Trump & Agoa: Wat jy moet weet
Die omstandighede rondom die onlangse hernuwing van die NoordAmerikaanse Vryhandelooreenkoms beklemtoon dat Suid-Afrika nie kan bekostig om Amerika as handelsvennoot te vervreem nie.
Die nuwe Naftaooreenkoms is vir Suid-Afrika ’n rigtingwyser oor pres. Donald Trump se benadering tot handelsooreenkomste, en vind plaas in ’n konteks waar ál meer kommer heers oor die doeltreffendheid van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en die toekoms van multilaterale vryhandelooreenkomste.
Só sê me. Trudi Hartzenberg, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Handelsregsentrum (Tralac), oor dié ooreenkoms waarin Kanada en Mexiko toegewings moes maak om hul vastrapplek in die winsgewende Amerikaanse mark te behou.
Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê Suid-Afrika moet katvoet loop te midde van die nuwe benadering, waar Amerika nie net ekonomiese waarde nie, maar ook politieke voordeel uit sy handelsooreenkomste wil trek.
“Suid-Afrika kan nie bekostig om Amerika as handelsvennoot te vervreem nie. Ons sal byvoorbeeld mooi moet dink oor die voordeel van ooreenkomste wat ons met China sluit.”
Hy wys daarop dat Trump baie seker maak die skaal swaai in Amerika se guns wanneer hy nuwe handelsooreenkomste sluit. “As Amerika nie enige voordeel – ook polities – uit ooreenkomste trek nie, sal hy die kraan toedraai.”
KYK NA IRAN
Dié politieke dimensie blyk duidelik uit Amerika se hernude sanksies teen Iran, met die nadelige invloed op die internasionale olieprys wat tot in Suid-Afrika gevoel word.
Hartzenberg sê Trump verskuif die magsbalans ten gunste van Amerika deur eerder bilaterale handelsooreenkomste as multilaterale ooreenkomste te onderhandel. Dié ooreenkomste is voordelig vir Amerika, want hy is een van die wêreld se twee grootste handelslande saam met China en kan deur sy grootte toegewings van sy handelsvennote afdwing.
“Die nuwe Nafta-ooreenkoms neem ons terug na Trump se verkiesingsbeloftes en dis duidelik dat dit vir hom ’n voorrangsaak is om dié ooreenkomste te sluit.”
Trump het Nafta, wat Mexiko, Kanada en Amerika in ’n vryhandelsverdrag verbind, al herhaaldelik die skuld gegee vir werksverliese in Amerika.
Nafta is in 1993 deur mnr. Bill Clinton onderteken en is sedert 1994 van krag. Die doelwit was om handelsversperrings tussen die drie lande te verwyder.
‘AMERIKA EERSTE’
’n Nuwe Noord-Amerikaanse handelsverdrag is op 30 September net voor middernag beklink. Dit staan nou bekend as die VSA-Mexiko-Kanada-ooreenkoms (USMCA), en ontleders sê dis nie om dowe neute dat Amerika se naam eerste staan nie.
“Die verwysing na ‘NoordAmerika’ in die vorige ooreenkoms het nie die naam ingesluit van die grootste nasie wat deel daarvan is nie en het dit laat klink asof Amerika ingesluk is deur ’n groter entiteit. Met USMCA is dit heel duidelik watter land eerste kom,” sê prof. Tyler Cowen, rubriekskrywer by Bloomberg ,in ’n meningsartikel.
Ingevolge die nuwe ooreenkoms moes boere in Mexiko en Kanada sekere toegewings maak. Kanadese melkboere moes byvoorbeeld hul binnelandse mark oopstel sodat Amerika groter toegang tot dié winsgewende mark kry, terwyl Mexiko sy vergelding teen Amerikaanse landbouprodukte, soos varkvleis en kaas, laat vaar het in ruil vir tariefvrye motorhandel.
Bloomberg berig Amerikaanse boere en landbou-organisasies het die ooreenkoms verwelkom, aangesien die vraag uit Mexiko en Kanada na hul produkte sedert Nafta in werking gestel is, deurslaggewend vir hul bedryf geword het.
Ontstoke Kanadese melkboere kla egter dat die regering ’n belofte aan hulle verbreek het dat hy nie ’n ooreenkoms sou sluit wat hulle benadeel nie. Die nuwe ooreenkoms sal waarskynlik ongunstige politieke gevolge vir die Kanadese president, mnr. Justin Trudeau, hê.
TOEGEWINGS
Hartzenberg wys daarop dat Trump sy visier op sekere toegewings deur individuele lande stel en dit kry – ’n baie ander benadering as die multilaterale aanslag wat tot dusver gegeld het.
Sy siening dat Amerika “verloor” kragtens bestaande internasionale handelsooreenkomste is een van sy sterkste ideologiese standpunte en Suid-Afrika het reeds aan die kortste ent getrek toe Trump op 8 Maart ’n proklamasie onderteken het waarvolgens ’n ad valorem-heffing van 10% op die invoer van aluminium ingestel is en van 25% op die invoer van staal. Dié maatreëls is volgens Trump ter wille van “nasionale veiligheid” ingestel om Amerikaanse produsente van staal en aluminium te beskerm.
Hoewel verskeie lande van dié belasting vrygestel is, is Suid-Afrika nie een van hulle nie en plaaslike staal- en aluminiumvervaardigers word swaar getref.
In antwoord op ’n vraag of Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerders ook bekommerd moet wees oor hul mark in Amerika, sê Hartzenberg daar is beslis ’n kans dat Amerika, soos met staal en aluminium, eensydig die toegewings wat ingevolge die Agoa-handelsooreenkoms toegestaan word, sal skrap.
WATVANAGOA?
Kragtens Agoa (die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika) kry Afrikalande gunstige uitvoervoorwaardes na Amerika en plaaslike uitvoerders van sitrus, neute en avokado’s trek groot voordeel.
“Ons het sterk diplomatieke onderhandelinge met Amerika oor die staaltariewe gehad en dit het geen impak op die strategiese beleidsverandering gehad nie.”
Sy sê daar is geen nuus oor planne vir tariewe op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer na Amerika nie, maar sulke planne word nie vooraf aangekondig nie.
“Die situasie (met ingevoerde produkte na Amerika) word waarskynlik voortdurend gemonitor, gedagtig aan die lyste van Chinese goedere wat voortaan belas sou word, wat blitsvinnig van nêrens af verskyn het.”
Die aspek wat Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerders moet onthou, is dat Agoa nie ’n vryhandelooreenkoms is nie, dis ’n toegewing en toegewings kan enige tyd eensydig opgeskort word, waarsku Hartzenberg.