net 16 km, “maar voel soos 30 km,” het Shannon Parker, die liggewig-ruiter wat eerste oor die wenstreep gegalop het, gesê. “Die duintjies is nie hoog nie, maar die sand is dik, die perde is moeg en hulle is weg van hul maats af.”
Shannon is ’n vierdejaar-veeartsenystudent by Onderstepoort. Sy ry minstens vyf keer per week perd. Haar eie perd, Najah, waarmee sy op die kortlys vir die SA span was, is onlangs met osteo-artritis gediagnoseer en moes uittree. Bart en Marna Steyl van Windhoek het vir haar ’n perd aangebied. “Met geen verwagtinge of planne nie” is sy Walvisbaai toe, na ’n roete wat sy nie ken nie en ’n perd wat sy nog nie gery het nie.
“Toe ek Asara vir die eerste keer ontmoet en haar ken krap, het sy haar kop gedraai sodat ek presies die regte kolletjie bykom. Ek het dadelik besef sy’s ’n oulike perd.
“Ek het heelpad sonder ’n GPS-horlosie gery en tussen skofte glad nie na my tydhoukaartjie gekyk nie. Ek het nie geweet wat ons spoed was nie – ek het haar net haar eie pas laat vat.” Shannon en Asara was die algehele wenners met ’n gemiddelde spoed van 18,5 km/h. “Ek kon dit skaars glo. Om heel voor te ry, alleen in die woestyn, toets ’n perd se kop. Maar Asara sal nooit opgee nie.”
Jessica Mostert van Kaapstad was tweede in die liggewig-kategorie met Rakib Amira, en Charlene Grunow van Bloemfontein derde met Waterlea Skye.
In die standaardgewig-kategorie is Suné Wessels van Namibië ’n hartklop voor Reni oor die eindstreep. Dit is haar vyfde jaar as ’n kategoriewenner. Sy het Marius Carstens se Edl Agbahr Blue Domino gery, wat deur haar pa, George, in Gobabis geoefen is. “Hy is ’n baie gewillige perd, hoewel hy soms hardekoejawel kan wees.” Dawid Losper van Gobabis was derde in dié kategorie met Quepasa Monassab.
‘EK SAL DIT WEER RY!’
Die veeartspaneel het Reni se perd, Naghgaliet, bekroon as die beste van die bes voorbereide perde – die een wat ná afloop van die rit die beste vertoon. “Hy was sterk tot op die laaste. Hierdie eerbewys is vir my die grootste geskenk.”
Onder die kinderruiters het die twaalfjarige Carmen Derks van Windhoek die wentitel verower met die perd Kalharabi CD El Arab. Gian Steyl (11) van Winburg was tweede met Steyl Tennesee, en Caila Potgieter (13) van Osjikati derde met Hurst Saigon. Gian het gesê “dit was kwaai, maar ek sal dit weer ry!”
Lara van Niekerk van Harrismith was eerste in die junior kategorie met Hurst Ronaldo. Bianca Jacobs van Otjiwarongo was kort op hul hakke met Amaal. Die Slowaak Lucia Supekova, FEI se voorste ruiter op die internasionale uithourit-leierbord, was derde. Haar tweelingsuster, Micaela, en ma, Lucia sr., het ook deelgeneem. Al drie het perde van die Namibiese stoetteler Jan Fourie van Hurst Arabiere gery. Lucia se pa, Rasto, het sy waardering uitgespreek teenoor Jan vir die geleentheid.
Hendri van Wyk, die swaargewig-wenner, sê die rit was goed georganiseer, wat ’n groot rol speel in ruiters se gemoed. Samuel van Zyl en Lormar Rambo van Kokstad en Kevin Price Moor en Waterlea Wolverine van Underberg was onderskeidelik tweede en derde in dié kategorie.
Suid-Afrika se swaargewig-, liggewig-, en junior span het die internasionale kompetisie met Namibië gewen. Namibië se standaardgewigspan het weer daardie kategorie verower.
Altesame 115 ruiters (sowat 70%) het die rit voltooi.