Bosbou staan tru vir avo’s
EIENAARS van saagmeulens in Limpopo is bekommerd oor die tempo waarteen bosbouplantasies uitgekap word om vir veral avokadoboerdery plek te maak.
’n Saagmeuleeienaar by Tzaneen sê hy sien weekliks hoe avokadoboerdery ten koste van hout uitbrei, en hy kan nie anders as om te wonder waar hy in die toekoms voermateriaal vir sy saagmeule gaan kry nie.
Verskeie faktore dra daartoe by dat vrugte en neute, soos makadamias, deesdae winsgewender as bosbou is. Bosbou is arbeidsintensief, meganisasie is duur en die meeste werktuie is nie geskik vir die bergagtige terrein waarop hout in SuidAfrika verbou word nie.
Mnr. Mike Peter, voorsitter van Bosbou SuidAfrika, sê die winsgewendheid van gesaagde hout is al die afgelope dekade onder druk, hoofsaaklik vanweë ’n groot afname in die tempo waarteen nuwe huise gebou is nadat die Nasionale Kredietwet in werking getree het. Die prys van pulphout word deur die internasionale markte bepaal en is ook sedert die ekonomiese insinking van 2008 onder druk.
Peter sê een van die grootste uitgawes van bosbouers is vervoer en duur brandstof plaas die bedryf onder verdere druk.
WINSGEWENDHEID
Boonop verdien avokado’s tans goeie pryse op die uitvoermark, veral teen die huidige wisselkoers.
“Ek kan niemand blameer wat eerder avokado’s as hout aanplant nie,” sê ’n saagmeuleeienaar, wat gevra het om anoniem te bly.
“Bosbou is egter ’n langtermynbedryf en ek hoop boere hou genoeg hout op hul grond om later, wanneer pryse verstewig, dááruit baat te vind.”
Peter gee ook toe dat avokado’s en makadamias nou winsgewender as bosbou is. Hy wys egter daarop dat die vervangingsneiging hoofsaaklik tot Limpopo en Mpumalanga beperk is met enkele boere in KwaZuluNatal wat hul houtplantasies met vrugte of neutboorde vervang.
Hy sê in die breë behoort dié vervangings nie te veel invloed op die plaaslike houtbedryf uit te oefen nie. Hoewel daar ál minder hektare onder hout beplant word, word bosbouers ál meer gespesialiseerd en oes SuidAfrika nou omtrent 85% meer hout per hektaar as wat die bedryf in 1980 geoes het.
Peter raai bosbouers aan om nie van al hul houtplantasies ontslae te raak nie, veral nie as hulle betreklik naby aan plaaslike markte is of toegang tot uitvoermarkte het nie.
“Dit is een van die min produkte wat ’n mens toelaat om op beter pryse te wag omdat hout nie bederf as jy dit nie vanjaar kap nie. Boonop groei jou belegging elke jaar terwyl jy op beter marktoestande wag, daarom verkies die meeste pensioenfondse in ontwikkelde lande om in bosbou te belê.”