DIE ANDER SÊ
’N SLEUTELELEMENT van pres. Cyril Ramaphosa se Nuwe Daeraad is om beleidsekerheid te verbeter ten einde ’n beleggingsvriendelike omgewing te skep, maar dit lyk of die teenoorgestelde gebeur het met die Regering se stap om in September ’n betreklik ligte brandstofprysstyging – van sowat 30c/liter – te absorbeer.
Voorverlede week het die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfsvereniging (Sapia) in ’n agtergrond-inligtingsessie laat blyk die prysverhoging is geabsorbeer uit ’n trustfonds waaruit oliemaatskappye eis wanneer die kleinhandel-brandstofprys te laag is vir hulle om die prys te verhaal waarteen hulle olie in ’n bepaalde maand op die internasionale mark gekoop het. In Augustus het mnr. Jeff Radebe, Minister van Energiesake, Sapia oortuig daar is genoeg geld in die fonds om oliemaatskappye te vergoed vir die onderverhaling wat hy op hulle afgedwing het. Die eindelike koste daarvan was meer as R500 miljoen.
Dié ingryping sal lei tot ’n laer fondsbalans wat later aangevul sal moet word, heel waarskynlik in November. In ’n stygende olieprysfase kan dit lei tot nóg ’n enorme prysstyging.
Radebe het afgewyk van die reëls wat die brandstofprys bepaal. In die proses het hy ook die risiko van politieke inmenging in die mark ingebring. Dis te betwyfel of sy stap wettig was, en met ’n naderende verkiesing sal dit maklik wees vir sy kollegas in die Kabinet om weer vir só ’n tussenkoms te vra. Dus is Suid-Afrika se brandstofprys verpolitiseer, en in ’n bedryf wat deurslaggewend is tot die ekonomie, is regulatoriese sekerheid met populisme vervang.