Besproeiingspionier: Karoo lewer eerste Graan SA-finalis op!
In ’n wêreld wat bekend is om wolskape en beeste, het mnr. Louis Wilken en sy seuns ’n besproeiingsoase gevestig. Met ’n winsgewende benadering tot mielies en aartappels is hul boerdery die eerste Oos-Kaapse finalis in Graan SA se Graanboer van die Jaar-k
As jy ’n Noord-Kapenaar in die Oos-Kaapse Karoo verplant, word grense verskuif. Mnr. Louis Wilken het eenvoudig gewasse waaraan hy in ’n totaal ander streek gewoond was, met slim watergebruik en grondbewaring s praktyke laat werk opsy plaas Juries baken naby Hofmeyr.
Dié besproeiing s pionier bereken sy wins syfers vir mielie sen aartappels eerder per kubieke meter besproeiingswater a sper hektaar. “Water is ons grootste beperkende faktor. Ons kies gevolglik die winsgewendste gewas per kubieke meter water wat vir besproeiing in die droë Karoo aangewend word.”
Wilken, wat saam met sy twee seuns, Jaco en Louis jr., ’n besproeiingsoase in die middel van die Karoo gevestig het danksy die na- bygeleë Oranje-Visriviertonnel, verbou ook lusern, uie en pampoene, en hou Bonsmaras as veefaktor aan.
Sy boerderyloopbaan het klein begin nadat hy naby Douglas in die Noord-Kaap as polisieman op ’n kleinhoewe begin het om groentesaad vir Starke Ayres te produseer. Danksy die goeie wins per hektaar kon hy uitbrei. Nadat geen grond in sy omgewing beskikbaar was nie, het ’n goeie geleentheid op ’n veeplaas naby Hofmeyr in die OosKaap gewink.
Toe Wilken in 2004 op die plaas begin het, was besproeiing s krane nie vrylik beskikbaar by die nabygeleë koöperasies nie omdat besproeiing s boerdery nog’ n vreemde verskynsel was.
Vandag spog die Wilkens met 19 spilpunte op 900 ha eie grond en 250 ha huurgrond onder besproeiing. Hoewel besproeiings-
boerdery nie meer ’n nuutjie is nie, neem Wilken steeds die voortou met ’n volskaalse kommersiële mielie- en aartappelboerdery.
Volgens Wilken het die boerdery aansienlik gegroei sedert sy seuns daarby aangesluit het. “’n Plaasbestuurder het nie noodwendig dieselfde waardes as jou eie familie nie.”
Die plaas se omset het die afgelope ses tot sewe jaar met gemiddeld sowat 30% per jaar toegeneem, hoofsaaklik danksy grond wat bygekoop is, en doeltreffende bestuur.
Jaco bestuur die kunsmis- en saadbestellings en beplan die toediening daarvan, en Louis jr. staan aan die stuur van die plantproses, die planters, grondbewerking, die besproeiing en spilpunte. Die seuns het ook hul eie vervoeronderneming om vervoerkoste te verlaag en ’n ekstra inkomste te verdien.
“Mielies bly die hoofvertakking. Graan het ons gebring waar ons vandag is.”
Hul aartappelboerdery bepaal egter waar wat op die plaas geplant word, aangesien dit tans die winsgewendste gewas per kubieke meter water is. Hulle kweek aartappelmoere vir die GWK-aartappelpoel waaraan hulle behoort en lewer verwerkingsaartappels aan die McCains-skyfiefabriek in Delmas. Hulle verkoop ook aartappels op varsproduktemarkte (Johannesburg, Durban, Port Elizabeth, Oos-Londen en Kaapstad).
Hul gemiddelde aartappelopbrengs is van 60 ton tot 80 ton per hektaar. Die Lanorma-kultivar word op die grootste gebied geplant, en die nuwe Taisiya-kultivar maak hulle ook opgewonde.
Die vereiste vir die aanplant van aartappelmoere is egter dat dit net elke vyf jaar in dieselfde grond geplant kan word, wat beteken slegs 20% van die grond kan vir aartappels gebruik word.
Hulle plant ook die afgelope twee jaar uie en pampoen aan, wat nog 10% van die grond opneem. Lusern vorm ook deel van hul wisselboustelsel. “Lusern het ’n diep penwortelstelsel. Omdat die mielies en koring ’n bywortelstelsel het, kry ons voordeel uit die uitgeloogde voedingstowwe. Dit bring ’n ekstra inkomste in en help met die bestryding van onkruid by die enkelblaargewasse.”
