’n Raakvatplan om renosterboere te help
‘Die idee is om soveel moontlik mense en beweging op plase te kry.’
Die Rhino Connect-span bou brûe tussen Jan Alleman en renosterboere sodat hulle met genoeg sigbaarheid dit moeilik maak vir stropers om vrylik rond te beweeg. Mee. Tersia Jooste, Mariska Nel en Jana Jooste, direkteure van die organisasie Rhino Connect, vertel hoe hulle help om renosters op private plase te beskerm.
Die oorsprong van die Rhino Connect-storie strek terug tot Januarie 2016 toe me. Tersia Jooste se broer, ’n lid van die musiekgroep DZL, op ’n gasteplaas gaan uitspan het. Die spanning op die werf was gou duidelik. Later het die plaaseienaar met die sak patats vorendag gekom. Dit was volmaan, en daar was renosters op die plaas. Een is vroeër geskiet en die personeel se senuwees was aan flarde.
Tersia het met ’n paar boere begin gesels en agtergekom volmaan is ’n groot probleem vir renostereienaars. Stropers kan dan gemaklik snags op plase rondloop en renosters in die maanlig afmaai, sonder kolligte wat hul teenwoordigheid weggee.
Sy het besef private eienaars kom nie die mas op nie. Dit kos tot R100 000 per maand om sekuriteit vir renosters daar te stel en boere moet dit uit hul eie sak betaal – sonder enige staatshulp.
Tersia en haar vriendinne het begin werk aan ’n plan om die publiek op ’n veilige manier by renosterbewaring betrokke te kry. “Ons wou nie noodwendig aandag op die nadelige kant van volmaan plaas nie, maar ons het besef dit is waar die behoefte lê. Renostereienaars praat van poachers’ moon. Ons wou iets goeds daaruit maak en het met die Renostermaan-konsep vorendag
gekom,” vertel sy.
Hulle werf vrywilligers wat bereid is om vir hul eie verblyf en etes te betaal. Die vrywilligers koop dan ’n naweek van harde werk en min slaap op ’n wildplaas tydens volmaan, of Renostermaan, soos sulke naweke nou by Rhino Connect bekend staan.
Om op ’n Renostermaan te gaan, is nie jou alledaagse wegbreek op ’n wildplaas nie, sê Tersia. Daar word op ’n Vrydag begin met inligtingsessies, ’n kort oorlewing-, spoorsny-, en observasiekursus, en ’n baan word opgestel waar forensiese tekens en spore geplant word soos wat dit op ’n toneel in die veld sal lyk.
“Ons leer mense om soos speurders na leidrade te soek sonder om ’n toneel te bederf vir die polisie,” verduidelik Mariska.
Dan begin die regte werk. Mense wat tydens die opleiding gewys het hulle sal hulself in die veld kan handhaaf, gaan dan op patrollies. Die plaas word opgedeel in ’n rooi area (dis waar die stropers waarskynlik die maklikste die plaas sal betree, soos grensdrade), ’n oranje gebied (waar voornemende stropers sal moet deurbeweeg om by die renosters uit te kom) en ’n groen gebied (waar die risiko laag is).
WAARDE LÊ IN ONVOORSPELBAARHEID
Nie almal loop patrollie nie en nie almal wat patrollies loop, loop op dieselfde plekke nie. Party mense ry in voertuie, en kinders word gewoonlik eerder in die groen sones uitgeplaas. Ander mense voer weer die renosters, maar almal bring lang ure deur om seker te maak daar is aktiwiteit en beweging op die hele plaas. Alle groepe beweeg saam met opgeleide teenstropingseenhede tydens patrollies.
Mariska sê die meeste renosterstropers het kontakte op plase wat hulle van inligting voorsien. Die stropers weet dus wan- neer daar ’n Renostermaan op ’n plaas is en weet om weg te bly. Om dinge vir hulle nog moeiliker te maak, word daar nie vooraf op patrollieroetes besluit nie. “Ons besluit minute voor ons vertrek watter roetes die patrolliegroepe volg,” sê sy.
Patrollies word vir allerhande tye geskeduleer. Party groepe vertrek vroegaand, ander eers in die laatnag of oggendure en ander weer vroegoggend. Die belangrikste is dat daar heeltyd mense is wat op die plaas beweeg, en veral mense is wat saam met die renosters beweeg.
