DIÉ STELSEL VAN WISSELBOU VAAR BESTE IN DROOGTE
“Dit is juis in droë jare dat ons sien watter kultivars en stelsels beter in produksie vaar. As daar water is, is dinge baie gelyk, maar wanneer gewasse begin swaarkry, wys hulle gou vir jou ’n paar dinge uit.”
Só het dr. Johann Strauss, wetenskaplike vir volhoubare gewasverbouingstelsels en bewaringslandbou in die direktoraat plantwetenskap in die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê ná afloop van die 17de wintergraan-inligtingsdag wat laatwinter gehou is.
Dit is met die samewerking van Joubert Boerdery, Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) en die departement op die plaas Uitkyk op die Riversdalvlakte aangebied. Ondanks die droogte is die dag goed deur 270 kleingraanboere en belangstellendes ondersteun en verskeie belanghebbendes, van saad- tot gifmaatskappye, het die geleentheid gekry om die boere by die besoekpunte toe te spreek.
Ander sprekers was prof. Johann Kirsten van die Universiteit Stellenbosch, wat ’n nugtere beskouing van die debat oor grondhervorming gegee het, en me. Lizette Nowers van die Wes-Kaapse departement landbou wat oor Sclerotinia gepraat het.
Volgens Strauss het ’n skamele 59,8 mm reën geval sedert gewasse einde April aangeplant is. “Voor planttyd het ons 65 mm reën gehad, waarvan 40 mm in Januarie was. In die eerste drie maande ná plant het 30 mm reën geval en in Augustus nóg 30 mm.”
Vergeleke met verlede jaar se reën van 123 mm in die groeityd waarmee 1,4 t/ha koring, 1,3 t/ha kanola en 1,2 t/ha gars in die Uitkyk-proewe geoes is, moet graanboere in die Suid-Kaap hulle op nóg ’n swak oes voorberei. Die min verskille wat tussen proewe en kontroles uitgewys kon word, het dit benadruk.
Daar is vanjaar ook geen bedekking nie
omdat verlede jaar se oes swak was.
Die stelsels waarop proewe by Uitkyk gedoen word, is koring-kanola, koringlupiene-koring-kanola, koring-gars-kanola, gars-lupiene-koring-koring-kanola en ’n dekgewasstelsel.
Strauss het gesê die bruto marges van die stelsels van 2013 tot 2017 het baie gewissel. Met ’n gemiddelde opbrengs van 3,1 t/ha het koring in die meeste gevalle die stelsels gedra, teenoor gars se 3 t/ha, kanola se 1,7 t/ha en lupiene se 1,1 t/ha. Oor vyf jaar bly die peulgewas-kanola-koring-stelsel se gemiddelde opbrengs die beste.
Die gemiddelde bruto marge van die verskillende stelsels oor vyf jaar van hoog na laag was koring-gars-kanola (R5 124), koring-kanola (R4 943), gars-lupiene-koring-koring-kanola (R4 323), koring-lupiene-koring-kanola (R3 821) en koring-dekgewas-kanola (R2 872).
Ondanks Sclerotinia wat die kanola-oes in 2015 geknou het, vaar die gewas oor die algemeen uitstekend in Suid-Kaapse wisselboustelsels. Kanola se gemiddelde opbrengs oor vyf jaar was 1,77 t/ha vir kanola-koring, 1,53 t/ha vir koringlupiene-koring-kanola, 2,01 t/ha vir koringdekgewas-kanola, 1,58 t/ha vir koringgars-kanola en 1,69 t/ha vir garslupiene-koring-koring-kanola.
Sedert 2016 het hulle twee dekgewasstelsels, Saia-hawer-kanola-koring en peulgewas-koring-koring, bygevoeg om ’n deklaag te vestig en natuurlike stikstof te bou. Hoewel dek- of peulgewasse, soos lupiene, nie op sigself geld maak nie, is dit die wenresep binne rotasiestelsels om op lang termyn geld te maak. “Tans benadeel lupiene die bruto marge in stelsels omdat dit nie geoes word nie of as deklaag doodgespuit word. Hopelik sal ons ’n meer kommersiële peul kry wat ’n beter opbrengs gee om die marge te lig,” het Strauss hoopvol gesê.