Hulle kry tans die Safex-prys vir mielies, aangesien hulle lewer aan ’n melkery nagenoeg 10 km van hulle af. “Die beteken die mielies bly mededingend, en daar is ook minder risiko’s.”
Hulle verkoop en verpak van die beskadigde aartappels in netplastiek en verkoop dit eerder teen laer, mededingende pryse op omliggende dorpe as om dit weg te gooi. Die deursigtige sakkies laat die kopers toe om die aartappels te sien. Die Bonsmarakudde word aangehou as deel van die wisselboustelsel. Diere word aan die slagmark gelewer. Die kudde roteer tussen die mielielande in die sowat ses maande wanneer die veld droog is.
“Buiten dat hulle die mieliereste bewei, dien die mis as bykomende bemesting.”
Van die mieliereste word vir droë tye gebaal. Net voor planttyd word die mieliereste deur ’n vlak bewerking in die grond ingewerk. “Ons werk dit 100 mm tot 150 mm diep in. Met besproeiing is die grond geneig om vas te slaan. Jy wil dus nie die materiaal té diep inwerk nie, maar jy wil ’n behoorlike saadbedding hê om in te plant.”
Uit ervaring het hulle al geleer dat geenbewerking nie goed saam met besproeiing werk nie, maar die doel is steeds om humus in die grond in te werk en om grondorganismes te voed.
Een van die lesse wat Wilken in die Karoo geleer het, is dat dit nie werk om mielies en koring opeenvolgend binne ’n jaar te plant soos wat hy in die Noord-Kaap gedoen het nie.
“Die hitte-eenhede hier is min. Die ryp het ons begin vang, wat beteken ons moes
haastiger plant. Dit het daartoe gelei dat ons grondbewerking afgeskeep het. Die grasse het begin groei en ons het gesukkel om hulle dood te kry.”
Raaigras het mettertyd die oeste laat daal, en weens die swakker koringinkomste moes hulle dié gewas laat vaar. Veeboere in die omgewing plant ook raaigras, wat maklik in waterkanale versprei. “Dit maak dit moeilik om dit te bestry.”
Hy sê hulle sal dit oorweeg om weer koring te plant as die prys reg is. Hulle wil egter ’n vyfjaarstelsel inbring om te kyk of hulle die raaigras in daardie tyd kan beveg.
“Ons wil kyk of ons die raaigras natuurlik in toom kan hou deur wisselbou. Deur nou mielies te plant, hoef ons nie werklik geld aan chemiese middels te bestee nie.”
Wilken sê hy het ervaar dat daar in die Noord-Kaap nie werklik ’n verskil is tussen die opbrengs van mielies wat in November geplant is en mielies wat in Desember geplant is nie. In die Oos-Kaap is daar egter ’n verskil van ongeveer 3 ton per hektaar weens die verlies aan hitte-eenhede.
Nou het hy ’n ekstra maand se hitte-eenhede vir die mielies, wat ’n reuseverskil maak in sy mielie-inkomste. “Om maksimaal te produseer, moet die gewas op die regte tyd geplant word. As jy verkeerd plant, sukkel jy met ontkieming en onkruid.”
Die enigste “werklike plaag” is stronkboorders, maar die Wilkens spuit voorkomend en volg die regte plantprotokol met ’n aangeplante toevlugsgebied.
Een voordeel van die minder hitte-eenhede is dat hulle nie werklik probleme met swamsiektes het nie. “Die wisselbou en die inwerk van materiaal in die grond help ook dat ons nie vrotpootjie en fusarium kry nie. Daarby rus die grond ses maande lank,” sê Wilken.
Die Wilkens oorweeg dekgewasse om die grondbiologie te stimuleer, spesifiek gewasse wat voordelig vir weiding kan wees.
“Ek is net bekommerd oor die toekoms, want as jy na wins per kubieke meter water kyk, gaan mielies uit die bus val.” Hy sê egter die genetiese vordering ten opsigte van opbrengs kan ’n verskil maak. Die boerdery behaal tans ’n opbrengs van 14-16 ton per hektaar.
Pioneer se mieliebaster Phb 31D22BR vaar goed, en hulle ondersoek ook ’n nuwe baster van dié maatskappy.
