Herlewingslandbou: Varke voltooi die prentjie
Vrylopende varke en ’n charcuterie voltooi deesdae die herlewingslandbou-prentjie op die eeue oue Spier-landgoed buite Stellenbosch.
Eeen van die beste boerderywerktuie is ’n varksnoet; dis ’n trekker wat jy kan eet nadat dit sy we rk gedoen het. Só sê mnr. Angus McIntosh, ’n boer van die Spier-landgoed buite Stellenbosch in die Wes-Kaap.
“Dit het geen diesel nodig om te werk nie, geen dronk trekkerdrywer nie, en verdig jou grond glad nie. En dit bemes so ver dit beweeg.”
Angus se boerdery, wat sy produkte onder die nou reeds bekende handelsmerk Farmer Angus bemark, het pas ’n charcuterie-afdeling (gerookte kouevleis) tot die rakke van sy plaasslaghuis toegevoeg.
Dit is ’n welkome aanvulling tot die reeds gewilde reeks produkte, wat onder meer vleisbeenaftreksel insluit. Hulle kan nie voorbly om in die vraag daarna te voorsien nie. Die charcuterie-produkte is van vryloopvarke wat op die plaas met die hulp van elektriese draadjies ingespan word om aangeplante weidingmengsels intensief te bewei. Die varke en hul vleisprodukte is die jongste vertakking in Angus se “stapelboerdery”, wat vrylopende lêhenne en ’n Limousin-kudde insluit. Die varke, wat monogastries is, word omtrent elke drie dae geskuif nadat hulle ’n stuk weiding heeltemal omgedolwe het. Die beeste word sowat vier keer per dag geskuif, en die hoenders, ook monogastries, word daagliks verskuif saam met hul eiermobiele waarin of waaronder hulle skuil as dit koud en donker raak. Elke eiermobiel huisves 300 lêhenne en op Spier is 16 sulke mobiele in vier groepe van vier. Volgens Angus se berekenings verorber sowat 40 lêhenne soveel weiding as een bees. Al die weidings word telkens ’n minimum rustyd van ses weke gegun om gesonde her-
groei te verseker.
Die varke waarvan Farmer Angus-produkte gemaak word, is altyd buite op die weidings en word nooit in kratte aangehou nie. Die karkasse in die slaghuis word op die plaas verwerk. Mnr. Steve Jeffery, die professionele charcutier op die plaas, dring daarop aan dat geen nitrate of nitriete in die reeks produkte gebruik word nie.
Hy gebruik ook geen sintetiese kruie of speserye wat met chemiese middels bespuit was nie. Al die speserye in sy mengsels, soos die koljander, van plante wat sonder chemiese middels gekweek is, skroei hy self.
Angus sê die slaghuis op Spier is sedert Desember 2016 die enigste in Suid-Afrika wat uitsluitlik vleisprodukte maak sonder om nitrate of nitriete in die verwerkingsproses by te voeg.
Die nuwe charcuterie-produkte van die varke sluit onder meer patee, spek, Linzer-salami, eisbein, gerookte ham en frankfurters in, en heelwat word nog beplan sodra daar genoeg geld is om die nodige geriewe in te rig.
Benewens die restaurante op Spier en elders is ’n ál gewilder afsetpunt ook die Farmer Angus-webwerf. Daar kan produkte bestel word, wat afgelewer word, sê Angus.
DIERE NOODSAAKLIK VIR HERLEWING
Hy voel sterk daaroor dat die oplossing vir klimaatsverandering nie ’n ommeswaai na vegetarisme is nie. “Die antwoord is sekerlik nie vir die hele bevolking om op te hou om vleis te eet nie. Hulle moet ophou om die verkeerde vleis te eet.
“As diere korrek (vrylopend) bestuur word deur grond in rotasie te drukbewei, verhoog dit die grond se koolstofinhoud, en lewer dit boonop vleis wat mense voed en werk skep.
“Altesaam 58% van grond-organiese materiaal is koolstof, en elke gram grond-organiese materiaal kan 8 gram water hou.
“Deur as verbruiker vleis soos dié van vrylopende diere te kies, help jy grondgesondheid herleef deurdat koolstof met behulp van drukbeweiding uit die atmosfeer verwyder en in die grond vasgelê word. Soos Wendell Berry, die Amerikaanse boer en omgewingsaktivis sê: Ons is almal by volmag boere.”
LANG PAD MET SKOOLGELD
Angus sê sy klante het al sedert Desember 2008, toe hy begin boer het, gevra dat hy ook produkte van vrylopende varke produseer. Verreweg die grootste deel van die produkte op hierdie mark is van varke wat in kratte leef.