Dit is die een kenmerk van ’n Renostermaan waarna enigiemand kan uitsien, sê Jana. Almal bring tyd saam met die renosters deur.
Daar is ook tyd vir informele kuiers, veral tydens etes, en die boere en hul gesinne neem ook aan die bedrywighede deel. Dit is belangrik dat mense met die boere tyd deurbring en eerstehands hoor wat die werklikhede van hul boerderye is.
Ná die eerste aand se patrollies en bedrywighede kry die vrywilligers vuurwapenopleiding deur opgeleide amptenare op ’n
taktiese skietbaan en daar is gewoonlik ’n kompetisie ná die tyd waartydens elkeen kan meet hoe hy of sy vaar. “Ons kry mense buite hul gemaksone, maar doen alles binne ons vermoë om te sorg dat die plaas en omgewing ’n veilige sone vir almal bly,” sê Tersia.
GEEN GERAAMTES
“Ons het ’n veiligheidsmaatskappy by ons projek betrek. Daar is dus ook opgeleide veiligheidspersoneel op die plaas wanneer ons daar aankom. Hulle is vir die hele volmaantyd op die plaas.”
Sy sê elkeen wat aan ’n Renostermaan deelneem, moet ’n verklaring onderteken waarin hulle onderneem om alle inligting veilig te hou. Elkeen se volle besonderhede moet ook skriftelik ingedien word voor vrywilligers ’n plaas kan betree. “Ons gebruik dan ’n maatskappy wat elke aansoeker se agtergrond nagaan en seker maak daar is geen geraamtes in iemand se kas wat ons na die plase neem nie.”
Mense wat hand opsteek en betaal om deel te neem aan ’n Renostermaan, kry eers die oggend voor hul vertrek koördinate en aanwysings na die plaas toe.
Sewe plase is by Rhino Connect geaffilieer vir Renostermaan-besoeke. Daar is ook ander plase waar net gehelp word met die voer vir renosters. Die grootte van die groepe wat tydens Renostermaan op ’n plaas ontplooi word, wissel na gelang van die grootte van die plaas en die aantal vrywilligers wat daardie maand deelneem.
Rhino Connect het sedert September 2016 elke maand ’n Renostermaan aangebied.
TYD OM UIT TE BREI
Al hoe meer boere nader Rhino Connect deesdae om Renostermaan ook op hul plase aan te bied. “Ons het nou al plase reg oor die land,” sê Tersia. Daar moet dus nou op ’n wyer grondslag vrywilligers gewerf word. In die begin het sy Pretoria FM met haar idee genader en as ateljeegas vertel waaroor die projek gaan en mense genooi om deel te neem. Sedertdien het Renostermaan gereelde lugtyd op dié stasie geniet. Mense kan ook die webblad www.
rhinoconnect.co.za besoek. Die groep gebruik toenemend sosiale media om mense bewus te maak van projekte en geleenthede.
Een van die planne is om fietsryers en atlete by Renostermaan te betrek. “Die idee is om soveel moontlik mense en beweging op plase te kry,” sê Jana.
Dit is ook vir hulle belangrik om die vol-
gende geslag besluitnemers van Suid-Afrika te betrek en bewus te maak van die noodsaaklikheid om eienaarskap van hul erfenis te neem.
Waar plase genoeg verblyfgeriewe het en skoolgroepe kan huisves, probeer hulle besoeke met skole koördineer. “Daar is reeds baie skole wat Voortrekker- en Landsdiensgroepe na van ons lede se plase toe stuur,” sê Tersia.
Hulle doen ook moeite om spesiale datums wat saam met Renostermaan val, te herdenk.
Augustus se Renostermaan was byvoorbeeld Vrouemaan. Die Black Mambas, ’n teenstropingsgroep van Hoedspruit wat net uit vroue bestaan, is toe by Renostermaan betrek. ’n Sielkundige het deelnemende vroue toegespreek oor die band tussen mens en natuur.
“Hoe meer mense ons kan betrek en oplei om fisiek ’n rol te speel in die beskerming van renosters, hoe beter kans het Suid-Afrika se renosters op oorlewing,” sê Jana.