Waterbeperkings en die koste van elektrisiteit sal in die toekoms bepaal watter gewasse aangeplant word.
“Die mielie-afdeling kan steeds volhoubaar bly omdat groot afsetpunte, soos melkerye, hoender- en varkboerderye, naby ons geleë is en produksie in die omgewing steeds toeneem. Baie van die mielies uit die noorde gaan verby ons (na ander plekke toe). Ek meen dus ons sal nooit genoeg mielies kan plant nie.”
VERNUFTIGE GRONDBESTUUR
Die grond se klei-inhoud is 20-30%. Die grond is taamlik alkalies, en fosfaat is ’n probleem. “Ons het nie die maklikste grond nie. Weens die hoë pH is die voedingstowwe nie maklik opneembaar nie. Daarby is die grond vlak en slaan vas.”
Volgens Wilken het hulle al uit ervaring geleer om organiese materiaal te gebruik om die probleem te oorbrug saam met deklaagbewerking. Hulle dien ekstra gips en swael toe as deel van hul kunsmisprogram.
Hy sê egter die voordeel van die vlak grond, wat gemiddeld 500 mm diep is, is dat voedingstowwe nie maklik uitloog nie. Dit dra ook tot vogbewaring by.
Om volhoubaarheid te verseker, hou Wilken noukeurig boek van elke aspek van die planttyd. “Daarmee kan jy die regte besluite neem, want só leer jy jou gebied en klimaat ken, wat jou reëls vir planttyd bepaal. Dit is een van die belangrike lesse wat ons uit dubbele bewerking geleer het.”
Wilken is ’n groot werkverskaffer in die Hofmeyr-omgewing. Werkers kom van so ver as Molteno, Tarkastad en Steynsburg. Wilken wil sy plantskedule só beplan dat hy werkers heeljaar kan besig hou.
“My werkers is my grootste bate, en ek moet na hulle kyk. Hier is nie ander plase met dieselfde werkslading nie. ’n Veeplaas gee vir minder as 10 mense werk. Elke mens wat hier werk, kan sewe tot tien mense onderhou.”
Hoewel Wilken baie belê het in meganisering vir die verpakking van aartappels, verskaf hy steeds werk aan dieselfde aantal mense. “Omdat ons produktiewer boer, is die tonnemaat nou meer. Ons kan dus dieselfde aantal mense aanstel.”
BOER VIR WINS EN VOLHOUBAARHEID
Wilken se mikpunt om volhoubaarheid te verseker, is om te alle tye winsgewend te boer. “Uitgawes styg vinniger as inkomste. Jy moet altyd maniere kry om goedkoper te produseer.”
Deur die doeltreffendste tegnologie, werktuie en gewasse kan ’n mens elke aspek van die boerdery volgens ’n siklus herevalueer.
“Jy heroorweeg in ’n sirkel waar jy by dieselfde punt begin en eindig. Jy kyk na jou spilpunt, spuitpakket, grondbewerking, plante, kultivars, saad en kunsmis. Wanneer al die boksies afgemerk is, begin jy weer.
“Al kry jy vir R20 ’n sakkie aartappels, moet jy steeds winsgewend kan boer. Dit is goed as die prys hoër kan wees, maar ek moet winsgewend wees teen laer pryse. Daarby moet jy jou grond opbou sodat dit saam met jou groei. Dieselfde geld jou werkers.”
Wilken is besig om die aanplantings onder besproeiing uit te brei. “Hoe meer grond ek het, hoe meer opsies met wisselbou bestaan.”
Om die koste van elektrisiteit te verlaag, het hulle onder meer die drukreguleerders se druk verlaag en Delta-wisselspoedpompaansitters aangeskaf. Hulle kon danksy dié veranderinge hul elektrisiteitskoste met 30% verlaag. Hul kragrekening het dus dieselfde gebly die afgelope paar jaar, ondanks prysstygings.
Omdat die Wilkens se plaas aan die einde van die toevoerkanaal geleë is, het hulle ook ’n selfoontoepassing laat ontwerp wat seker maak dat alle waterverbruik hoër op in die kanaal gemeet word.
Sedert Wilken op die plaas aangekom het, het hy baie aan infrastruktuur bestee. Omdat die boerdery nie naby enige groot aartappelverpakkers was nie, het hy ook onder meer ’n verpakkingskuur en ’n koelkamer opgerig.