VSA wynreus belê groot in SA
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het ’n goeie toekoms waarin groei verwag word. Dís hoekom Jackson Family Wines van Amerika aanhou om in Suid-Afrika te belê.
In 2013 het Jackson Family Wines van Amerika druiwe in Suid-Afrika begin koop om ’n Chardonnay van topgehalte te maak. Skaars ’n jaar later het hy, in vennootskap met mnr. Anthony Beck, eienaar van Graham Beck Wyne, ’n wynplaas – Fijnbosch – in die Banhoekvallei by Stellenbosch gekoop. “Nou maak ons al vier jaar lank hier wyn. Ons is besig om Capensis (die handelsmerk) op die mark te vestig. Net verlede week was ons hier om ondersoek in te stel na die bou van ’n nuwe kelder,” het mnr. Rick Tigner, uitvoerende hoof en voorsitter van Jackson Family Wines, op die Cape Wine-handelskou se openingseminaar gesê.
Capensis is ’n klein handelsmerk, maar verkoop teen ’n groot prys. Om presies te wees, teen R900 per bottel in SuidAfrika en $85 (sowat R100) per bottel in Amerika.
Vergesog? Glad nie, reken Tigner. Die maatskappy het meer as 40 kelders wat elkeen met sy eie druiweverkrygings- en vateprogram spog.
“Ons werk in ses lande, en oral is ons geriewe van wêreldgehalte. Dit is wat ons nou na Suid-Afrika toe ook bring.
“Ons wil hier belê omdat ons meen daar is potensiaal vir langtermyngroei. Ons het die afgelope 30 jaar ons internasionale teenwoordigheid probeer vergroot, en Suid-Afrika se wêreldklas-wynbedryf het ons hierheen gelok. Die Suid-Afrikaanse bedryf het ’n ongelooflike verlede, maar ek is seker die
toekoms gaan selfs beter wees,” was
sy boodskap aan die wynbedryf.
Jackson Family Wines is bekend om sterk handelsmerke. Hy maak onder meer Kendall-Jackson Vintage Reserve Chardonnay, die afgelope 27 jaar al die topverkoper-Chardonnay in Amerika. Om waarde te ontsluit, was die maatskappy se visie sedert mnr. Jess Jackson dit in 1974 gestig het. In 1982 het sy eerste handelsmerk (Kendall-Jackson) die lig gesien.
Later het Jackson ook in Chili en Santa Barbara in die wynbedryf belê. Teen 1994 het beleggings in Italië en in 2000 in Australië gevolg. Ná die Suid-Afrikaanse aankoop het hy nog plase in in die Sonomavallei in Kalifornië en in Oregon in Amerika gekoop.
Tigner sê hy word dikwels oor hul strategie uitgevra, en volgens hom is dit op ’n paar vaste beginsels gebou.
KYK NA DIE GROND
“Jess het in 1974 begin boer, en hy het ’n goeie begrip gehad van hoe ’n mens grond en handelsmerke na die mark toe neem. Hy het al in 1991 gepraat oor premiumisation en oor wat hy wil doen om die gemiddelde wynpryse te verhoog. Volhoubaarheid was een van die belangrikste dinge vir Jess. Hy’t besef as jy na die grond kyk, sal die grond na jou kyk. Vandag nog is ons grond ons gids.”
Met meer as 16 100 ha grond, waarvan byna 5 700 ha onder wingerd is, is grond beslis een van die maatskappy se belangrikste bates.
Byna ál sy wingerde is in kusstreke geleë, en heelwat daarvan lê taamlik hoog bo seevlak (Fijnbosch is sowat 640 m bo seevlak).
Die maatskappy konsentreer op edelkultivars, soos Chardonnay, Pinot noir, Cabernet Sauvignon en Sauvignon blanc. Hy steur hom nie aan modegiere nie.
“Ons is ’n grondgebaseerde onderneming, daarom werk ons met wat ons in die grond staangemaak het. Ons is nie gepla oor die volgende cool kultivar wat net vir ’n rukkie in die mode gaan wees nie.
“Ons kyk na die wêreld deur die lens van klassieke kultivars. Elke wingerdperseel is gekies vir die unieke karakter wat tot uitsonderlike wyne lei. Ons vertoon die terroir en genuanseerde persoonlikhede van die druiwe . . . Een van die indrukwekkendste dinge van Suid-Afrika is die skoonheid, en die feit dat julle wonderlike wyne van wonderlike wingerde maak.” DINK MOOI OOR HANDELSMERKE
Al het die maatskappy meer as 50 wynhandelsmerke, kan Tigner nie genoeg beklemtoon dat Jackson Family Wines hom eerder in die wingerdbedryf as in die handelsmerkbesigheid sien nie.
