Dis oorlog teen handelsoorloë
Daar is geen wenner in ’n handelsoorlog nie en kenners waarsku teen ekonomiese stremming en ’n wurggreep op werkskepping as dit die ‘nuwe normaal’ raak.
Handelsmaatreëls en gelyke toegang tot markte kan die landbou maak of breek. Die wêreld het vir landbouprodusente baie klein geword, en elke boer ding elke dag met die beste boere in ander wêrelddele mee.
Benewens weerstoestande, waaroor ons geen beheer het nie, kan blootstelling aan verwronge handelsmaatreëls verdoemende gevolge op die plaas hê.
Markte word deur doeltreffendhede aangevuur. Die boer wat die doeltreffendste aan die verbruiker se voorkeure kan voldoen, sal gedy.
Prys, gehalte, aanbieding, aantreklikheid en toenemend ook naspeurbaarheid en die toepassing van die beste produksiepraktyke speel alles ’n rol in verbruikersvoorkeure.
In ’n onbevange mark sal die boer wat betroubaar en volhoubaar die beste gehalte teen die beste prys met die beste praktyke kan lewer, die beste presteer.
Dit is wanneer óf die vraag óf die aanbod kunsmatig deur politieke inmenging in die mark gemanipuleer word, dat die lewensvatbaarheid van die landbou in die gedrang kom.
Ekonomiese dwangmaatreëls, storting, in- en uitvoertariewe, gesubsidieerde produksie en uitsluiting deur nie-tariefgebaseerde hindernisse kan alles daartoe bydra dat boere se inkomstestrome opdroog.
MOENIE LANDBOU AS KNUPPEL GEBRUIK
Elke keer as ek in Rusland kom, wil die media by my weet hoe die handelsboikotte (wat Russiese verbruikers seermaak) Europese produsente beïnvloed. Dan dink ek aan die plate appels wat ek in 2014 in die ooste van Duitsland in die boorde sien lê het en waarvoor daar geen alternatiewe mark was nie.
Die Wêreldboere-organisasie kan egter nie kant kies nie, daarom sê ek maar: “Wanneer die olifante baklei, vrek die gras!”
Maar so ontwrigtend as wat dit kan wees, het handelsboikotte ’n beperkte raklewe. Alternatiewe verskaffers en markte word gou ontgin, en plaaslike vernuwing en produksie word gestimuleer. Só het die Russe intussen selfvoorsienend in hoender- en varkvleisproduksie geraak en massiewe beleggings in vrugteproduksie gemaak. Suid-Afrikaanse boere vind onder meer baat by die Europese en Amerikaanse embargo.
Gedruk vir kommentaar deur albei kante, vra ek altyd dat politici hulle daarvan weerhou om landbouprodukte as knuppel te gebruik om mekaar oor die kop te slaan wanneer hulle oor dinge verskil wat niks met die landbou te doen het nie.
Lank ná die geskille besleg is, voel ons nog die impak van boikotte. As die embargo teen Rusland vandag opgehef sou word, sal die Europese en Amerikaanse boere nie môre hul markte terugkry nie. Hulle moet nou van die agtervoet af meeding met onder andere Suid-Afrikaanse en Argentynse toetreders tot die Russiese markte, waar verbruikers intussen ’n smaak, en selfs voorkeure vir die nuwe produkte ontwikkel het.
GEEN WENNERS IN DIE STRYD
Net soos met die sanksies teen Suid-Afrika in die 1980’s, wat deur die Verenigde Nasies (VN) gesteun is, het handelsboikotte as strafmaatreël dikwels die teenoorgestelde uitwerking; dit stimuleer vernuwing en selfvoorsienendheid.
Handelsoorloë het ’n ewe verdoemende uitwerking, en sedert mnr. Donald Trump tot president van Amerika verkies is, is dit ’n toenemend relevante bedreiging. In die verweefdheid van internasionale handel is daar vir elke aksie ’n teenreaksie, en is die wêreld op die punt waar niemand ’n handelsoorlog kan wen nie.
Mnr. Roberto Acevedo, direkteur-generaal van die Wêreldhandelsorganisasie, sê of die huidige spanning en optrede van Amerika en sy handelsvennote as ’n handelsoorlog beskryf kan word of nie, is die eerste salvo’s beslis afgevuur. In die eerste deel van 2018 is daar oral ter wêreld ’n betekenisvolle verskerping van handelsbeperkende maatreëls aangeteken. Tariewe, strenger doeanevereistes en kwotas word al hoe meer.
Acevedo is bekommerd dat arm lande die ergste onder beperkende maatreëls en teenmaatreëls gaan deurloop. Dit mag nie die “nuwe normaal” word nie, en sal ’n internasionale ramp ten opsigte van ekonomiese groei en werkskepping afgee, maan hy.
In ’n poging om daarteen wal te gooi, betrek hy nie meer net regerings van VN-lidlande nie, maar ook internasionale burgerlike samelewingstrukture, waarvan die Wêreldboere-organisasie een van die sterkstes is. Hoe meer stemme uit verskillende oorde opgaan, hoe groter die kans dat ’n dreigende handelsoorlog gestuit kan word.
Die Wêreldboere-organisasie verteenwoordig 80 nasionale landbou-unies op ses vastelande en verskeie eilande. Van die wêreld se grootste superboere tot die armste kleinboere staan onder sy sambreel met diverse belange. Maar dit is in almal se belang dat handel in voedsel en vesel, en by uitstek in bederfbare produkte met ’n beperkte raklewe vlot vloei.