Vermy dié slaggate in
As ’n testament aan die vereistes van die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) voldoen, sal die Meester van die Hooggeregshof dit aanvaar. Dit beteken egter nie die testament is uitvoerbaar of sonder probleme nie.
Vandeesweek kyk ons na voorbeelde van onbedoelde probleme in testamente.
Voorbeeld 1
“Ek bemaak my plaas aan my seun, Koos. Indien my seun, Koos, nog nie 25 jaar oud is wanneer hy van my moet erf nie, moet die plaas in ’n trust geadministreer word, deur die Trustees, hierin aangestel, aan wie ek die volgende magte verleen en die volgende pligte opdra . . .”
In dié geval vind die bemaking aan Koos plaas en sal die plaas deel van sy boedel vorm en sal hy bevoeg wees om daaroor te beskik sodra hy meerderjarig (18 jaar oud) word. Die bepaling dat hy eers op 25-jarige ouderdom gaan erf, het dus nie veel waarde nie.
Voorbeeld 2
“Ek bemaak my plaas aan my seun, Koos. Indien my seun, Koos, nog nie 25 jaar oud is wanneer hy van my moet erf nie nie, herroep ek die bemaking aan Koos en bemaak ek my plaas in ’n trust om geadministreer te word deur die Trustees hierin aangestel, aan wie ek die volgende magte verleen en die volgende pligte opdra . . .”
Die plaas word bemaak aan die trustees van die trust wat geskep word, in hul ampshoedanigheid. Koos sal eers wanneer hy 25 jaar oud word, met die plaas kan handel.
In die eerste voorbeeld het ’n nie-diskresionêre (bewind) trust tot stand gekom, en in die tweede voorbeeld ’n diskresionêre trust.
Voorbeeld 3
Vergelyk die volgende twee moontlikhede waar die testateur voorsiening wil maak vir alternatiewe erfgename indien ’n erfgenaam, op datum van die testateur se afsterwe, nie beskikbaar is om te erf nie.
“Ek bemaak my plaas aan my dogter, Michelle. Indien my gemelde dogter sterf voordat sy van my kan erf, bemaak ek my plaas aan my seun, Sarel.” Teenoor: “Ek bemaak my plaas aan my dogter, Michelle. Indien my gemelde dogter sterf, bemaak ek my plaas aan my seun, Sarel.”
In die eerste geval word voorsiening gemaak vir ’n vervangende erfgenaam, indien die erfgenaam aan wie die aanvanklike bemaking gedoen is, nie meer in die lewe is om te kan erf nie.
In die tweede voorbeeld is daar, moontlik per ongeluk, ’n fidei commissum geskep. Ten opsigte van die bemaking, sal Michelle, indien sy lewe, die plaas erf, maar die plaas sal by haar afsterwe aan Sarel vererf. Michelle sal dus nie, nadat sy die plaas geërf het, dit kan verkoop of bemaak in haar testament nie en sal sy ook nie die plaas kan aanwend om finansiering te bekom nie.
RESTANT VAN BOEDEL
’n Probleem wat gereeld voorkom, is die bepaling: “Ek bemaak die restant van my boedel aan my eggenote.” Daar moet vasgestel word wat die restant behels. Die restant is dit wat oorbly nadat alle koste betaal is en uitvoering gegee is aan die spesifieke bemakings in die testament. ’n Tekort kan in die boedel ontstaan en dan erf die persoon wat die restant moes erf, niks nie.
Nóg ’n struikelblok is te min kontant in ’n boedel, want dit kan lei tot ’n gedwonge verkoping van bates. Dit beïnvloed die verdeling van bates en kan lei tot ’n vertraging in die afhandeling van die boedel.
Gestel daar is drie plase in ’n boedel wat aan drie erfgename moet vererf en ’n groot kontanttekort ontstaan in die boedel. Die erfgename het nie genoeg geld om in te betaal nie – watter erfgenaam se plaas moet verkoop word om die koste te betaal?
Boedelkoste bestaan uit bekende uitgawes, soos laste wat vereffen moet word en boedelkoste, waaronder begrafniskoste en die eksekuteurstarief. Daar is egter ook uitgawes waaraan ons nie altyd dink nie, soos boedel-, kapitaalwins- en inkomstebelasting. Maak voorsiening daarvoor en minstens ook vir oorbruggingskapitaal vir jou afhanklikes en erfgename. Alle normale lopende uitgawes moet steeds betaal word aan die einde van die maand waarin die oorledene gesterf het.
Indien jy ’n werkbare testament wil opstel, behoort ’n kundige eers ’n deeglike ontleding en beplanning van jou boedel te doen.
Piet Swanepoel is ’n toegelate prokureur en ’n konsultant by die finansiëledienstemaatskappy Allegiance Consulting.