Maak koringwins! Risiko verlaag met moderne derde-stelsel
Twee broers van Moorreesburg pas ’n moderne weergawe van die ou derde-stelsel op hul grond toe, en pluk die vrugte van verlaagde produksiekoste én risiko. Die verbetering in voervloei gee boonop hul veevertakkings ’n hupstoot.
Sommige boere is gemaklik daarmee om aan te gaan soos altyd en net hier en daar klein veranderinge aan te bring.
Ander boere, soos mnre. Cobus en JP Bester van Moorreesburg, het ’n langtermynsiening en het begin om hul boerdery taamlik drasties te verander om koste, en uiteindelik risiko, te verlaag.
“Ons einddoel is om koolstof in ons grond te bou, op voorwaarde dat ons dieselfde of meer wins maak as met ander stelsels, maar met die laagste risiko.”
Hulle doen dit deur koring met medics af te wissel, eers in ’n helfte-stelsel, maar deesdae in ’n derde-stelsel wat ook dekgewasse insluit.
Cobus verduidelik wat hulle aangespoorhet om na ’n konserwatiewe derde-stelsel oor te skakel waarin hulle elke jaar net op ’n derde van hul grond ’n kontantgewas plant.
“Jy moet jou koste verlaag. Dit is al waaroor jy beheer het. Jy kan niks aan die pryse en die weer doen nie. Ons wil in droë jare, soos dié wat ons in 2003, 2004, 2015 en 2017 gehad het, met die minste moontlike finansiële probleme of tekorte daar uitstap.”
Hy sê as hulle nie die veranderinge aangebring het nie, was hulle aansienlik swakker daaraan toe in ’n jaar soos verlede jaar. Hy erken dat daar een of twee jaar uit tien is waarin ’n ander stelsel met meer risiko as hulle s’n beter vaar. “Ek gun hulle dit, want ek slaap die ander agt jaar rustig.”
Die Besters het in 2016 begin om dekgewasse aan te plant. Hulle soek nog na die regte mengsel en plantdigtheid, maar is in die stadium gemaklik met ’n mengsel van Japannese radys, Saia-hawer en rog. “Die mengsel is voordelig uit ’n weidingsoogpunt. Ons weiwaarde is baie meer. Ons drakrag het die afgelope agt jaar verdubbel. Ons boer