Grond: ‘Geen krisis met pryse’ — kenners
‘Ons moet dit as bedryf baie versigtig hanteer. Ons is baie bekommerd hieroor.’
BANKE het in ’n paneelbespreking op Agri SA se jaarkongres gemaan teen veralgemenings oor neigings in plaaspryse weens die debat oor onteiening sonder vergoeding.
Mnr. Cobus Wells, hoof van Agribesigheid by Absa, het mense gevra om versigtig te wees met opvattings en veralgemenings oor grondwaardes.
“Ons moet dit as bedryf baie versigtig hanteer. Ons is baie bekommerd hieroor.”
Absa monitor maandeliks wat met transaksies gebeur.
“Ons vind in sekere gebiede groei waardes, op sekere plekke beweeg dit sywaarts, en in sekere gebiede sien ons ’n daling, maar nie op só ’n vlak dat ons sê dit raak nou ’n groot probleem en ons wil disinvesteer nie.
“Ons sien wel ’n afname. Plase verkoop stadiger in sekere gebiede. Maar iemand het eendag aan my gesê: Jy kan nooit genoeg vir goeie grond betaal nie en nooit te min vir slegte grond nie.”
Mnr. Nico Groenewald, hoof van Agribesigheid by Standard Bank Suid-Afrika, het gesê ’n bank se modelle oor potensiële slegte skuld moet deur die Reserwebank goedgekeur word. Sulke modelle het tydsraamwerke wat siklusse insluit.
Dit is volgens hom nog te vroeg om tot gevolgtrekkings te kom dat grondwaardes in ’n sekere rigting beweeg het.
BOERE HERVORM VINNIGER
Oor die finansiering van opkomende boere het banke hul verbintenis daartoe uitgespreek, maar gesê kommersiële boere, as mentors en die staat het ook ’n rol om te speel.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê die spoed waarteen die landbou grondhervorming wil doen, is vinniger as wat banke daarop reageer.
“Ons gaan aanhou vra wat gaan julle anders doen, want ons kry nie finansiering vir swart boere nie.”
Mnr. Bertie Huggett, hoof van FNB Landbou, het gesê FNB bestee baie tyd daaraan om modelle te ontwikkel om opkomende boere te help.
Kommersiële banke gebruik egter depositohouers se geld om aan ander te kan leen en moet dit volgens baie streng vereistes doen, wat depositohouers se geld moet beskerm.
“Dit is julle oupas en oumas en pensioenfondse se geld.”
Huggett het gesê ’n projek moet ’n kommersiële element hê en winsgewend wees.
Groenewald meen daar is nou groeiende momentum van alle betrokkenes om om die tafel byeen te kom.
Die grondberaad wat Landbouweekblad en Agri SA in Bela-Bela aangebied het, het volgens hom ’n belangrike rol gespeel om oplossings te kry.
STAAT SE ROL
Banke ervaar ook nou ’n bereidwilligheid van die staat se kant af.
Mnr. John Hudson, Nedbank Besigheidsbank se nasionale hoof van landbou, het gesê die gronddebat het die landbou die afgelope ses tot agt maande ’n hoër profiel gegee, maar vir die oplossing van die grondkwessie is dit nodig dat die breër ekonomie groei.
Mnr. Vassi Naidoo, voorsitter van Nedbank, het gesê die debat het die goeie gevolg gehad dat opnuut na werkbare oplossings gesoek word. Haastige besluite moenie nou geneem word en emosies moenie toegelaat word om die oorhand te kry nie, omdat dit tot langdurige, onbedoelde gevolge kan lei.
“Ek glo pres. Cyril Ramaphose is opreg as hy sê dat enige hervorming nie voedselsekerheid, ekonomiese groei of inklusiewe groei moet benadeel nie.”
Naidoo het gesê hy het groot vertroue dat Ramaphosa se paneel oor grondhervorming met innoverende idees sal kom.