‘SKENK ONBENUTTE GROND’
‘Mense sê die verlede is verby, maar ons huidige situasie is deur die verlede gevorm.’
GROOT grondeienaars, mynmaatskappye en boere behoort onbenutte grond vir grondhervorming aan die staat te skenk. Die Regering behoort ook restitusie en markwaarde te laat vaar en staatsgrond te herverdeel.
Volgens adv. Tembeka Ngcukaitobi, skrywer van die boek The Land is Ours, lid van pres. Cyril Ramaphosa se nuwe grond-adviespaneel en spreker op Rapport en City Press se Grondberaad in Johannesburg, is dít dinge wat onmiddellik gedoen kan word om grondhervorming te bespoedig.
Hy is bekommerd oor wat hy historiese ontkenning oor die verlede noem.
“Ons moenie gevangenes van die verlede wees nie, maar ons kan ook nie die verlede ontken nie.” Volgens hom is een van die probleme van die debat oor grondhervorming dat daar nie ’n gemeenskaplike wegspringplek is nie. “Mense sê die verlede is verby, maar die werklikheid is dat ons huidige situasie deur die verlede gevorm is.”
Ngcukaitobi het die wetgewing genoem wat sedert 1891 die plaaslike bevolking in die land verbied het om grond in die grootste deel van die land te bekom. Die wetgewing het onder meer bepaal hoeveel gesinne van kleur op plase kon bly, op voorwaarde dat hulle vir die wit eie- naars gewerk het.
WATTER VRYHEID?
Wanneer ’n huidige eienaar van ’n eiendom vandag redeneer hy het dit in die ope mark gekoop, is Ngcukaitobi se reaksie dat dié mark volgens rasselyne gevorm is.
Vir mense wat teen grondhervorming is en hulle op die Grondwet beroep, is sy teenantwoord dat die Grondwet ook bepaal dat die ongeregtighede van die verlede reggestel moet word, dat mense vry moet wees en dat Suid-Afrika aan almal behoort.
“Hoe kan vryheid in ’n toe- stand van grondloosheid geniet word?”
Prof. Peter Delius, emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê die grondhervormingsproses is aanvanklik as ’n beperkte program bedoel, maar die feit dat dit nie afgehandel word nie, het nou ’n struikelblok vir vooruitgang geword.
Die Tesourie beraam dat sowat
R600 miljard en 200 jaar nodig is om die 163 000 nuwe grondeise sedert 2014 af te handel.
Nog honderde jare sal nodig wees indien die eisproses heropen word.
GEEN LEIERSKAP
Dit is vir Delius ’n raaisel dat daar nie leierskap is oor hoe dié situasie gehanteer moet word nie. Volgens hom het die instellings wat grondhervorming moet uitvoer, nie genoeg hulpbronne en vaardighede nie.
Hy is ook bekommerd oor die toenemende tekens van etniese en gemeenskapskonflik wat uit mededingende grondeise blyk. “’n Amptenaar het aan my gesê ons gaan soos Rwanda word.”
Intussen het die sloering met die afhandeling van eise ’n reuse-ekonomiese koste omdat dit bedrywighede byna tot stilstand dwing. Grondeienaars verminder onder meer hul koste, belegging en arbeidsmag.
In die lig van die land se hoë werkloosheidsyfers het Delius gesê die debat behoort eintlik eerder te gaan oor hoe swart mense se onbevoorregte situasie verander kan word.
Oor onteiening sonder vergoeding het hy gesê as dit gebeur soos wat voorgestel word, het hy nie ’n probleem daarmee nie, maar hy meen nie dat dit ’n groot uitwerking op vordering met grondhervorming sal hê nie.
Ngcukaitobi het saamgestem en gesê dit sal aan die staat bloot meer magte verleen, terwyl hy juis nie die magte gebruik wat hy reeds het nie.
Hy het die staat se gebrek aan vermoë as ’n probleem uitgelig en gesê die Grondeisekommissie en die Grondeisehof moet herstruktureer word – laasgenoemde het geen heeltydse regters nie.
Oor die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het hy gesê dit moet waarskynlik heeltemal toegemaak word.