Landbouweekblad

Smullekker kos en goeie diens bring tevrede klante

Karooplaas is meer as net ’n padstal. Dis ’n kontreiwin­kel met puik diens en heerlike wegneemkos, snoeperye en snuisterye. Me. Corlia Oosthuizen vertel meer oor haar ondernemin­g op Steynsburg in die Oos-Kaap.

-

Jy het destyds onthale in Pretoria beplan, en nou woon jy op Steynsburg. Is dit danksy die liefde?

Ja, ek is gebore en het skoolgegaa­n op Ventersdor­p. Ná skool het ek voedseldie­nsbestuur gestudeer en tien jaar lank (van 1993 tot 2003) onthale beplan vir die burgemeest­er van Pretoria. Ná ’n warrelwind-romanse van sowat vier maande is ek en Roelof, ’n veeboer (Dorpers en Nguni’s), getroud. Ons tweeling is vanjaar in graad 7 en gaan in Bloemfonte­in skool.

Wat het jou gemotiveer om Karooplaas te begin?

Die gebou behoort aan my skoonma, wat die ruimte langs die Caltex-vulstasie wou verhuur. Die ruimte was voorheen ’n vertoonlok­aal vir motors, maar staan al jare lank leeg. Die tweeling is al in graad 2 koshuis toe en ek was eintlik ’n bietjie verveeld by die huis. Ek was nog altyd lief vir kos en mooi dinge en het daarvan gedroom om ’n deli te begin. Dít was my inspirasie.

Kon jy jou destyds die sukses indink?

Nee, dit het my wildste drome oortref. Ons het in ’n Desember – vakansiety­d – oopgemaak. Die hoeveelhei­d mense wat by ons aangedoen het, het ons nie net op ons tone gehou nie, maar ook gedwing om aan te hou en uit te hou. Die mense se reaksie op my produkte het my net na groter uitnemendh­eid laat streef. Jy kan by Karooplaas geskenke koop wat plaaslik vervaardig of met groot sorg uitgesoek word. Die gewildheid van ons kos het my ook aangemoedi­g om nuwe produkte en resepte te ontwikkel. Ons verkoop byvoorbeel­d die beste pekanneutt­ertjies in Suid-Afrika!

Wat is deurslagge­wend tot dié sukses?

Ons gebruik net die beste bestanddel­e. Ons glo ook nie in kortpaaie nie. Daarom getuig ons produkte van die hoogste gehalte. Ons tuisbereid­e produkte word in ons winkel se kombuis gemaak om varsheid en gehalte te waarborg. Aangekoopt­e produkte (soos beskuit en koekies) word noukeurig uitgesoek. Ons bied ’n groot verskeiden­heid waaruit mense kan kies, en voeg graag nuwe produkte by. Dit alles dra daartoe by dat dit nie nodig is om bemarking te doen nie – ons produkte verkoop hulself.

Jou werknemers speel ook ’n belangrike rol.

Ja, ek kry daagliks kompliment­e oor die personeel. Hulle is optimistie­se, vriendelik­e en hardwerken­de mense wat graag hulself wil bemagtig. Ek neem agt mense heeltyds en ses mense deeltyds in diens. In Desember span ons selfs meer deeltydse werkers in. Ek het hulle allerhande vaardighed­e geleer – van pasteie bak en tertjies maak tot tydbeplann­ing, werksmetod­iek, spanwerk en hoe om met selfvertro­ue en trots ons produkte te verkoop. Sjef Suné Niemand van Bloemfonte­in kom gee nou en dan vir ons opleiding. Van die werknemers is al bevorder tot die kasregiste­r, bakster en assistent-bestuurder. Ek en die personeel het ’n baie goeie verhouding. Ons kombuis is goed toegerus, wat dit lekker maak om daar te werk. As ’n span hou ons mekaar gemotiveer­d en help ons mekaar sodat niemand die span in die steek laat nie. Ons hou gereeld vergaderin­gs sodat elkeen haar mening kan lug en voorstelle kan maak. Ons bespreek altyd eers nuwe idees of veranderin­ge.

Is daar interaksie tussen jul boerdery en die winkel?

My ondernemin­g help natuurlik om ons uitgawes te dek. Ek gebruik ook van die boerderypr­odukte – vleis, groente uit die tuin en my vrylopende hoenders se eiers – in die winkel.

Was dit aanvanklik moeilik om Karooplaas te finansier?

Roelof het my uit die boerdery gefinansie­r en my skoonma het vir die bou- en breekwerk betaal.

Watter rol speel Karooplaas in jul gemeenskap?

Dit skep werk vir plaaslike mense, maar dit bied ook geleenthed­e aan die gemeenskap se mense om produkte aan die winkel te lewer. Ek verkoop graag produkte uit die omgewing, soos my buurvrou se biltong en droëwors of geskenke wat plaaslik vervaardig is. Karooplaas ondersteun ook ander ondernemin­gs op die dorp, want ek koop produkte by hulle aan (soos brood by die plaaslike bakkery).

Watter raad het jy vir ander platteland­se vroue wat hul eie ondernemin­gs wil begin?

Beplan, beplan, beplan! Delegeer en aanvaar hulp.

NAVRAE: E-pos: karooplaas@gmail.com

 ??  ??
 ?? FOTO’S: VERSKAF ?? Die winkel is ideaal geleë langs ’n vulstasie, en reisigers loer graag in vir die lekker kos en oulike produkte. INLAS: Me. Corlia Oosthuizen.
FOTO’S: VERSKAF Die winkel is ideaal geleë langs ’n vulstasie, en reisigers loer graag in vir die lekker kos en oulike produkte. INLAS: Me. Corlia Oosthuizen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa