‘Wet bring nie water vir swart boere’
DIE Nasionale Waterwet het die gaping tussen wit en swart boere vergroot, pleks van om gelyke toegang te bring.
Só het mnr. Mlungisi Johnson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir water en sanitasie, in Pretoria by ’n terugskouing oor die uitwerking van die wet die afgelope 20 jaar gesê.
Volgens Johnson is daar baie swart boere wat grond deur die grondhervormingsprogram gekry het, maar nie water het nie.
Hy het op die besprekingsessie, wat deur die Departement van Water en Sanitasie en die Waternavorsingskommissie aangebied is, verwys na onbedoelde gevolge van die wet, soos dat “wit boere water onder mekaar verhandel”.
“Terwyl grond (aan begunstigdes) oorgedra word, word die water afsonderlik verhandel. Dit is misdadig, om die minste te sê.”
Johnson was krities oor besproeiingsrade wat net wit lede het. Volgens hom veroorsaak dit dat daar gebiede is waar mense selfs al 02:00 soggens moet opstaan om seker te maak hulle kry water wanneer ’n watertenkwa dit bring.
WYSIGING?
Sprekers het verskil oor die nodigheid om die wet te wysig. Sommiges meen as die probleem by inwerkingstelling deur amptenare lê, is groot wysigings onnodig.
Mnr. Sipho Skosana, direkteur van watertoewysing by die departement, is egter ten gunste van wysigings. Hy sê amptenare het nie genoeg stelsels en instrumente om die wet uit te voer nie.
Oor begunstigdes van grondhervorming se gebrek aan waterregte het hy gesê wanneer die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ’n grondeis op ’n plaas ontvang, is daar ’n tydsverloop tussen die ontvangs van die eis en die publikasie daarvan in die Staatskoerant. Die eienaar van die plaas kan intussen die waterregte verkoop.
Skosana het gesê voor die eis in die Staatskoerant afgekondig is, kan die departement nie die oordrag van ’n waterreg afkeur nie. Die koppeling van water aan grond word daarom nou voorgestel.
VERHANDELING NODIG
Prof. Mike Muller, voormalige direkteur-generaal van die departement en nou ’n ereprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir regeerkunde, was vurig daaroor dat “die wet nie werk nie omdat die Regering nie werk nie”.
Hy het as voorbeeld genoem dat die Minister van Water en Sanitasie verplig is om Groen- en Bloudruppelverslae te publiseer, maar nogtans het die laaste sulke verslae sowat vier jaar gelede verskyn.
Muller is, in teenstelling met Johnson, ’n voorstander daarvan dat water verhandel moet kan word. Hy het gesê in lande soos Australië word dit in droogtes gebruik om die landbou te help oorleef. Hy meen een van die probleme met die Waterwet is dat dit as ’n “wit wet” beskou word en dat mense hulle nie noodwendig met die waardes daarin vereenselwig nie.