7 tergende vrae: Weerkenner antwoord padlangs
Droogtes het meer te make met die mens se opvattings as met feite, sê die deurwinterde weerkenner mnr. Johan van der Berg. Hy het ’n paar reguit vrae van Roelof Bezuidenhout, ’n boer van Steytlerville, beantwoord.
Het die meteorologiese wetenskaplikes ons dalk so ver vooruitgeloop met navorsing dat ’n gaping ontwikkel het tussen wetenskaplike kennis en boere se geloof in voorspellings? Buiten dat seisoensvoorspellings in twyfel getrek word, bestaan ook bedenkinge oor waarskuwings oor klimaatsveranderings.
Die wetenskaplike kennis bestaan natuurlik nou, maar deel van die probleem is dat mense nie aanvaar dat droogtes deel kan wees van die klimaat van ’n gebied nie. Ons moet wegbeweeg van voorspellings en eerder kyk na scenario’s soos vervat in die geskiedenis.
Voorspellings bly net voorspellings. Dit is beter om na die langtermynrekords te kyk en die risiko’s daarvolgens te bepaal.
Die uitwerking van klimaatsverandering is nog nie regtig duidelik in die jaarlikse totale reënval nie. Ek wil my verstout om te beweer droogtes raak minder intens as in die verlede as na syfers wêreldwyd gekyk word. Die mensdom se verwagting is maar net te hoog.
Wat is die waarde van voorspellings?
Korttermynvoorspellings (van ’n paar uur tot paar weke) het verbeter, want dit gebruik beter intydse inligting soos gemonitor deur satelliete en baie meer puntwaarnemings. Seisoensvoorspellings (enkele tot ’n paar seisoene) wat suiwer gegrond is op statistiese ontleding van historiese data, is ’n ander saak. Eerstens is die tydperk van metings te kort om herhaalbaarheid te kan bepaal, want daar is baie siklusse.
Daarby kan El Niño of La Niña, die Indiese Oseaan-dipoolindeks, die Stille Oseaan-dekadeskommeling (Pacific Decadal Oscillation), asook ’n klomp ander korttermynfaktore, soos veranderde energievlakke van die son (nie die sonvleksiklus nie), versteurings in ’n siklus veroorsaak.
Die feit is dat ons inligting te min en onvolledig is om regtig tydsreekse te omvat. Dit is natuurlik veral moeilik om langtermynvoorspellings, wat strek oor dekades, of voorspelllings oor klimaatsverandering, wat strek oor tydperke van honderde tot miljoene jare, te doen.
Vertel ons meer oor siklusse.
Siklusse (dikwels nog onbekend) veroorsaak steurings wat pieke in reënval of droogtes uitdoof. Siklusse is moeilik om te voorspel, ook as gevolg van ander siklusse wat mekaar beïnvloed. Daar is wel ’n paar siklusse wat redelik konstant is, soos die sonvleksiklus en reënvalsiklus.
Kyk na die siklus vir byvoorbeeld Noordwes, waar ek ’n slepende gemiddelde oor drie jaar gebruik het ( GRAFIEK 1 ).
Hierdie siklusse verskil in lengte, asook wanneer hulle voorkom – en verskil heelwat van byvoorbeeld die Wes-Kaap ( GRAFIEK 2 ).
Ek het ’n soortgelyke siklus bereken vir Jansenville ( GRAFIEK 3 ) wat reekse van jare met ondergemiddelde en bogemiddelde reënval wys. Ook dié siklusse wissel in lengte.
Hoewel die Jansenville-voorbeeld toon dat die huidige seisoen se droogte die mees intense droogte is sedert ten minste 1959-’60, is die aantal droogtejare baie minder as in vorige siklusse waar dit tot agt agtereenvolgende jare droog was.
Onthou, die lopende gemiddelde oor drie jaar plat dit ’n bietjie af, maar dit weerspieël eintlik die werklike droogte en die oordrageffek van droogte.
Tog ervaar mense die huidige droogtes as die ergste nóg. Is die verwagting van weer’n
voorspellings nie net te hoog nie?
Is dit waar dat die sonvleksiklus ’n rol gespeel het in die Titanic-seeramp deurdat ysberge verder suid gedryf het as gewoonlik omdat die destydse klimaat kouer was?
