Só voer jy 2m. beeste per jaar — hormoonvry!
Dinge ís groter in Amerika . . . Die Five Rivers Cattle Company voer bykans ’n miljoen beeste op ’n keer en is die grootste voerkraalonderneming ter wêreld. Die bekroonde Vrystaatse leierboer Llewellyn Angus gee sy eerstehandse indrukke.
Die syfers is oorweldigend – ’n voerkraalonderneming wat bykans ’n miljoen beeste per dag voer, 2 miljoen per jaar afrond en vleis sonder hormone, antibiotika en dierereste lewer. Die Five Rivers Cattle Company is een van die Amerikaanse boerderye wat vanweë sy omvang eerder as ’n maatskappy beskryf kan word.
Dit was een van my besoekpunte buiten Leachman Cattle Company en Cherokee Cattle Ranch.
VOERKRAAL- EN PLAASINDEKS
Mnr. Jim Leachman, wat ’n paar jaar gelede ’n genooide spreker op die Aldam-veeskool in die Vrystaat was, het die Leachman Cattle Company in Fort Collins, Colorado, begin nadat hy in 2003 van Montana af daarheen verhuis het.
Hierdie groot beesboer beoog om vanjaar altesaam 1 800 bulle te evalueer en te verkoop. Hy boer met swart Angus-, rooi Angus- en Stabilizer-beeste. Laas- genoemde is ’n vleisbeeslyn wat in Amerika ontwikkel en op maternale eienskappe gerig is om koei-kalf-produktiwiteit te verhoog. Charolaisbulle word in ’n terminale kruisteelprogram by die vroulike diere gebruik.
Leachman teel sy bulle deur ’n netwerk van 42 koöperatiewe ondernemings. Die deelnemende boere besit saam 9 000 koeie. Hy hou jaarliks 12 produksieveilings.
In sy teelbeleid speel winsindekse ’n belangrike rol, naamlik ’n $-plaasindeks, ’n $-voerkraalindeks en ’n gekombineerde $-waarde-indeks.
Die plaasindeks is op wins vanaf geboorte tot speen gemik. Hulle teel vir vrugbaarheid, melk en groei.
Die voerkraalindeks lê klem op wins vanaf speen tot die bulle gereed is om verkoop te word. Daarvoor is voeromsetting, karkaswaarde en karkasgewig die belangrikste eienskappe waarvoor geselekteer word. Die tipiese kommersiële koei van boere aan wie hulle bulle en semen verskaf, het 75% Angus- en 25% Simmentalerbloed. Dit is in baie dele van Amerika die tipiese teelkoei.
MEET 16 EIENSKAPPE
Leachman se boere meet 16 eienskappe, en die databasis vir beraamde teelwaardes word weekliks bygewerk. Die databasis bestaan uit bykans ’n miljoen diere, en 31 000 kalwers se data is die afgelope jaar aangeteken.
Uitset word aan die hand van kalfgewig en dollarwaarde bereken: Reproduksie sluit in geboortegemak en die persentasie lewende kalwers wat gebore word. Verse word op die ouderdom van 15 maande gedek. Die eerstekalfkoeie moet gou weer dragtig raak. Langlewendheid. Koeikoste (hoeveelheid voer ingeneem). Die Stabilizer- komposiete vaars word gebruik om Britse en Europese teeleienskappe te kombineer. Verskillende ouerrasse word aangewend om waarde toe te voeg. Dit is: Angus vir marmering, geboortegemak, maklike hantering en omdat hulle volop is; Gelbvieh vir vroeë geslagsrypheid, koei-kalf-doeltreffendheid en vroeë groei; Simmentaler vir groei, melk, bespiering, marmering en karkasgewig; en South
Devon vir maternale eienskappe, ’n mak geaardheid, voerdoeltreffendheid en marmering.
VOER BYNA MILJOEN BEESTE
Die Five Rivers Cattle Company in Colorado besit 12 voerkrale onder die naam Kuner wat oor ses state
strek – van Texas tot Colorado. Die totale vermoë is 980 000 beeste, wat dit die grootste voerkraalonderneming ter wêreld maak.
Hul beginrantsoen bestaan uit 35% mielievlokkies (steam
flaked corn, wat van geel mielies vervaardig word waaruit die mieliekiem, olie en die meeste van die proteïene gehaal is), 25% mieliekuilvoer, 25% gemaalde voer, 10% vloeistof en 5% gedroogde distilleerdersgraan.
Die oorgangsrantsoen bestaan uit 45% mielievlokkies, 25% mieliekuilvoer, 15% gemaalde hooi, 10% vloeistowwe en 5% distilleerdersgraan.