“Vir ons mededingers gaan dit oor handelsmerke. Ek sê graag hulle verkoop die sizzle, en ons die steak! Dis vir ons belangriker om in plase te belê as in bemarkingsveldtogte. Ons word nie gedryf deur markaandeel nie. Ons meen markaandeel is die gevolg van ’n goeie plan; dis nie die plan nie.”
Maar vir elkeen van sy handelsmerke het hy ’n sterk identiteit en storie geskep.
“Sommige van ons handelsmerke, soos Capensis, is in die broeikasfase. Ander, soos Vérité, is uiters suksesvol, maar dit het baie tyd gekos. Dis moeilik om handelsmerke en identiteit te bou. Dit verg langlewendheid en volhoubaarheid,” sê Tigner.
In Amerika is daar 125 000 voorraadeenhede, en in sommige deelstate kom meer as 80% van die handelsmerke op die rak van buite Amerika.
“Daar is baie geraas op die mark, daarom moet jy regtig ’n goeie storie hê.”
Slegs ’n paar wynmaatskappye in die wêreld kan hoë volumes wyn (meer as ’n miljoen kiste) teen hoë pryse van die hand sit.
“Ons wil die gesaghebbendste wynmaatskappy ter wêreld wees. Jackson Family Wines se wyne verkoop teen gemiddeld $17/bottel (sowat R244) in die kleinhandel. Ons naaste mededinger is Chateau Saint Michelle teen $11/bottel (sowat R158). My raad aan almal in die bedryf is: Probeer om die hele bedryf na ’n hoër prysvlak te skuif.” KIES KORTPAD NA VERBRUIKERS Een van Jackson se beginsels was om wynpryse jaar ná jaar te laat styg.
Hy het ook daarin geglo om regstreeks aan die verbruiker te bemark. Byna 20% van die wyn – 6,2 miljoen kiste – wat hy in Kalifornië verkoop, word deur die onderneming self versprei.
“Ons het ’n groot proelokaal en sterk e-handelbedrywighede, want ons glo nie daarin om ons lot in ander se hande plaas sodat hulle ons toekoms bepaal nie.”
Tigner sê die inkomste uit die proelokaal en wynklubs is groter as die inkomste uit die Amerikaanse kleinhandelmark.
“Dit is fantasties om ’n besigheid te hê wat regstreeks met klante sake doen. Daar is niks beters as wanneer ’n verbruiker deur jou deur stap, jou wyn proe, by jou wynklub aansluit en dan hul vriende daarvan vertel nie.” DINK LANGTERMYN
Ná Jackson se afsterwe in 2011 het sy vrou, me. Barbara Banke, oorgeneem.
“Sy het oorgeneem sonder dat ons ’n oog geknip het. Sy het die besigheid intiem geken omdat sy van die begin af betrokke was. Dis die wonderlike ding van ’n familiebesigheid – ons denke strek van geslag tot geslag. Ons is hier om te bly en nie net om te oorleef van die een kwartaal se syfers tot die volgende nie.”
Tigner sê dit gaan waarskynlik ’n hele paar jaar duur voor Capensis wins maak.
“Ons het die vermoë en hulpbronne om momentum te behou terwyl ons handelsmerke in verskillende markte bou.” AANDAG AAN DETAIL
Terwyl Capensis een van die maatskappy se klein boetiekhandelsmerke is, is Kendall-Jackson Vintage Reserve Chardonnay weer ’n reuse- en welbekende handelsmerk.
“Hoe werk dit dat ons albei kan produ-
seer? Ons maak al ons wyn op die tradisionele manier, selfs al is dit ’n handelsmerk waarvan ons drie miljoen kiste verkoop. Mense dink ons moet groot tenks of vate hê, maar 95% van Kendall-Jackson Vintage Reserve Chardonnay word in vaatjies gegis en verouder. Dis hoekom ons al die jare nommer een bly. Ons kies nie kortpaaie nie. En as ons nie op daardie groot skaal kortpad vat nie, dink net hoeveel energie sit ons in ons boetiekwyne.”
KEN JOU PLAASLIKE MARK
Tigner vertel nadat die maatskappy die Yangarra-handelsmerk in Australië gevestig het, het hulle uit Amerika probeer uitpluis hoe om Australiese wyn in Amerika te verkoop.
“Ons het gou agtergekom dis nie hoe jy die mark benader nie. Nou sorg ons dat ons eers Australiese wyn in Australië verkoop – dán takel ons die res van die wêreld. Ons volg dieselfde model in Italië en elders.
