Banke, bedryf se plan vir vennootskappe van ys gehaal
‘ ’n Vennootskap is nie veel anders as ’n huwelik nie.’
’N BYNA vier jaar oue plan waarin banke en ander private uitleners voorstel hoe hulle saam met die Regering die herverdeling van grond kan bevorder, is vanjaar afgestof en gesprekke daaroor het al redelik ver gevorder.
Die Bankvereniging van SuidAfrika (Basa) en die landbousakekamer Agbiz, wie se lede landboumaatskappye insluit wat finansiering aan boere verskaf, het die model reeds in 2014 opgestel en vroeg in 2015 aan mnr. Gugile Nkwinti, destydse Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, oorhandig.
Die plan is in beginsel goedgekeur, maar is ondanks herhaaldelike pogings deur Basa en Agbiz nooit in werking gestel nie.
Pres. Cyril Ramaphosa het egter in Februarie vanjaar in sy staatsrede presies so ’n model versoek, waarna gesprekke hervat het. Mnr. Pierre Venter, hoofbestuurder van menslike nedersettings by Basa, sê hy hoop ’n ooreenkoms sal voor einde vanjaar bereik kan word.
Basa en Agbiz het die model opgestel omdat uitleners in die private sektor ’n manier wou vind om te help om grondherverdeling te bespoedig.
Die model se doelwit strook met dié van Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) om ’n bykomende 20% van kommersiële plase, per distrik, teen 2030 aan swart begunstigdes oor te dra.
“Die finansieringsmodel wat ons geskep het, beoog om staatsgeld as hefboomfinansiering te gebruik om dit te bereik en deur vennootskappe ’n situasie te skep waar almal wen.”
Benewens ’n finansieringsvennootskap tussen die staat en die private sektor, behels die model ook vennootskappe tussen gevestigde, kommersiële boere, wat vrywillig deelneem, en bemagtingsvennote. Laasgenoemde kan plaaswerkers,’ngemeenskapof ’n opkomende swart boer wees.
Van die voorwaardes in die model is dat die betrokke kommersiële boere self hul opkomende vennote moet kan kies, en dat laasgenoemde titelaktes moet kry.
Venter sê volgens die model is die staat nie betrokke by die kies van die begunstigdes nie. “’n Vennootskap is altemit nie veel anders as ’n huwelik nie,” sê Venter.
SÓ WERK DIT
Die kommersiële boer wat by so ’n vennootskap betrokke sal raak, is iemand wat ’n aangrensende eiendom wil koop, sy eie eiendom wil onderverdeel of ’n vennootskap met ’n swart boer wil sluit wat ’n kommersiële plaas wil koop, maar nie die nodige kapitaal of vaardighede het nie.
Vir ’n plaas wat byvoorbeeld vir R10 miljoen op die mark is, verskaf die staat dan, deur ’n vooruitbetaalde toekenning, die finansiering vir die bemagtigingsaandeel, wat in hierdie voorbeeld R4 miljoen kan wees, maar van geval tot geval kan wissel.
Uitleners in die private sektor ding dan mee om die kommersiële langtermynlening vir die oorblywende R6 miljoen te bied, teen gewone leningsvoorwaardes.
Die gevestigde boer kry ’n 50%-belang in die plaas en sy winsgewendheid, totdat die opkomende boer hom uitkoop of totdat die skuld terugbetaal is.
In die vennootskap of gesamentlike onderneming onderskryf die gevestigde boer die skuld en bied sy kennis en infrastruktuur, soos trekkers, aan die opkomende boer.
Die staat stel die beginsels vir swart bemagtiging waaraan die gevestigde boer moet voldoen om vir die staatstoekenning in aanmerking te kom. Die uitlener dra die verliesrisiko en neem daarom die uitleenbesluit.
ERKENNING
Vir die staat is die voordeel dat hy in die voorbeeld R4 miljoen bestee, maar dat die opkomende boer onmiddellik R5 miljoen van die plaas besit, wat mettertyd tot R10 miljoen kan groei wanneer die gevestigde boer uitgekoop word.
Vir die gevestigde boer is die voordeel dat hy sy infrastruktuur en skaalekonomie as hefboom kan inspan en deel kan hê in die winsgewendheid van die verhoogde produksievlakke.
Venter sê as die boer erkenning vir sy deelname kan kry in die vorm van sy status in swart ekonomiese bemagting en ander staatsvereistes, sal dit vir hom bykomende voordele bied.
Vir die opkomende boer is die voordele dat hy nie net ’n kommersieel haalbare plaas bekom nie, maar ook mettertyd vaardighede gaan bekom om die plaas op sy eie te bestuur.
Vir die uitlener is die voordeel dat die gewone uitleenkriteria geld. Die verskillende soorte lenings, soos vir produksie, infrastruktuur, roerende bates en grondverkryging, kan alles volgens gewone kommersiële voorwaardes gebied word.
“Die bedoeling met die model is dat dit robuus genoeg moet wees om verskillende opsies moontlik te maak, mits dit aan die staat se beginsels voldoen en in wese daaroor gaan om kommersieel haalbare plase na swart begunstigdes oor te dra,” sê Venter.
NÓG VENNOTE
Hy sê Basa en Agbiz hoop dat nóg uitleners die BasaAgbiz-model sal steun en betrokke sal raak by die mededinging om lenings te verskaf. Hy sê egter ook dis noodsaaklik om te besef dat finansiers aan die einde van die waardeketting is.
“Vir so ’n model om te werk, sal ons heeltemal afhanklik wees van ’n aanbod van kommersieel haalbare sakemoontlikhede wat aan die staat se beginsels vir herverdeling voldoen.”
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê die nodige politieke wil is onontbeerlik vir sukses, asook voldoende begroting vir die staat se rol in die model.
Hy sê die model is spesifiek ontwikkel vir situasies waar grond besit word.
Vir ander situasies, soos kommunale grond en agriparke, sal ander modelle ontwikkel moet word.
Die risiko’s sal aansienlik verskil en daarom ook die soort staatsteun wat nodig is om dié gebiede “bankbaar” te maak.