Om met vrylopende varke te leer boer, het hom egter skoolgeld gekos, erken hy ruiterlik. Hy het in Junie verlede jaar die eerste varke bekom, en dit het 14 maande gekos om net al die grootste probleme daarmee uit te stryk.
“Vrylopende varkboerdery is meer van ’n ingenieursprobleem as enigiets anders. ’n Vark is die vernietigendste van alle boerderydiere. Hul voertrôe, konstruksies wat skadu gee en drinkbakke moet dus baie sterk wees. In ons geval moet dit ook lig wees omdat ons ter wille van grondgesondheid al ons diere gedurig verskuif (in ’n drukbeweidingstelsel).”
Angus sê die eerste keer waar hy so ’n model gesien het wat ook in sy boerdery behoort te werk, was by mnr. Hendrik O’Neil, wat buite Bela-Bela in Limpopo met vrylopende varke boer. (Sien ook “Holistiese varkboer: Wenresep uit amper niks nie”, LBW , 5 Augustus 2016.)
SKUIFBARE HEININGS VIR VARKE
Die verskuifbare elektriese heinings waarmee die varktrop – altesaam 350 diere – elke drie dae na nuwe weiding geskuif word, kan in geheel met sonpanele aangedryf word. Angus het geleer dit is belangrik om twee horisontale drade te gebruik, asook drie vertikale drade.
Hy sê hulle het ook self die paaltjies vir die elektriese heining gemaak en gegalvaniseer omdat hulle gevind het dié wat op die mark beskikbaar is, is nie teen die varke bestand nie.
Angus noem voorts die raad van nog een van sy mentors, wyle mnr. Dick Isted van die plaas Tempevale buite Lady Grey. “Dit is belangrik om aan te hou om saad te versprei in die kamp waar die varke is sodat hulle dit in die grond in kan trap, dit kan bemes en sodoende die hergroei van jou weidings kan verseker.” Hy gebruik mengsels van die saadmaatskappy Agricol daarvoor, wat hy wyd uitstrooi.
LEK-KEUSE
Wat lek-aanvulling betref, het die varke vrye toegang tot verskillende minerale komponente in afsonderlike kassies in ’n verskuifbare lek-slee, wat van plek tot plek getrek word namate die varke verskuif word. Elke vark vreet dus net aanvullings na gelang van sy individuele behoefte en die kassies word afsonderlik aangevul namate dit leër raak.
Angus sê hy vind ’n sink-aanvulling is noodsaaklik vir vrylopende varke. In een kompartement op die slee is dus sinksulfaat. In ’n ander is ongewaste seesout (hy gebruik die Khoisan-handelsmerk van die Weskus) waarby% peulgewassade gemeng is.
In nog ’n kompartement op die slee is die sogenoemde Pat Coleby-mengsel: 2 kg dolomitiese kalk, 1 kg kelp, 1 kg kopersulfaat
en 1 kg swaelstof. (Wyle me. Pat Coleby was een van die pioniers van natuurboerdery in Australië en is bekend om die boeke wat sy geskryf het oor hoe om sonder sintetiese en chemiese middels te boer.)
KRAT-VARK PAS VINNIG IN DIE OPE AAN
Net soos die vryloop-lêhenne in hul boerdery se eiermobiele, het die varke toegang tot skadu-mobiele wat uit liggewig-staal gemaak is. Daar kan hulle teen die hitte skuil wat in die somer tot hoër as 40 °C beweeg.
Angus koop nog varke uit kratstelsel-boerderye terwyl hy sy eie teelkudde op die plaas uitbou, en sê dit is merkwaardig hoe vinnig die krat-varke by die buitelewe aanpas.
Binne weke uit die krat sukkel hulle nie met sonbrand nie en ontwikkel hulle ’n harige bedekking.
Hy let ook op dat die vrylopende varke se vleis donkerder is. Dit is danksy die groter hoeveelheid vitamien D waartoe hulle in die buitelug toegang het, asook die betakaroteen en chlorofil vanaf die groen gras wat hulle bewei.
Alle bere word gekastreer omdat hulle in die ope stadiger groei en dus ouer as 154 dae word. Dit word ook gedoen om die slegte geur (sogenoemde beergeur) te vermy wat ongekastreerde bere teen daardie ouderdom na ’n slaghuis kan bring.
Die varke is ideaal geskik om die afval uit die landgoed se restaurante te benut.
Alle nie-vleis-afval uit die restaurant, asook afval van ’n plaaslike supermark en groente-groothandelaar, word op die weidings vir die varke uitgegooi.
Die res van hul aanvullende rantsoene op die weidings is gebreekte eiers, wat vroeër begrawe is, van ’n nabygeleë eierplaas en ’n varkrantsoen wat die Suid-Afrikaanse voermaatskappy Profile Feeds met ’n aanleg by Klapmuts vir die boerdery saamstel.