“Ons plan vir Suid-Afrika is om te ontdek hoe om Suid-Afrikaanse wyn in Suid-Afrika, dan Afrika, dan Europa en dan in Amerika te verkoop. Ja, ons is ’n baie sterk maatskappy in Amerika. Ons het dus ’n goeie idee hoe ons die handelsmerk gaan bekend stel, maar ons gaan nie in Amerika sit en probeer ontsyfer hoe om ’n Suid-Afrikaanse wyn te verkoop nie. Ons gaan weer en weer terugkom en seker maak ons word deel van jul gemeenskap.”
MENSE EERSTE
Jackson Family Wines se pilare is: mense, grond, handelsmerke en vernuwing.
“Om volhoubaar te wees, moet jy maatskaplike verantwoordelikheid aanvaar. Net omdat jy sê jy plaas mense eerste, beteken dit nie noodwendig dis waar nie.”
Baie geld en tyd word bestee om bestuursopleiding aan personeel te gee, personeel opvoedingsprogramme te laat bywoon en goeie voordele te bied. Die afgelope paar jaar toon ’n Amerikaanse opname juis dat dié maatskappy beskou word as een van die beste plekke om by te werk.
Dit is maatskappybeleid om 50% meer as die minimum loon te betaal. Hy voorsien ook gesondheidsorg aan sy werknemers. Elke werknemer kry ook twee dae verlof om aan liefdadigheidsprogramme deel te neem en aan die gemeenskap terug te gee. Die JFW Cares-stigting het ’n bankrekening waarin elkeen van die 1 700 werknemers geld kan deponeer om in tye van nood te help. Dié rekening is al gebruik ten bate van slagoffers van die Kaliforniese brande.
Die maatskappy sorg ook dat hy goeie pryse betaal aan boere by wie hulle druiwe koop in ’n poging om druiweboerdery meer lewensvatbaar te maak.
“As jy volhoubaar wil wees, moet jy eerste by die mense begin. As jy vir hulle omgee, sal hulle vir jou omgee,” sê Tigner.
BEWAAR DIE OMGEWING
Jackson Family Wines maak in ’n groot mate op sonkrag staat. Hy is ook twee keer doeltreffender met water as ander kelders in Amerika.
“’n Gemiddelde kelder in Amerika gebruik 34 liter water om ’n liter wyn te maak; ons gebruik net 15 liter. Ons doen alles wat ons kan om verbruik so laag as moontlik te hou. Ons vang reënwater op, herwin en probeer vernuwend wees, soos met ’n masjien wat ons ontwerp het om vate doeltreffender te was. Water is nie gratis nie.”
In Suid-Afrika voer die maatskappy ’n stryd teen indringerplante en doen alles in hul vermoë om water te spaar.
“Ons het ’n hektaar van die plaas as gemeenskapstuin ingerig vir ons werknemers, want ons glo voeding is belangrik. Ons het ook ’n bergfietsroete op die plaas gebou. Dis klein dingetjies, maar dis maniere hoe ons probeer om in die gemeenskap te belê en terug te gee.”
’n Klein boekie is gepubliseer waarin die maatskappy se omgewingsdoelwitte, soos die vermindering van kweekhuisgasse, water- en elektrisiteitsgebruik. uiteengesit word.
“Almal moet bewus wees en ons help om heeltyd die regte ding te doen.”
VERNUWE, VERNUWE, VERNUWE
Vernuwing is een van die maatskappypilare. Daar word voortdurend na maniere gesoek om doeltreffender te boer en wyn te maak.
Een van sy projekte is om wynverliese (hetsy in die vervoerproses, tydens bottelering of tydens veroudering) te beperk.
“Ons verloor sowat 4% van ons produksie deur vervoer en humiditeit in vate. Ons pars sowat 100 000 ton druiwe, en op sommige plase verloor ons 5% tot 6%. As ons net 1% kan red, kan ons ’n ekstra 65 000 kiste wyn bemark, wat beteken ons hoef minder duur grond te koop.”
Die maatskappy beywer hom ook vir akkurater oesskattings deur middel van voorspellende algoritmes, hommeltuie (in die lug en op die grond) en kameras. Dit sal onder meer die manier waarop hy wyn of druiwe aankoop, verander.
Ander vernuwingsprojekte sluit in die bewaring en hergebruik van water, die verkleining van sy koolstofspoor en die verbetering van grondgesondheid sodat hy sy wingerde se lewensduur kan verleng.
‘Ons mededingers verkoop die sizzle, en ons die steak! Ons word nie gedryf deur markaandeel nie, maar ons glo markaandeel is die resultaat van ’n goeie plan; dis nie die plan nie.’