Landbouweekblad

Ratwerk vir onteiening draai stadig

’n Belangrike aspek van grondontei­ening wat verlore raak in die huidige debatvoeri­ng oor grond, is dat dit ’n uitgerekte proses is. As ’n besluit om te onteien sonder vergoeding in die Parlement deurgevoer word, kan dit jare duur voordat die nodige wetsra

-

Minstens drie jaar kan verloop voordat die land ’n bestel van onteiening sonder vergoeding gaan sien.

Die onteiening­sproses vind nie oornag plaas nie en een waarin geen vergoeding betaal word nie, kan jare duur om afgehandel te word, sê me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA. Die enigste wetsraamwe­rke wat tans in Suid-Afrika bestaan vir onteiening, is die Onteiening­swet (Wet 63 van 1975) en artikel 25 van die Grondwet (sien KASSIE hiernaas). Om ’n wetlike raamwerk vir onteiening sonder vergoeding op te stel, verg meer as om net die Grondwet te verander.

Ander wetgewing en regulasies moet ook opgestel word om die meganismes vir onteiening sonder vergoeding te skep. Verder kan ál hierdie prosesse in die howe betwis word.

DIE HUIDIGE PROSES

Wanneer die staat besluit om grond te onteien, moet hy ’n onteiening­skennisgew­ing aan die eienaar beteken. Die kennisgewi­ng moet óf persoonlik aan die eienaar oorhandig word óf per geregistre­erde pos gestuur word. Die kennisgewi­ng moet ’n duidelike beskrywing van die eiendom bevat, asook die ligging en grootte, en die datum van onteiening.

Die reg tot die betrokke eiendom skuif op die datum van die onteiening oor na die staat. Tussen die datum waarop die kennisgewi­ng beteken word en wanneer die staat werklik besit van die eiendom oorneem, moet die eienaar van die grond voortgaan om dit in stand hou en alle belastings en ander heffings (soos eiendomsbe­lasting, water en elektrisit­eit) daarop betaal.

Die eienaar kan egter intussen voortgaan om die grond te gebruik en inkomste daaruit te kry tot die staat die grond in besit neem.

VERGOEDING

Soms word ’n vergoeding­sbedrag reeds in die onteiening­skennisgew­ing aangebied. In só ’n geval moet die eienaar binne 60 dae ná die datum in die onteiening­skennisgew­ing aandui of hy die vergoeding aanvaar of nie. As hy nie met die aanbod tevrede is nie, moet hy aandui hoeveel geld hy wil hê en hoe sodanige bedrag bereken is. As geen vergoeding aangebied is nie, moet die eienaar ook binne 60 dae die bedrag aandui wat hy as vergoeding wil hê.

Die eienaar moet volledige besonderhe­de gee van alle verbeterin­gs op die grond en van enige huurkontra­kte op die grond.

Die Minister van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming kan die eienaar versoek om binne 60 dae sy titelbewys aan die minister te lewer.

As die eienaar ’n bedrag vergoeding eis wat nie vir die minister aanvaarbaa­r is nie, kan die minister ’n ander bedrag aanbied. As die eienaar nie daarmee tevrede is nie, moet hy binne ’n tydperk in die kennisgewi­ng wat die minister bepaal, by die Hooggeregs­hof aansoek doen om ’n vasstellin­g van vergoeding. Versuim om dit te doen word geag as aanvaardin­g van die bedrag wat aangebied is.

Indien geen ooreenkoms bereik kan word nie, moet die Hooggeregs­hof die vergoeding

vasstel. Enige van die partye kan steeds ’n skikkingsa­anbod aan die ander party maak, voor die hof uitspraak gee.

Wanneer die staat en die eienaar wel ooreenkom oor die vergoeding­sbedrag, moet die minister op die dag waarop die staat besit van die grond neem, minstens 80% van die ooreengeko­me bedrag aan die eienaar betaal, of dit by die Meesterska­ntoor stort as die grond onderhewig is aan ’n fideikommi­s.

BEPALING VAN VERGOEDING

Die Onteiening­swet bepaal dat vergoeding nie meer mag wees as wat ’n gewillige koper sou betaal nie. ’n Bedrag van werklike geldelike verlies wat deur die onteiening veroorsaak word, kan ook toegestaan word. As daar geen ope mark vir die spesifieke eiendom bestaan nie, moet die verbeterin­gs minstens vergoed word, of kan vergoeding op ’n ander geskikte wyse bepaal word.

Die wet maak ook voorsienin­g vir sogenoemde tranegeld – ’n vergoeding vir emosionele verlies. Omdat die Grondwet egter nie voorsienin­g maak vir tranegeld nie, sal dit waarskynli­k nie meer in die toekoms betaal word nie. Verder word ook voorsienin­g gemaak vir die betaling van rente teen die standaardk­oers volgens die skatkiswet. (Sien KASSIE vir nog inligting.)

ANDER WETTE OOK GEWYSIG

Dit is belangrik om kennis te neem dat geen wetgewing tans bestaan om grond sonder vergoeding te onteien nie. Baie werk moet nog gedoen word om ’n wysigingsw­etsontwerp vir die Grondwet op te stel, en as deel van hierdie proses sal die Parlement boonop weer deur prosesse van openbare kommentaar en verhore moet gaan.

Benewens die grondwetsw­ysiging sal die wetsontwer­p op onteiening ook afgehandel moet word. Dié wetsontwer­p is reeds tien jaar in die parlementê­re proses, en die Departemen­t van Openbare Werke het dit onlangs onttrek hangende die hersiening van die Grondwet wat tans onderweg is.

Ander wette wat aan die staat onteiening­smagte verleen – soos die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) en die Wet op die Uitbreidin­g van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) (Wet 62 van 1997) – sal ook gewysig moet word om vir onteiening sonder vergoeding voorsienin­g te maak.

Benewens die tydsduur om al dié wetsverand­erings deur te voer, is dit ook waarskynli­k dat ’n aantal belanghebb­ende groepe hofaansoek­e kan bring om die geldigheid van sulke wetgewing en onteiening­s te bevraagtek­en.

’n Wilde raaiskoot is dat minstens drie jaar kan verloop voordat die land ’n bestel van onteiening sonder vergoeding gaan sien.

Die moderne benadering tot vergoeding is gegrond op die beginsel van gelykheid om openbare laste te dra. Billikheid rakende openbare aanspreekl­ikheid is ’n beginsel wat deur die Franse, Duitse en Amerikaans­e reg aangeneem is. Volgens hierdie benadering “waar een of meer individue ’n opoffering moet maak (die verlies van eiendom) in die belang van almal”, moet hul individuel­e en oormatige las deur die staat vergoed word.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa