TEMMERS VAN DIE DUINE
Só sê kategoriewenners
LIGGEWIG (ALGEHELE WENNER)
Shannon Parker en Llamrai Asara (SA)
“As ’n mens die eerste keer die woestyn inry, gaan staan party perde sommer, so stomgeslaan is hulle. Hulle dink, waar is ek nou? Al wat hulle sien, is sand. Asara was egter ’n staatmaker – sy ken sand, en het heelpad ’n sterk pas gehandhaaf.”
BES VOORBEREIDE PERD
Reni van der Merwe en Gulilah Naghgaliet (Namibië)
“Die skof langs die kus word so beplan dat ons dit met laagwater ry. Die roete is lekker hard daar. Die wind is ’n belangrike faktor – dit kan drukkend en bedompig raak, en ’n bries van voor is goed vir die perde. Maar sterk wind kan weer die sand in jou oë waai.”
STANDAARDGEWIG
Suné Wessels en Edl Agbahr Blue Domino (Namibië)
“Die Walvisbaai-rit is in ’n ander klas. Dis nie sommer vir opklim en jaag nie. Die roete is tegnies, en elke skof het ander probleme en word anders aangepak. Jy moet jou perd ken, en weet wanneer om hom te spaar en wanneer om vinnig te ry.”
JONG RUITER
Lara van Niekerk en Hurst Ronaldo (SA)
“Voor die rit het ons gaan kyk hoe die roete lyk: Waar dit die veiligste is om te ry, en waar jy moet afklim. Wanneer jy ’n steil duin saam met jou perd uitstap, moet jy altyd voor hom bly. As hy in die sand gly wanneer jy onder hom is, kan hy bo-op jou beland.”
SWAARGEWIG
Hendri van Wyk en Shadow (SA)
“Swaargewigte moet voorbereid wees en goed beplan. Ons was tien dae voor die wegspring in Walvisbaai sodat die perde kan akklimatiseer. Ons het stadig begin. Voor Duin Sewe was ons span vierde, vyfde en sesde. Ná die duin het ons voorgeloop.”
KINDERRUITER
Carmen Derks en Kalharabi CD El-Arab (Namibië)
“Dit is die tweede keer dat ek Walvis ry. Die baan is elke jaar anders, want die stormwinde skuif die duine. Duin Sewe was vanjaar die moeilikste – die sand is diep en los, en die perde sak sommer tot by hul knieë in. Daar klim ek eerder af en stap.”