Die sonvleksiklus is nogal belangrik, want die meeste groot droogtes het voorgekom in die vyf tot ses jaar afnemende tydperk van die siklus, met beter reënval in die toenemende fase. Maar sonvlekke het nie werklik ’n invloed op temperatuur nie; eerder op elektromagnetiese energie wat meer met weerstelsels en reën te make het.
Sonvlekuitbarstings veroorsaak koeler kolle op die son, maar kan nie regstreeks na die energie of hitte op aarde herlei word nie. Ons is tans by die draaipunt na meer aktiwiteit. Die vyf tot ses jaar van toenemende aktiwiteit is dikwels met meer reën in Suid-Afrika geassosieer en omgekeerd.
Die son het egter tydperke van laer energie-uitstraling en hoër energie-uitstraling. Ons is tans in die sogenoemde moderne maksimum vir omtrent die afgelope eeu. Tydperke met laer energie was vanaf ongeveer 1645 tot 1715 en dan weer in die vroeë 1800’s.
Ek meen dit is nie korrek om die Titanic met sonvlekke te verbind nie. Die ysberge kon nog ’n oorblyfsel gewees het van koeler tydperke voor die 1900’s en wat daarna begin losbreek het.
Hoekom reën dit dikwels strepe. As veral donderweer eers ’n streep gemaak het, bly dit eenvoudig op daardie streep?
Daar is twee soorte strepe. Een is permanent waar sekere dele van ’n distrik gewoonlik meer reën kry as ander dele. Binne ’n distrik soos Bloemfontein kan die jaarlikse gemiddelde reënval met meer as 100 mm verskil, van omtrent 450 mm in die weste tot meer as 550 mm in die ooste.
Verder kan topografie ook ’n rol speel, want berge en hooggeleë dele help om orografiese reën te veroorsaak.
Orografiese reën kom voor waar die wind vogtige lug teen ’n berg opwaai en dit dien as opligtingsmeganisme om wolke te vorm weens laer temperature nader aan die spits van die berg.
Dit kan veroorsaak dat sekere dele permanent meer reën kry of ander dele in die reënskadu lê met minder reën.
Tweedens is daar strepe wat in ’n seisoen vorm. Dit is in ’n groot mate onverklaarbaar, maar dit kan wees as gevolg van grondoppervlaktoestande in die gebied tot die aanloop van die weerstelsels om gunstiger toestande te skep.
Dit is moontlik dat groot stede weens die “hitte-borreleffek” kan veroorsaak dat meer reën oor die oostelike dele voorkom as die westelike dele van die stad. Hitte laat laagdrukstelsels ontstaan wat opwaartse lugbeweging veroorsaak en makliker wolke vorm.
Gewoonlik verdwyn die strepe later in die seisoen namate die reënval oor groter gebiede begin voorkom en nie net as enkele donderbuie nie. Satellietfoto’s wat wolkbedekkings en storms aandui, wys dikwels klein strepies wolke.
Het El Niño werklik ’n uitwerking op die suidelike dele van Suid-Afrika, spesifiek die suidelike Karoo?
El Niño se grootste invloed is oor die sentrale tot westelike binneland. As jy kaarte bestudeer wat die waarskynlikheid uiteensit om ’n mediaanreënval te kry, is dit duidelik dat El Niño ’n gunstige uitwerking het op reënval oor die suidelike dele van die land in April, Junie en selfs in Augustus en September, asook oor die westelike binneland in Julie en Oktober.
Dus is El Niño gunstig vir reën oor die suidelike en westelike binneland in die winter en lente, maar ongunstig in midsomer. Is dit waar dat El Niño gekoppel kan word aan sprinkaanplae in die onlangse geskiedenis? Ek het êrens gelees dat dit dalk moontlik is om die geskiedenis van sprinkaanplae met vorige El Niño’s te korrelleer. Dis nou op grond van reisigers se verslae sedert die 1700’s. Soos genoem, is El Niño gunstig vir winteren lentereën. Dit verskaf die sneller vir sprinkane om vroeg te begin broei en selfs meer bevolkings te laat uitbroei as in ander jare.
El Niño en sprinkaanplae is dus dikwels gekorrelleer.