Die afrondingsrantsoen bestaan uit 60% mielievlokkies, 25% mieliekuilvoer, 10% vloeistowwe en 5% distilleerdersgraan. Al die rantsoene bevat 0,01% mikro-elemente.
NATUURLIKE BEESVLEIS
Ingevolge die onderneming se Aspen Ridge Natural Beef-program bevat sy vleis geen hormone, antibiotika, ionofore of dierereste nie. Alle siek diere word uit die program verwyder. Vleis wat gelewer word, word deur die boer met ’n beëdigde verklaring, ondersteun deur ’n derde party wat ook verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, gewaarborg.
Die bulle in hierdie program groei oor ’n voertydperk van 184 dae teen gemiddeld 1,27 kg per dag. Dit is minder as die 1,59 kg per dag in ’n tradisionele bulvoerprogram oor ’n tydperk van 168 dae. Die voeromsetting op ’n droëmateriaalbasis is 7,5 teenoor 5,8. Die afgeronde bulle in die program vir natuurlike beesvleis weeg gemiddeld 617 kg teenoor bulle in tradisionele voerkrale wat op 644 kg eindig.
Selfs met dié groot verskille in prestasie vergoed die pryspremie vir natuurlike beesvleis daarvoor. Die pryspremie is nie bekend nie, maar Amerikaanse boere kry tot vier keer meer vir hul beesvleis as in Suid-Afrika. Daarom hou die Kuner-voerkrale aan om natuurlike vleis te verskaf en beoog om dit mettertyd uit te brei.
In Suid-Afrika word natuurlike beesvleis op die veld of aangeplante weiding gelewer, met ’n sekere hoeveelheid afrondingsrantsoen wat toelaatbaar is. Amerikaanse natuurlike vleis word egter in voerkale geproduseer met slegs ’n baie klein hoeveelheid beesvleis vanaf weiding wat met Suid-Afrika se grasgevoerde beesvleis vergelyk kan word. In Amerika is Zilmax-tipe hormone onwettig en word as taboe beskou deur Five Rivers, hoewel ionofore en “swakker” tipe gelisensieerde hormone in die tradisionele program gebruik word.
CHEROKEE RANCH
Ek het ook die Cherokee Ranch met sy Santa Gertrudisbeeste by Denver, Colorado, besoek. Hierdie stoetery is gedurende die 1950’s deur ’n aristokratiese Skotse vrou, me. Tweet Kimball, begin. Sy het haar eerste Santas in Texas gekoop en eers in daardie staat met hulle geboer voordat sy die boerdery na die Rockies, haar geliefde berge, verskuif het. Hulle is vandag goed in hierdie tipiese Angus-toestande aangepas. Rooi Angusse word in ’n gedeelte van die kudde ingebring, met goeie resultate wat groei en vleisgehalte betref.
Die plaas spog ook met ’n kasteel wat op die Rockies uitkyk.
Volgens mnr. John Ford, uitvoerende direkteur van Santa Gertrudis Internasionaal, beskik hierdie ras reeds oor genomiese beraamde teelwaardes.
SA OP REGTE PAD
Uit ’n plaaslike oogpunt kan ek verklaar dat Suid-Afrikaanse beesrasse fenotipies net so goed soos enige ander beesras ter wêreld is. Sommige Suid-Afrikaanse telers is op die regte pad met die insameling van inligting oor eienskappe, en die land se genomiese vleisbeesprogram sal mettertyd tot genomies beraamde teelwaardes lei.
Meer Suid-Afrikaanse telers moet egter data oor eienskappe aanteken en genomiese SNP-toetse doen. Ons moet ook Australië en Amerika se beskikbare tegnologie gebruik om in te haal.
Die Amerikaanse uitgangspunt om beraamde teelwaardes en genomies beraamde teelwaardes vir groter winsgewendheid te gebruik, asook om met die nuutste tegnologie tred te hou, moet deel van ons eie denke word as ons as ’n vleisbeesbedryf wil oorleef.
Ons moet ook baie versigtig wees oor aan wie die genomiese data en meer spesifiek die diere se SNP-resultate behoort en wie toegang tot hierdie inligting het.
Die eienaarskap van genetiese merkers vir bepaalde ekonomies uiters waardevolle eienskappe, soos residuele voerinname, kan ’n groot kwessie word indien daar nie kontrakte tussen partye is nie. Die teler en sy telersgenootskap behoort die regmatige eienaars te wees.
Mnr. Llewellyn Angus (Pr.Sci. Nat.) is ’n Simmentaler-, Simbra-, Merino- en wildteler van Arlington. Hy is verlede jaar deur die Landbounavorsingsraad bekroon as eienaar van die Vleisverbeteringskudde van die Jaar en het onlangs die vyftigste kongres van die Federasie vir Vleisbeesverbetering (BIF) in Colorado bygewoon.