Veeverslag
DIE rooivleisbedryf moet sy sake agtermekaar kry sodat Suid-Afrika rooivleis kan uitvoer. Dit gaan met ’n noukeurige stelsel gepaard om alle vee te identifiseer, sê dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) in sy Augustusverslag oor siektes wat deur veeartse in Suid-Afrika aangemeld is.
Dit is op die afgelope kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Alfaweek op Parys beklemtoon. Handelsvennote moet gerus wees dat die republiek ’n stelsel het wat diere in ’n sentrale stelsel identifiseer en dat beweging van vee nagespeur kan word. ’n Proses is reeds aan die gang om dit moontlik te maak. “Alle boere, die staat en private veeartse moet saamwerk om te verseker dat siektes, soos bek-en-klouseer en ander beheerde en aanmeldbare siektes, in bedwang gebring of uitgeroei word.”
Een van die gevaarlikste siektes wat byna onbeheers in Suider-Afrika woed, is beesbrucellose. Daarom moet boere deeglike biosekerheidsmaatreëls toepas om die verspreiding van die siekte te keer. Intussen veroorsaak kriptosporidium, in kombinasie met patogeniese E.coli steeds groot probleme vir grootvee, skaap en bokboere. Jong diere is uiters kwesbaar en hoë biosekerheidsmaatreels moet te alle tye gehandhaaf word. Die immuniteit van ooie en koeie moet ook op die hoogste moontlike vlak gehou word om te verseker dat die kolostrum (passiewe immuniteit) hulle lammers en kalwers beskerm.
“Of dit nou plaasdiere of ander diere is, almal wat met diere werk, moet hulself afvra wat hulle doen om diere se welsyn te handhaaf of te verbeter. Kan hulle méér doen, is hulle aktief genoeg om ander mense aan te moedig om die voorbeeld te volg?” vra prof. Gareth Bath, afgetrede hoogleraar. Hy is tans voorsitter van die veesorg-koördineringskomitee.
Dieresorg, produktiwiteit en winsgewendheid het ’n noue verband. As ’n boer goed vir sy diere sorg, verbeter dit produksie en winsgewendheid.
Die TABEL som siektes en toestande op wat in Augustus by RuVASA aangemeld is.